MELISSA VAN BILJON het tydens die Vroue wat glo-retreat vertel dat almal unieke uitdagings het om te trotseer. Kom leer hoe jy jou roeping kan uitleef.
Vind vrede al voel jy bang en onseker
Die Here kom staan by jou en my wat sit met vrees en twyfel en uitdagings en sê: Kom vat. Kom voel. Ek sien jou. Ek hoor jou. Kom. Hê geloof.
Jesus weet wat dit is wat ons gaan usher deur daardie deur na vryheid van vrees en twyfel. Die Here weet dat dit vrede is wat dit gaan doen.
Vrede bring die deurbraak. Die Here weet ons het nodig om dit te hoor: Vrede vir jou.
Vrede is iets waarna ons almal soek. Ons praat so baie van daardie vrede wat die verstand te bowe gaan.
As ek vrede het, gaan ek die besluit maak. As ek vrede het, gaan ek dit sê. Vrede is ʼn sleutel.
Maar, baie van ons dink: Vrede is iets wat ek moet bewerk in my lewe. Ons dink soms dit is alles uiterlik.
Vrede is nie wanneer daar nie oorlog is nie. Dit is nie vrede nie. Ek kan vrede hê wanneer alles om my lyk of dit inmekaar val.
Ons probeer vrede bewerk in ons uiterlike lewe deur oplossings te probeer kry. Ekonomiese oplossings. Politiese oplossings. Oplossings in my verhouding.
Ons dink dat as ek dit net so gaan doen, gaan ons vrede bewaar. Nee.
Ons dink dis ʼn innerlike werk. As ek net goed in my innerlike wêreld in ekwilibrium gaan kry, dan het ons vrede.
Ons dink dat as ek meer mediteer en meer bid, dan gaan ek vrede hê.
Jy gaan ʼn aandeel hê, maar jy gaan dit nie kan bewerk nie. Dit is nie my en jou werk nie.
Vrede is ʼn gawe, sê die Skrif. Dit is ʼn geskenk van die Here af. Hy doen die werk van vrede in my lewe. Ek kan dit net laat groei, want ek het dit ontvang.
Foute en teleurstellings van die verlede laat jou twyfel
Ek verdien vrede nie, dit is soos genade. Dit is ʼn geskenk.
Dit is hoekom Petrus in 1 Petrus 2 bid, en hy sê: Ek bid dat die vrede van Christus in julle sal vermeerder terwyl julle in kennis groei van Jesus Christus.
Petrus bid verder: Ek bid dat julle Hom so sal ken.
Want, hoe meer jy Hom so gaan ken, hoe meer gaan daardie vrede groei in jou. Gaan jy wakker word vir die geskenk daarvan soos Hy dit gee en gee en gee.
Het jy geweet dat die Here ʼn vrygewige God is? Hy is nie stingy nie. Hy wil so graag gee.
Dis ons wat met hande toestaan en vies raak dat ek dit nie kan kry of voel of ervaar nie. Maar ek kry dit nie, want ek het dit nog nie gevat nie.
Waar in jou lewe staan jy agter ʼn geslote deur, as gevolg van omstandighede, stemme of dinge wat nie uitgewerk het in jou lewe nie? ʼn Fout wat jy gemaak het of ʼn teleurstelling wat jy beleef het.
Jy het vandag nodig om Jesus se woorde te hoor: Vrede vir jou, vat dit, ontvang dit. Vat dit.
Jy is nie gemaak om in ʼn geslote vertrek te bly nie.
Ek kan nie in ʼn geslote vertrek die mooiste, beste idees vir ʼn bediening of ʼn besigheid uitdink nie. Dit gaan daar bly.
Ek is gemaak vir meer.
Hoe groei ek dan in hierdie vrede? In geloof? Erken die vrese en twyfel waarmee jy leef.
Twyfel is deel van die gebrokenheid van menswees. Dit was daar van die begin af. Twyfel het verskillende maniere om in ons lewens in te kom.
Wat maak ek as twyfel kom? As daardie stemmetjie van twyfel klop en sê: Het ek regtig die vermoëns, die kapasiteit, het die Here dit regtig vir my gegee? Of is hierdie net uit my eie self uit?
Twyfel kom klop aan die deur en is deel van die gebrokenheid, maar twyfel het nie die hardste stem nie.
Die Here se stem is harder as enige stem.