Beplanning is in ANEL WASSERFALL se bloed. As produksiebestuurder en besprekingsagent, en boonop getroud met die sanger Dewald Wasserfall, verstaan sy die bedryf goed. Máár toe tref die Covid-19-pandemie en laat die vermaaklikheidsbedryf so te sê werkloos.
Ons ingesteldheid oor geld en die idee dat die inperking net ’n kort rukkie sou duur, het gekeer dat ons paniekerig oor ons inkomste geraak het. Dewald was ook baie rustig, en dit het my gehelp om kalm te bly. Dis mos amper verby. Toe tref dit ons.
Drie weke word vyf. Gaan dit nog langer aanhou? Wat aanvanklik soos ’n vakansie gevoel het, het senutergend raak. Wat as dit maande lank só aanhou?
Dit het toe nie beter geword nie. Soos wat die verskillende bedrywe kon begin oopmaak, het die kunste gesluit gebly. Byeenkomste is beperk en die een ná die ander bespreking is gekanselleer. Natuurlik.
Toe begin groot feeste hulle datums skuif. Later is dit afgestel.
Al het ek dit verwag, was die wind uit my seile toe ek hoor: “Jammer, ons het jou nie meer nodig nie.”
As daar geen produksies is nie, het ’n mens beslis nie ’n produksiebestuurder nodig nie. Ek verstaan dit.
Kunstenaars word ook nie meer bespreek nie, so agentekommissie was ook daarmee heen.
Enige huishouding wat deur so ’n trauma gaan, sal sukkel. Ons het ook. Die aanvanklike lekker familietyd, het ook ’n stresvolle werk geword.
Dit het toe ook nie by vyf weke gebly nie. Nie vir kunstenaars nie. Binne ’n paar dae het ons lewe ingrypend verander.
Ek en Dewald spaar altyd vir ’n jaar lank om een keer per jaar oorsee te kan gaan – dit sou beslis nie kon gebeur nie. Dit was die maklike deel.
Vier jaar gelede het ons ons eerste huis saam gekoop. Dit was so ’n groot mylpaal. Om ’n huis te besit, voel veilig. Dis jou plek. Ongelukkig kon ons dit nie meer bekostig nie, en moes die huis verkoop.
Dewald moes ook sy meenthuis wat hy vir ’n inkomste verhuur het, verkoop. So ná ons groot stap vorentoe, is ons weer terug in ’n huurhuis. Maar dis ook nie die einde van die wêreld nie.
Min of meer in dieselfde tyd het ons gehoor dat ons driejarige seuntjie se skool nie weer gaan oopmaak nie. Nooit weer nie. Wanneer skole wel sou oopmaak, moes ons ’n ander plan in plek hê. Opsigself ook nie so erg nie, maar die uitdagings het begin ophoop …
Die grootste skok was toe ’n wonderwerk gebeur waarvoor ons vir soveel jare gebid het. Ek was swanger.
Regtig? Nou? Vir die eerste paar weke was ek so senuweeagtig en bekommerd dat ek glad nie opgewonde was nie.
Hoe op aarde sou ons alles baasraak? Ons sit sonder ’n inkomste, vir wie weet hoe lank nog.
Ons het ons huis verloor, en nou moes ons boonop nog regmaak vir ’n nuwe baba. Ek en Dewald het op ons knieë gegaan en geweet dat net die Here ons hierdeur kan dra.
Dit is beslis iets wat die pandemie oor en oor vir ons bevestig het. Ons dien ’n groot Here. As ons nie aan Hom vashou nie, sal ons nie hierdeur kom nie.
Ek het ook drie ander groot lesse gedurende die pandemie geleer. Die eerste een is dat ek te ongeduldig is. Alles hoef nie dadelik opgetel en weggepak of skoongemaak te word nie. Ek het ook geleer dat dit soms nodig is om hulp te vra. Vroeër sou ek self planne gemaak het, maar nou was dit nie meer altyd moontlik nie.
Die laaste ding wat ek geleer het, was deernis. Ons was almal in dieselfde pandemie, maar het op verskillende maniere gesukkel. Mense wat kon aanhou werk, was op hulle beurt oor ander dinge bekommerd.
Daar was al heelwat verskillende geld-seisoene in ons lewe, en dit het nie regtig iets aan wie en wat ons is, verander nie. Met min geld is ons gewone en gelukkige mense, en met meer geld is ons steeds gewone en gelukkige mense.
Nie ek of Dewald is bitter oor enigiets nie. Natuurlik droom ons nog oor die toekoms – en ons sal hard werk om dit ’n realiteit te maak.