O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!
(Romeine 11:33)
Ek het nog altyd aan God se grootheid gedink in terme van die skepping. Dit is vir my soos ’n allemintige skilderdoek, wat sy manjifieke grootheid vir ons uitstal. Dink aan die byna skrikwekkende omvang van die heelal wat gemeet word in terme van ligjare. ’n Afstandseenheid wat op sigself ’n mens se kop laat duisel. Deur die eindeloosheid weergalm dit: God, as Skepper, is gróót!
Maar nie nét in die makrokosmos nie. Ook in die “middel”- en mikrokosmos, sien ons sy grootheid. Die middelkosmos verteenwoordig die “gewone”, sigbare aarde.
Ons sien ’n groot God in die rustelose oseane, wat Hy in toom hou met die teuels van die maan. Ons word verruk deur die glinsterende, geurige druppel nektar wat Hy in die kelk van ’n wit lelie skink, deur die kleuredos van ’n troupant en ’n suikerbekkie.
In die mikrokosmos verwonder ’n mens jou aan iets so minuskuul soos ’n nanosekonde, die ontsagwekkende, byna onmeetbare klein skaal waarin lewensbepalende dinge gemeet en bereken word. Chemiese reaksies, rekenaarfunksies, radiogolflengtes en fisiologiese liggaamsprosesse.
Só het ek nog altyd aan sy grootheid gedink. Nou het ek dit egter in ’n berugte gevangenis buite Kaapstad beleef. Ek het ’n groot God sien werk met mense se woede, waagmoed, trane, deernis en pyn. Ek het Hom gesien in herstelde verhoudings, in die onverwagse hoop in ’n vasgekeerde mens se oë. Dít is die werklik onmeetbare dinge. Ek het die omvang van sy liefde beleef: hoër, dieper, wyer, verder, standhoudender, meer uitdagend as wat ons ons kan verbeel. Selfs ligjaar-afmetings skiet hier ver tekort.