Ontdek hoe om jou kind se temperament te verstaan en jou ouerskapstyl te verbeter. HETTIE BRITTZ deel praktiese wenke om jou kind se uniekheid te koester en sterker verhoudings te bou.

Waarom dit belangrik is om jou kind se temperament te verstaan

Wil jy graag weet hoe om jou kind se taal te praat sodat julle mekaar regtig verstaan?

Ma’s en pa’s moet hulle kinders se uniekheid ontdek en koester, én ook leer hoe om elke kind volgens sy temperament te kweek en te snoei.

Wanneer ons met profiele werk, is daar geen ideale “soort” temperament nie. Die ideale temperament is die een wat jou skeppingsdoel die beste pas. Ons moet toesien dat die aangebore eienskappe uiting vind in opregte karakter.

Goeie ouerskap is proaktief eerder as reaktief. Dit beteken dat jy jou eie plan het en nie net maak soos iemand anders nie. Dit beteken om gereeld aanpassings te maak vir snel veranderende tye.

Jou rol gaan oor jare baie verander, maar jy klim nooit van die verhoog af nie. Ma- of pa-wees kan nie deeltyds bedryf word terwyl ons ons eie pad loop nie.

Jou lewe is onherroeplik verander en jou kind gaan jou net soveel groeigeleenthede gee as jy vir hom.

Ontdek hoe jou ouerskapstyl jou kind beïnvloed

Aanvaar dat daar iewers ’n wonderlike maar verwarrende ding gebeur tussen wat jy doen en wat jou kinders daarvan maak.

Jy kry nie altyd die reaksie en uitkoms wat jy verwag nie. Dikwels eerder die omgekeerde. Soms iets heelwat beter!

’n Deel van hierdie misterie is beslis die feit dat elke gesinslid se temperament ’n baie groter rol in julle dinamika speel as wat baie opvoedkundiges wil toegee.

Wanneer ons mekaar verwar, verkeerd opvryf en onsensitief is vir mekaar se behoeftes, kom ’n goeie verhouding nie maklik nie. Vir gesonde dissipline moet jy die leidrade van temperamente bestudeer om te weet wanneer, hoeveel en hoe jy gesag kan toepas.

Jy lei jou kinders, jy sleep hulle nie. Kort-kort gaan hulle aan die leiriem pluk en soms gaan hulle selfs losruk. Hulle mag en gaan hulle eie wil inspan en volg.

Hoe ouer hulle word, hoe meer word die keuses wat jy aan hulle moet oorlaat. Jy sal net verantwoordelik gehou word vir dit waaroor jy beheer het en in elke stadium oor behoort te hê.

Hierdie oorgee van al hoe meer beheer, is moeilik, veral wanneer dit netelige sake soos tienerverhoudings en vermaak begin raak. Ons kinders wil in hierdie besluite van die riem losruk.

Meet ouerskap aan die regte dinge – nie aan klein gewoontes nie

Moenie julle welstand te veel aan goedjies soos tafelmaniere, netheid van kamers of skoolrapporte meet nie.

Vra die belangrike vrae: Help ek my kind om ’n groeiende geloofsverhouding te hê? Het ons verhoudings wat gekenmerk word deur gemaklike kommunikasie selfs wanneer ons verskil?

Plaas jou fokus op vaardighede en beginsels vir sinvolle verhoudings met ander. Help mekaar om ’n unieke karakter te ontwikkel.

Dis ook glad nie nodig om alleen aan te sukkel nie! Kry hulp, soek raad en woon praatjies of kursusse by.