Integriteit is vir die skrywer en aktrise SUSAN COETZER baie belangrik. Dit is meer as net eerlikheid en opregtheid, jou woorde en aksies moet in lyn wees.
Integriteit is vir my baie belangrik, of jy nou ’n christen is of nie. As jy jou christenskap in die openbaar uitbasuin en jou Facebook is vol daarvan, verwag ek nie dat jy perfek sal wees nie, maar dat daar integriteit sal wees.
Wat jy sê en doen, moet min of meer in lyn wees. Niemand van ons is perfek nie; ons het almal foute.
In my boek, Blinde mol of wyse uil, het ek omtrent tien eienskappe geïdentifiseer wat met integriteit te doen het. Dit is meer as net eerlikheid of opregtheid.
Jy moet min of meer dieselfde persoon wees wat in die kerk sit en daarna gaan braai. Daar moet ’n goue draad van opregtheid, deursigtigheid, empatie en vrygewigheid wees.
Mense sê soms nog voor hulle hul naam gesê het of my naam vra: ek is ’n groot Christen, is jy ook?
Ek dink nie dis nodig om dit te sê nie; jou aksies behoort duideliker te spreek.
