Vir jare lank het JOHAN LATEN geswyg oor die vlae depressie wat hom elke nou en dan van binne af versmoor het. Al dra hy steeds die donkerte in hom, het hy geleer om voluit daarmee saam te leef.
Voordat ek uiteindelik besef het dat ’n mens regtig ’n vol lewe ondanks depressie kan lei, het ek my bes probeer om dit te ignoreer.
Om te keer dat my gedagtes in depressie se rigting dwaal, ploeg ek alles in my loopbaan as onderwyser in.
My dae het bestaan uit werk, werk en werk. Wanneer dit begin voel het of dinge weer soos destyds in die weermag gaan ontspoor, het ek my vir terapie aangemeld. En later ook medikasie begin gebruik.
’n Bekommernis oor wat die mense sou sê as hulle moes weet, was steeds daar. As dit nie vir my vrou was nie, het ek dalk vandag nog bly swyg.
“Vertel my daarvan,” het Annette gesê. En ek het. Eers vinnig en kort. Later langer en intens.
In die veilige omgewing van ons verhouding, het sy my geleer om daaroor te praat.
Stelselmatig, het alles vir my makliker geword.
Hoe meer ek met Annette oor my geveg met depressie kon praat, hoe makliker het dit geraak. Die praat, en die depressie.
Om stil te bly was die grootste fout wat ek gemaak het.
Die mense om jou kan sien daar is fout, maar as jy niks sê nie, kan niemand jou help nie.
Ek moes leer om weer myself te vertrou. Depressie is regtig net ’n siekte, soos enige ander een. En dit kan behandel word. Gelukkig word daar deesdae al hoe meer oor geestesgesondheid gepraat – dit help mense om die siekte te verstaan.
Baie gelowiges sukkel veral daarmee om te erken dat hulle met depressie sukkel. Dit het egter niks met geloof te make nie.
Dit voel dalk soms asof die Here jou verlaat het, maar dit is beslis nie die geval nie.
Uit my eie ondervinding, weet ek dat Hy elke keer net op die regte tyd iemand gestuur het om my te help.
Hy los my nie om die siekte op my eie te probeer beveg nie.
Boonop was my vrese vir veroordeling heeltemal ongegrond.
Sedert ek oopgemaak het oor my stryd met depressie, het ek net ondersteuning en begrip gekry.
Wanneer ander mense jou gedrag verstaan, oordeel hulle nie sommer nie.
Behalwe om verantwoordelikheid vir my siekte te neem, moet ek ook sorg dat die mense om my weet hoe om my by te staan.
Dis so maklik om jouself te bejammer. Of om depressie as ’n verskoning te gebruik om nie voluit te lewe nie.
Net soos wat mense in rolstoele tennis speel en fietsry, kan jy jou depressie vat en léwe.
Lag. Gelukkig wees.
In plaas daarvan om dit weg te steek, het ek sedertdien vir my ’n baie meer doeltreffende selfhelpgereedskapkis bymekaargesit om teen depressie te veg.
Die eerste ding is mense. Iemand met wie jy kan gesels. Sommer maar net praat. Nie noodwendig ’n terapeut nie.
Beweging en voeding is ook van onskatbare waarde. Jy hoef nie “lus” te wees vir oefening vir dit om te werk nie – dit help in elk geval.
Boonop is daardie goedvoelhormone wat deur jou lyf spoel nadat jy ’n ligte lagie sweet ontwikkel het verniet! Gesonde kos doen ook wondere.
Probeer om besig te bly met ander aktiwiteite waarvan jy hou. Handewerk is kos vir die siel. Maak iets. Plak, knip, skaaf, of grawe in die tuin.
Daar is tye wanneer depressie in “remissie” gaan, en jy sommer baie beter voel. Dit is juis daardie tye wat jy moet volhou met jou goeie gewoontes.
Só bou jy ’n buffer vir die volgende keer wanneer depressie kop uitsteek.