“En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie … Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie.”

(Matteus 6:28-29) 

Die lelie is ’n simbool van ontspanning en vrede. Dit produseer ’n olie wat gebruik kan word vir massering en ook as badolie. Min dinge is so terapeuties soos ’n lekker warm bad of ’n goeie massering ná ’n lang dag. Hy sorg vir ons net soos vir die veldgras en die lelies.

Die mens is geneig om hom of haar oor byna alles te bekommer. Hoe gaan ons by vandag se verpligtinge uitkom? Kommer oor finansies, verhoudings, gesondheid, prestasies en veiligheid is roetine. Verder is daar ook kommer oor dinge wat heeltemal buite ons beheer is.

Stres is een van die grootste redes vir ’n verkorte lewe as daar na wetenskaplikes geluister word. Vandag voel moontlik na ’n “blou Maandag” gevul met kommer oor die week met al sy uitdagings. Dit is egter nodig om alles oor te gee en dit in God se almagtige hande te plaas. Hy sal sorg.

Die pragtige lelie is ’n bewys dat ons kan ontspan omdat alles in sy beheer is. Plaas jou hede en jou toekoms in God se hande. Gebruik die lelie as herinnering dat dit noodsaaklik is om ook soms jouself te bederf en doelbewus tyd te maak vir ontspanning.

Jy kan nie ten volle daar wees vir ander as jou eie bottel nie vol is nie. Jy kan nie ander dien as jy nie eerstens na jou eie gesondheid kyk nie. Iemand wie se bottel leeg is, het niks om vir ander te gee nie. Vertrou God en moenie sy grootheid onderskat nie.