Van seksslaaf tot getuie vir God

Van seksslaaf tot getuie vir God 

“Al het ek Hom nie gesien nie, was God altyd daar. Soos ander gekies het om oor my te kyk, het ek nie Sy hand herken nie.” 

Ek het as ’n naïewe sestienjarige die bordeel binnegestap 

Die realiteit syfer stadig deur. Ek is ’n prostituut … ’n Seksslaaf … My lyf is seer. My verstand moeg. Ek moet hier uit. Maar hoe? Niemand soek na my nie. Niemand gee om nie.

Ek is niks meer as ’n speelding wat bo die ander poppe in die kamer gekies ...

“Al het ek Hom nie gesien nie, was God altyd daar. Soos ander gekies het om oor my te kyk, het ek nie Sy hand herken nie.” 

Ek het as ’n naïewe sestienjarige die bordeel binnegestap 

Die realiteit syfer stadig deur. Ek is ’n prostituut … ’n Seksslaaf … My lyf is seer. My verstand moeg. Ek moet hier uit. Maar hoe? Niemand soek na my nie. Niemand gee om nie.

Ek is niks meer as ’n speelding wat bo die ander poppe in die kamer gekies word nie. Een na die ander leef mans hulle seksuele fantasieë op my uit. Hulle gebruik my en stoot my weg.

Om dit draagliker te maak, vergryp ek my aan drank en dwelms. Dan probeer ek alles afskrop. Maar niks kry my skoon nie. Tot in my diepste binneste voel ek vuil. En dan drink ek myself maar weer “skoon”.

Hoe naïef was ek tog nie die dag toe ek as sestienjarige die bordeel binnegestap het nie. My ma is ’n paar weke tevore begrawe en ek probeer my eie potjie krap.

Die reëndruppels rol van my klere af. ’n Jong, aantreklike man stel homself aan my voor as die eienaar van die besigheid. “Stap bietjie daai kant toe. Draai om. Kom terug na my toe,” dirigeer hy my. Ek is verstom. Watse plek is hierdie? Wat wil die man van my hê? “Jy’s veels te senuweeagtig. Vat ’n slukkie hiervan. Drink sommer die hele glas,” por hy my aan.

Nog ’n man sluit by ons aan. Hy is lastig en begin aan my vat. Sy groot, growwe hande gly oor my lyf en sy warm drankasem is klam in my nek. “Nee! Wat maak jy? Los my uit! Help!” skree ek. En toe raak alles donker …

Vasgevang tussen die mure van die bordeel 

Bloed stroom teen my bene af. My lyf is seer. Daar is niemand nie. Net ek en die reuk van sigaar en mansparfuum op my kaal lyf. Hier moet ek uit!  

Elke venster is toe. Agter elke venster is daar ’n baksteenmuur. Ek gil, skree, huil. Ek kan nie uit nie. Ek is ’n gevangene!  

Soms het ek die bordeel verruil vir ’n kliënt se huis. ’n Lyfwag het altyd saamgegaan. In ’n rykmansbuurt van Bloemfontein is ek die vermaak op ’n rampartytjie. Een na die ander kry die mans ’n beurt met my. Aanhoudend. Die een meer gewelddadig as die ander. Die pyn is so ondraaglik, dit laat my opgooi. Ek smeek hulle om op te hou, maar ek word uitgevreet as ’n “vieslike hoer wat my bek moet hou en my werk moet doen”. Is dit al waarvoor ek goed is?  

Vasgevang tussen die mure van die bordeel was drank en dwelms my toevlug. Ek het nêrens gehad om heen te gaan nie en kon nie sonder my “regmakers” leef nie. Die web het daagliks stywer om my gespan. Ek was alleen. Verworpe. Verwese.  

Tot ek op ’n dag besef het dat ek nie meer kan nie. Ek moet uit! Die strate van Bloemfontein is my enigste hoop. Met elke tree trek my spiere saam van vrees. Stories van uitbreek-meisies wat gemartel en vermoor word, flits deur my gedagtes. Maar daar is nie ’n ander opsie nie!  

’n Bos op Hoffmanplein word my huis. Hier is ek veilig. Vry. Weg van die bordeel en van die mense wat my besit het.  

Ek het bly smag na geestelike genesing 

Onder my bos stoei ek alleen met die spoke van my verlede. My bos-bure verstaan iets hiervan. Hulle sien nie my verbrande vel of my stukkende, vuil lyf nie. Hulle is net so verlore en gebroke. Hulle glo ook dat niemand meer omgee nie.  

Dit het my jare geneem om myself onder al die gemors te vind. Hier onder my bossiehuis het my lyf gesond geword. Later selfs my sielkundige wonde. Maar ek het bly smag na geestelike genesing.  

Al het ek Hom nie gesien nie, was God altyd daar. Soos ander gekies het om oor my te kyk, het ek nie Sy hand herken nie.  

Toe stuur Hy ’n wonderlike man op my pad. Iemand wat nog nooit ’n slegte woord oor my gesê het nie. ’n Man wat dieper kon kyk … en mý kon raaksien. ’n Man wat nooit opgegee het nie. ’n Man wat net aangehou bid en hardkoppig geglo het.  

Deur God se genade en liefde is Voices for Victims gebore. Saam met ander organisasies word daar gewerk om mensehandel hok te slaan. Dis ’n wrede wêreld, hier reg onder ons neuse. Nie in die Verre-Ooste of in verlate klein dorpies nie. Nee, dis hier, om ons, in Suid-Afrika.  

Honderde duisende mense word daagliks geteiken: Daardie kind wat alleen by inkopiesentrums afgelaai word; jong mense wat niksvermoedend ’n drankie by iemand neem. Geeneen is daarteen gevrywaar nie.  

As iemand my net vroeër van God se vlerke van liefde kon vertel het, sou daar gouer hoop en vrede en genesing gewees het. Daarom is dit vandag my missie om sy vlerke breër te span. 

Deel die artikel

Méér artikels

“Ons is hier op aarde om God te dien”, het my ma my van kleins af geleer. “Jy moet goed wees vir ander, maar jy ...

Die soektog na betekenis is ’n reis. JO VAN DER MERWE deel hoe haar soeke na haarself haar gelei het na ’n doel, aanvaarding en ...

Scroll to Top