Die lewe het al sy goeie en slegte kant vir aktrise QUANITA ADAMS gewys. Daar was opdraandes en afdraandes. Foute en oorwinnings. Maar dit alles het haar op vele maniere gebrei en verander.
Iemand wat my lewe handomkeer kom verander het, is my man Brian. Op papier maak ons glad nie sin nie. Verskil soos dag en nag. Hy is jonk, wit, ’n Amerikaner van Florida af, het ’n doktorsgraad, slim met ekonomie …
En tog het hy hierdie vrou se hart kom sag maak. Voor ons ontmoet het, was ek nogal ’n hardekwas. Die rede was ’n tien jaar lange verhouding wat baie sleg vir my menswees was. Dit het my broos en op my hoede gemaak.
Ná die eerste ontbyt saam by ’n restaurant was die koeël deur die kerk …
Ek wou nog die beursie uithaal, toe dring hy daarop aan om te betaal. Hierdie eenvoudige gebaar was so verrassend anders as waaraan ek gewoond geraak het.
Wie sou ooit kon dink daar is iemand wat vir ’n slag vir my wou sorg? ’n Persoon wat sê: “Shame, jy dra so swaar aan jou laste. Sit ’n bietjie neer. Laat ek jou help.”
Vir lank was ek aan die stuur van my lewe, en toe kom Brian en sê: “Skuif ’n bietjie op, niggie, laat ek bestuur.”
Dis asof hy instinktief geweet het wat Quanita nodig het, is “ons”.
Uit my vorige verhouding is daar darem ook waardevolle lesse geleer …
Soos dat ’n mens nooit die leemte in ’n ander persoon kan vul nie.
Dis soos ’n kar met ’n leë tenk wat langs die pad staan. Dit gaan nie help om jou eie tenk, wat self op reserwe is, leeg te tap net om die ander motor aan die gang te kry nie. Dan staan al twee.
Die les is: wanneer instink die eerste keer waarsku “dis tyd om te loop”, is dit presies wat gedoen moet word.
’n Groot spyt in die lewe is dat ek vir te lank in ’n verhouding wat aftakel, rondgehang het met die hoop dat dit sou werk.
Brian het my in baie opsigte in die liefde kom red.
Ouerskap het my hele lewe omgedolwe – op die mooiste, maar ook mees uitdagende maniere …
Ma-wees is uitdagend, want ’n mens lewe naderhand van ’n dieet van jou eie woorde. Jy sluk hulle in – daagliks.
Vanmôre nog sal ek spog dat ons baba so mooi deurslaap. Vanaand sluk ek daardie woorde een vir een, want sy word elke uur wakker!
Moederskap het geleer dat ek absoluut niks weet nie.
Partymaal skop instink vanself in. Ander kere voel ’n mens heeltemal magteloos oor hoe om hierdie klein, huilende lyfie te troos.
Die tipe ma wat ek graag wil wees, is iemand wat luister, wat regverdig is en wat waardes oordra soos vriendelikheid, eerlikheid en die vermoë om teen onreg op te staan.
Nes ek self kleintyd geleer is.