Ná jare se pogings om swanger te raak, het RAYNO en LYNN VAN VUUREN se oudste seun, Oliver, alle grense van normaal in hulle lewe kom verskuif toe Down–sindroom by hom gediagnoseer is.
My kamera was gereed om elke oomblik van ons 12 weke-ondersoek af te neem. Die afwagting was immers groot. Watter geslag is ons baba? Ons wou dit al lankal weet! Dit was reeds nadat ons vir sowat ses jaar probeer het om swanger te raak.
Die dokter was bekommerd oor die dikte van ons baba se nekvelletjie. Volgens hom is daar ’n een uit 288 moontlikheid dat ons eersteling abnormaal sou wees. Bloedtoetse was die volgende stap.
As die mat onder jou uitgeruk word, leer jy baie vinnig dat alles nie altyd uitwerk soos jy dit beplan of wil hê nie. In dié pynlike tyd word ons geduld en vertroue geleer.
Dieselfde aand was die nuus oor die foon dat die kans vir ’n abnormale kind nou een uit 33 is. Nog ’n toets het gevolg. In my kop was dié kans steeds skraal en die hoop veel groter dat ons baba normaal sou wees.
Die volgende oproep van die dokter was ’n enorme skok! Ek was heeltemal verbouereerd.
My worsteling het aangehou. Vriende se opinies was uiteenlopend. Sommige het my aanbeveel om die swangerskap te laat beëindig. “Jy’t dit nie nodig in jou lewe nie, daar’s nie plek in die wêreld vir hulle nie.”
Oliver was ’n keuse. Ons kon maklik voorgegee het dat ek ’n miskraam gehad het. Mense doen dit. Sulke nuus maak ons stukkend.
Lynn was by die werk toe ek haar die nuus moes meedeel. Ons het nie woorde vir mekaar gehad nie. Daar was dae van trane. Ook lang stiltes. Dit was ’n gevoel van magteloosheid. Dit was so oorweldigend.
Al wat Lynn vir ’n maand gedoen het, was huil en bid. “Hier het ek geleer om net te vertrou, en alles aan die Here oor te gee. Ek kon myself nie as die spesiale persoon sien wat ’n kind met spesiale behoeftes kan grootmaak nie,” het sy gesê.
Ons het mekaar belowe om nooit kwaad te wees indien die ander een ’n aborsie wou laat doen nie. Ek was so bang. Gaan die kind op ’n jong ouderdom sterf? Ek sal die kind heeltyd moet oppas.
Lynn se woorde was dat indien die Here haar kind wou wegvat, dit in Sy hande was en nie in ons s’n nie.
Sy was ongelooflik. Haar kop was reg. Sy het nie ’n saak gehad met wie wat dink nie.
Ons het byna opgehou met werk voor Oliver se geboorte. Navorsing oor terapie en gesprekke met ander ouers het baie tyd in beslag geneem. Bekommernisse het nie opgehou nie. Daar was soveel dinge wat nog verkeerd kon loop. Dit het ons uitgemergel!
En ja, sy grootmaak het geduld gekos. Dit het ure gevat om hom te borsvoed, ure by terapie, ure van baie goed. Só leer jy om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie, en net ’n bietjie te laat gaan.
As gevolg van die tekort aan ondersteuning is die sindroom te veel vir sommige in die samelewing. Meer as 99% van mense beëindig die swangerskap. Mense verstaan nie die sindroom nie. Dit is nié ’n klad op ’n familie se naam nie.
Oliver bring eindelose vreugde. Mense ken amper nie my naam nie, ek is net Oliver se pa. Hy het ’n manier om in mense se harte in te kruip.
Persone met Down se sindroom verander nie net die ouers se lewe nie, maar ook dié van al die mense rondom hulle. Jou perspektief verander ten goede. Ja, daar is enorme uitdagings …
Die grootste uitdaging is mense se opinies. Party mense sal voor ons praat van ’n “mongool” of ’n “Corky” – dit is so vernederend vir ouers. Ander sal sommer praat van “die Downsindroomkind”. Vir my is hy eerstens ’n kind.
Ons gesin se lewe is steeds wonderlik, ons roete lyk net anders.
Oliver is die magneet wat ons gesin keer op keer nader aan mekaar trek. Die lewe is kleurvol danksy hom. Ons seun was nooit ’n fout nie.