Vir Deon en Lizelle Griessel het ’n droom wat baie Suid–Afrikaners koester, waar geword – Lizelle het ’n werksaanbod in Australië gekry. Maar om te emigreer, het hulle uitgevind, is nie altyd net maanskyn en rosegeur nie.
Om die moeilike keuse te maak om te emigreer
Baie mense dink dalk ons het emigreer om uit slegte omstandighede te ontsnap. Allermins. My lewe in Suid- Afrika was perfek – of so na aan perfek as kon kom.
Ek en Deon het albei ’n goeie werk gehad en daar was nie ’n tekort aan geld nie. Soggens het ek sommer werk toe gestap – in Gauteng, ja! My werksplek as embrioloog in reproduktiewe biologie was letterlik stapafstand van ons huis af op die landgoed waar ons gebly het.
Anebelle en Eon was gelukkig in hulle skooltjies. En almal was gesond. Ons het naby aan familie en goeie vriende gebly, en ek het ’n pragtige vetplanttuin gehad.
Om eerlik te wees, emigrasie was nie iets wat ek in my wildste drome oorweeg het nie. Nooit! Ek is ’n familiemens, die jongste van sewe kinders.
So hoekom het jy, wonder mense wanneer hulle my storie hoor. As alles dan lekker en perfek was, vir wat gaan doen jy aansoek vir ’n werk oorsee? Ek het myself daardie vraag al honderd keer gevra.
Dit begin met een klein dingetjie. Jy luister na mense wat praat oor die sinkende skip waarop ons almal is. Jy sien hoe swaar jou man by die werk kry. Hoor hoe graag hy ’n ander geleentheid wil hê. Jy dink aan jou kinders. Is hier nog ’n toekoms vir hulle?
En só word die idee in jou kop al hoe groter.
Emigrasie is dalk die verkeerde keuse vir jou gesin
Ek weet eerlikwaar nie wanneer die verterende verlange ingeskop het nie. Dalk was dit van die begin af daar. As iemand vir ons goed is, verlang ek huis toe. As ek alleen op die trein sit, verlang ek. As ek werk toe gaan, as ek huis toe gaan, as ek gaan slaap.
Die dae sleep verby, en dinge raak nie beter nie. Deon kry nie werk nie, en alles kos geld. Ek sien hoe hard hy probeer om die kinders bedags besig te hou. Parkie toe vat. Speletjies speel. Die woonstel netjies hou.
Hoe is ons dan beter af hier? Hoe sal dit ooit hier beter wees as ons almal so swaarkry? En hoe lank hou ’n mens uit voordat jy handdoek ingooi?
Elke dag het ek met moed en vasberadenheid opgestaan. Werk toe gegaan. Gewerk. Gebid. Soveel mense het so baie moeite en koste aangegaan om ons hier te kry. Die maatskappy het in my belê – ek kan hulle nie net in die steek laat nie.
Skuldgevoelens, gevoelens van mislukking. Ag, dieselfde tipe vrese, net van ’n ander kant af. Hoe gaan ’n mens druipstert terug en sê sorry, dit was nie lekker nie?
Deon het met ander mense begin praat. Gehoor hoe hulle ná dekades steeds verlang, en nou teruggaan. Emigrasie is nie vir almal nie, het ons besluit. En dis beslis nie vir ons nie – nou weet ons dit.
Wanneer jy voel jy het die verkeerde besluit geneem
Natuurlik is ek spyt, maar ek en Deon sou altyd gewonder het of ons regtig die beste lewe vir ons kinders gee as ons nooit probeer het nie. Nou weet ek die beste vir hulle is ’n gelukkige mamma en ’n groot familie waar hulle geliefd en geborge voel.
Ons het heeltemal vrede in ons hart dat ons probeer het. Ek en Deon. Hoekom ons deur dit alles moes gaan, weet ek nie. Maar ons hét daardeur gekom – dit is wat tel. Ons was nie een oomblik sonder die Here se genade nie, selfs al het ons dalk verkeerde besluite geneem.
Moet vir geen oomblik dink ons lewe terug in Suid-Afrika was dadelik weer ’n lied nie. Ons was albei werkloos, huisloos, en ook maar ’n bietjie rigtingloos. Boonop het ons almal tyd nodig gehad om tot verhaal te kom. So iets los jou nie sonder skaafplekke nie.
Ek sal heel moontlik eers oor tien jaar weet wat presies die doel van ons hele ervaring was. Of dalk ook nie. Dit maak nie saak nie. Wat saak maak, is hoe ek alles wat gebeur het, hanteer. Vir ons is dit ’n tweede kans. Min mense kry dit. Ek is opgewonde daaroor en vat alles een dag op ’n slag.