LIANIE MAY

Tyd het my wyser en sterker gemaak

Ná jare van sukses in die musiekbedryf is LIANIE MAY bly oor die klim en val – die foute wat sy gemaak het en die lesse wat geleer is. Sy het grootgeword. Sterker, wyser en dankbaar.…

Die saal is stampvol. ’n See van afwagtende gesigte. Toe gebeur dit, enige kunstenaar se nagmerrie. Haar wêreld begin in die rondte tol. Dit voel of die vloer haar gaan insluk. Sy is duiselig en deurmekaar, asof sy in ’n lugleegte hang.

“Jammer, mense. Ek word nie sommer siek nie. My ma het gesonde kinders grootgemaak ...

Ná jare van sukses in die musiekbedryf is LIANIE MAY bly oor die klim en val – die foute wat sy gemaak het en die lesse wat geleer is. Sy het grootgeword. Sterker, wyser en dankbaar.…

Die saal is stampvol. ’n See van afwagtende gesigte. Toe gebeur dit, enige kunstenaar se nagmerrie. Haar wêreld begin in die rondte tol. Dit voel of die vloer haar gaan insluk. Sy is duiselig en deurmekaar, asof sy in ’n lugleegte hang.

“Jammer, mense. Ek word nie sommer siek nie. My ma het gesonde kinders grootgemaak …” probeer Lianie ’n grappie maak om haar verleentheid weg te steek, maar stap uiteindelik onvas van die verhoog af.

Hospitaal toe. Toetse. Die een verkeerde diagnose ná die ander. Uiteindelik stel hulle vas die probleem is erge uitbranding. Die dokter se woorde het Lianie tot diep in haar country-pop-rock-stewels geskok. “Jy is ’n 90-jarige vrou in ’n 36-jarige se lyf.”

Dit was tyd vir briek aandraai. Rus. Weer haarself vind.

Nou, jare later, kyk Lianie terug op ’n pad vol waardevolle lewenslesse wat haar anders na die lewe laat kyk.

“Ek het gedink dit was my einde. Dit het gevoel of al my harde werk eensklaps vernietig was,” onthou sy daardie verskriklike tyd toe sy hard geveg het om haar gesondheid te herwin.

“Terwyl ek so siek was, wou ek partymaal sommer net van die verhoog afstap en wegloop, sonder om ’n woord te sê. Ek het fisiek te sleg gevoel om regop te bly.”

Maar staan het sy bly staan. Deurdrukker. Vasbyter.

Dit was in hierdie tyd dat sy een van die belangrikste lesse in haar lewe geleer het.

“Moet nooit te gemaklik raak met ’n situasie nie, veral nie as dit goed gaan nie. Nie in jou werk, loopbaan, in ’n verhouding of selfs ten opsigte van jou talente nie. Vandag weet ek hoe gevaarlik dit is om enigiets as vanselfsprekend te aanvaar. Môre, oormôre pootjie dit jou.”

Saam met die uitputting moes sy ook veg teen die vrees wat ’n vatplek gekry het.

“Elke keer as ek op die verhoog gestap het, het ek angsbevange gewonder: Wat as dit weer gebeur? My selfvertroue het verdwyn.”

Lianie het ’n kundige gaan spreek wat haar gehelp het om weer haar lewe in perspektief te plaas. Balans te vind. Tyd te maak vir oefen, rus en gesond eet.

Vandag is sy dankbaar oor hierdie moeilike tyd, want dit het haar aangemoedig om die lewe opnuut te waardeer en haar drome met nuwe toewyding aan te gryp.

Tou opgooi is nie deel van haar woordeskat nie. Dit het sy by ma Elma en Dads Niccie geleer.

Haar pa se kankerdood het haar diep geraak. “Ek is deur en deur my pa se kind. Lief vir lag en gesels, grappe maak en mense se siel uittrek. Ek het selfs sy hande en voete geërf; niks aan hulle is fyn nie.”

Sy siekte en haar eie gesondheidskrisis het haar baie bewus gemaak daarvan dat jy nie die gevaartekens wat jou liggaam uitstuur, moet ignoreer nie.

Tyd het haar ook wyser en sterker gemaak.

As Lianie terugkyk, is sy bly oor die klim en val. Die foute wat sy gemaak het en die lesse wat geleer is.

“Dit hou my dankbaar en nederig, en dít is goeie eienskappe om op voort te bou.”

Deel die artikel

Méér artikels

ELIZMA THERON het al groot hoogtes bereik as sangeres, aktrise en model, maar dié ma van twee weet dat haar gesin veel belangriker as roem ...

Dit lyk of geen uitdaging VANES-MARI DU TOIT bang maak nie. Of dit in die raadsaal van ’n korporatiewe maatskappy is of om ’n berg ...

Scroll to Top