Jou kinderjare vorm jou ouerskapstyl. SERAHNI SYMINGTON verduidelik hoe jou vroeë ervarings jou dissiplinemetodes beïnvloed en jou die ouer maak wie jy is.
Wie is ek as ouer, as ek dink aan my ouerskap en hoe ek grootgemaak is?
Ons ouerskapstyl word deur ons eie ervaring van ons kinderjare gevorm. Dr Becky Bailey het geskryf dat die eerste 1 000 dae van ons lewe ons ontwikkelling en brein-neurologie so beïnvloed dat dit die bloudruk is vir die res van ons lewe.
Dit is merkwaardig om te dink dat so ʼn jong brein, so ʼn gevorderde breinpad kan vorm wat so diep gegrond is in die lewe. As grootmense is daardie narratiewe, wat in jou eerste drie jaar gevorm word, so sterk in ons dat wanneer jou kind iets doen wat jou vererg, jou ma by jou mond uitkom.
Het ons dit nie al beleef nie? Soms is dit goeie dinge wat by jou mond uitvlieg. Soms is dit nie goeie dinge nie…
Hoe het jou kinderjare jou ouerskap beïnvloed? Ons sien dit partykeer in ons eie kinders – dat ons eie of herinneringe as kinders opkom wanneer ons kinders ons frustreer. Daar is sekere dinge wat ons kinders doen wat goed in ons wakker maak van ons eie verlede.
Dit is baie belangrik om partykeer stil te word en introspeksie te doen rondom daardie snellers. Gaan kyk na die patrone. Wat is die dinge wat jou kinders doen wat jou die meeste frustreer? Pak ʼn bietjie uit en kyk of daar nie iets dieper is as net frustrasie nie.
Hoe ons grootgemaak word, maak ons wie ons is as ouers. Dit beïnvloed ook hoe ons optree.
