Uittreksel uit Maanschijnbaai 1: Jo & Sue deur Chanette Paul

Vier uiteenlopende vroue, elkeen in ’n ander lewensfase, elkeen met haar eie geite en ’n verlede. Maanschijnbaai bied dalk net die uitkoms wat hulle nodig het.

Hoofstuk een: Maandag 13 September 2010

Hy bly te lank stil. Lank genoeg vir haar woorde om soos heliumballonne te begin verlep en halfmas tussen hulle te hang.
“Die betaling? Vandag?” Con skud sy kop pynlik stadig heen en weer. “Ek vrees dis nie moontlik nie, Jo. Om die
waarheid te sê …”
Die ballonne gaan binne oomblikke op ’n dubbeltjieveld land. Dit voorspel sy gesigsuitdrukking en die feit dat hy haar nie in die oë kyk nie.
“Jy druk my nou in ’n blik. Ek wou jou vanaand gesê het, ná my samesprekings vandag. Maar dit lyk asof Abalone’s … die restaurante gaan nie meer gebeur nie.”

Lees meer oor al die intriges wat wag vir die Calitz-vroue.

Kry jou kopie nou by jou naaste boekwinkel of aanlyn: https://loom.ly/5lUEHmA

Die stilte wat volg, sing in haar ore.
“Nie meer gebeur nie,” herhaal sy soos ’n swaap.
Frases soos “onvoorsiene koste”, “verskuilde uitgawes” dwaal op lugstrome rond terwyl hy verduidelik. ’n Voorhamer tussenin: resessie. Alles word geaard in een oorverdowende woord.
“Bankrot?” eggo sy.
“Abalone’s gaan onder likwidasie geplaas word,” bevestig hy.
Iets essensieels in haar los op. Sypel weg in skroeiwarm sand. Trek haar asem saam die dieptes in.
“En die oorbruggingsgeld?”
Nog ’n suisende stilte. Wat reeds ’n antwoord is.
Sy hande styg traag die lug in, sak weer. Nog ’n antwoord sonder woorde. ’n Waarheid sonder harnas.
“Maar dit was … Jy het gesê … En wat van Jeannie se …” Sy kry die woorde nie geknoop nie. Kan die ondenkbare
nie hardop sê nie, dat haar dogter se toekoms met daardie handgebaar daarmee heen is.
“Niemand het jou gedwing nie, Jo.”
Dis waar. Nie om elke sent waarop sy haar hande kon sit, te belê in die beste interieurkonsep vir ’n eksklusiewe restaurantketting wat sy al ooit voorgelê het nie. Maar hy hét gevra. Oorbruggingsgeld. Om kontantvloei te bevorder. Op ’n loom Sondagoggend, ’n maand gelede. ’n Week nadat sy gehoor het haar eerste voorlegging is voorwaardelik aanvaar en hulle wil hê sy moet die finale voorlegging gereed kry.
’n Postkoïtale versoek. Dit was die eerste keer wat hulle liefde gemaak het en dit was baie bevredigend. Veral ná die
jare van selibaat leef.
Nee, niemand het haar gedwing nie. Ook nie om in Con se bed te beland nie. Maar ook het niemand haar gewaarsku dat die belegging, in albei gevalle, dalk riskant is nie.
Hy kantel sy horlosiearm vlugtig en kyk vir die eerste keer na haar. Nie direk in haar oë nie. Net so min of meer
in die koers van haar gesig. “Ek is jammer, Jo.”
“Jammer? My kind se …”
“Jo,” val hy haar in die rede. “Ons sal aan ’n plan dink. Ek belowe. Dit sal net ’n rukkie duur. Alles is nie verlore
nie. Ek en Fyfe het van nou af een vergadering na die ander, maar kom ek neem jou vanaand uit vir ete soos ek in elk geval wou, dan bespreek ons ’n paar opsies rustig. By Blues? So halfagt? Dan kan ons darem die uitsig nog ’n
rukkie geniet.”
Abalone’s is bankrot, maar jy’t nog geld vir Blues? wil sy vra, maar sy knik net. Klou aan die belofte vas. Die sprankie
hoop wat weer opgevlam het.
Sy het Con se vennoot nog nooit in lewende lywe ontmoet nie, maar miskien kan Con en Fyfe Terblanche tog die wa deur die drif sleep. Sy weet Con het baie vertroue in Fyfe se oordeel al is hy net ’n rustende vennoot in die
besigheid.
“Jo?” Con se oë lyk troebel. “Daardie man wat ons gisteraand by die Mall raakgeloop het, die een wat jou so
gekyk het, ken jy hom?”
Jo kyk weg. Die skok toe sy gesien het hoe Jeannie se pa vassteek en haar met onverbloemde aggressie aankyk, ril weer deur haar. Dit was die eerste keer in jare dat sy hom weer gesien het.
Toe Con haar gisteraand na hom uitgevra het, het sy hom as ’n kennis met wie sy ’n uitval gehad het afgemaak, maar haar antwoord het Con klaarblyklik nie tevrede gestel nie.
“Ek het hom jare gelede geken. Ons is nie op goeie voet uitmekaar nie,” is al wat sy kan en wil erken.
“Was julle lovers?”
Jo waag dit om weer na hom te kyk. Jaloesie en besitlikheid spreek uit sy blik. “Laat dit daar, Con. Ons het besluit om nie oor ons onderskeie verledes uit te wei nie, onthou?”
“Ek neem aan dis ’n ja.” Hy sug en sy gesigsuitdrukking ontspan. “Jy’s reg. Kom ons los die verlede. Die hede het genoeg om ons mee besig te hou.”
Hy druk ’n soen skuinsweg op haar voorkop. Hy ruik na die naskeermiddel wat sy vir hom vir sy verjaardag gegee het. Duur goed wat aan die Red Square-mannetjie goed geruik het, maar effens galsterig aan Con. “Moet gaan. Sien jou daar.”
Sy kyk hom agterna. Die stewige kuite. Die breë skouers. Die kompakte lyf met fris proporsies, ingepas in net onder die outydse ses voet. Effense bles op die grysblonderige agterkop.
Jo onthou weer hoe om asem te haal. En dat haar ma gebel het terwyl Jo tande geborsel het. Sy kan Nan nie uit
hierdie hotelkamer terugbel nie. Hoekom, weet sy nie.
Jo pluk haar oornagtassie van die deurmekaar koningsgroottebed af, haak haar handsak oor haar skouer en kies koers na haar paneelwa wat in die lang oprit staan. Die diskrete letters op die agterste deur glim in die oggendlig.
Jo’s Restaurant Interiors. En daar onder: Dine divine.
Teen die tyd dat sy agter die stuur inskuif en die deur toeklap, is haar hare deurmekaar gewaai en haar oë brand.
Van die souterige wind. Van die skerp lig wat die bewolkte lug op Valsbaai kaats.
Calitz-girls huil immers nie vir enige bakatel nie. Dis hoe Nan eers haar susters en daarna haar dogter Jo en kleindogter Jeannie grootgemaak het.
Nan was maar elf toe sy haar eie ma se moederlike pligte moes oorneem terwyl dié rinkink het. Hannetjie Calitz het immers beter dinge gehad om te doen as ma speel vir haar drie dogters, Nan, Gretha en Sue. Teen die tyd dat Nan
sewentien was en Jo in die wêreld gebring het, was Nan dus al gewoond aan ma wees. En agtien jaar later toe Jo vir
Jeannie gehad het, maar niks van haar kind wou weet nie, het Nan weer ingestaan. Nan, die immermoeder en die gom wat die Calitze bymekaar hou.
Jo skuif haar selfoon oop.
“Nan? Jy’t gebel?”
“Jo. Sit jy?” Haar ma se stem klink snaaks.
“Ek sit.” Kan meer as een stuk aardskuddende nuus haar op een dag bereik en dit so vroeg in die oggend?
“’n Prokureur het my uit die bloute gebel. Oor my pa. Jou oupa.
“Casper Calitz is dood. Twee weke gelede. Klaar veras.”
Nan is geneig tot bondigheid, maar vanoggend is sy behoorlik kortaf.
Jo weet nie mooi hoe om die nuus te hanteer toe die inhoud deurdring nie. En sy het nie die vaagste benul wat
om vir Nan te sê nie.
My innige simpatie met die oorlye van jou pa? ’n Pa wat sonder om ’n oog te knip sy drie dogters by sy owerspelige
vrou agtergelaat het. Wat moes besef het Hannetjie het nie geweet wat die woord “ma” beteken nie. ’n Pa wat hom in die vyf en veertig jaar daarna nooit verwerdig het om een van sy dogters te kontak nie. Wat waarskynlik nie
geweet het dat Nan, Gretha en Sue as die wilde Calitzsusters bekend gestaan het nie. Of dat Gretha al tien jaar dood is en êrens ’n seun het nie. En Casper het sekerlik ook nie geweet van Jo, sy kleindogter, wat in hulle voetspore
gevolg het nie. En nog minder van Jeannie, sy agterkleindogter. Of dat dié nie wild is nie, net neuroties.
Hoe kan die dood van so ’n man hulle hoegenaamd raak?
“Ek weet nie wat om te sê nie, Nan,” is al waarmee Jo vorendag kan kom.
“Wel, dan gaan jy behoorlik met sprakeloosheid geslaan word as jy die res hoor.”
Jo kan steeds nie mooi peil wat in haar ma se stemtoon opgesluit lê nie, maar die skorheid verklap beslis ’n emosie van ’n aard. Klink amper asof sy kwaad is.
“Die res?”
“Ons erf.”
Jo laat rus haar voorkop in haar hand. “Erf? Jy en Sue?”
“Ek en Sue en jy en Jeannie ook. Klaarblyklik het Casper tog op die een of ander manier agtergekom hy het ’n kleindogter en agterkleindogter.”
Die nuus dring in stadia deur. Hy het geweet. Sy erf. En Jeannie ook. Hoop volg vlugtig. Is dit moontlik dat daar
tog nog wonderwerke gebeur? ’n Wonderwerk wat haar huidige krisis dalk kan oplos? Sal Jeannie dalk tog kan sjefskool toe gaan?

Lees meer oor al die intriges wat wag vir die Calitz-vroue.
Kry jou kopie nou by jou naaste boekwinkel of aanlyn: https://loom.ly/5lUEHmA

Deel die artikel

Méér artikels

In Riviere in die Wildernis leer ons Karlien ken soos nog nooit tevore nie. In haar arms het sy al lewe, siekte en dood vasgehou ...

’n Deernisvolle verhaal oor ’n nuwe begin, betekenisvolle verhoudings en die krag wat liefde en geloof tot uiting kan bring Tienuur die oggend loop Mara ...

Scroll to Top