Vergeet van jou vergelyking en ondersteun jou kind met jou liefde en tyd! Jy is presies wie jou kind nodig het, vertel ANDRIËTTE NORMAN.
Hoe om ’n balans tussen vergelyking en tevredenheid te vind
Een van die struikelblokke van ma-wees is vir seker sosialemediaskuldgevoel. Jy maak ’n punt daarvan om gereeld te kyk na wat ander op hulle onderskeie sosialemediaplatforms post.
Die boodskappie, video of foto is so mooi of so ongewoon dat dit iets in jou wakker maak. Maar al wat dit doen is om jou dadelik in jouself te laat twyfel.
Kyk hoe vroeg in sy babajare praat jou vriendin se kind al groot woorde. Of kyk net, daardie baba kan sowaar al self eet.
Terwyl jy nog ’n doek ruil, lees jy die blye nuus dat jou niggie se kind, van dieselfde ouderdom, heeltemal ge-potty train is.
Miskien sit jy te veel op jou agterstewe en moet jy meer betrokke word by jou bloedjie se mylpaalbereiking?
Maar dan moet jy ook nie jou kind te veel stimuleer nie, sê die kenners. Hulle moet ook leer om self te ontdek en te speel, anders prikkel jy nie hulle kreatiewe denke nie.
Dis asof ons elke oggend wakker word met ’n 50-punt lysie in ons kop van wat reg en verkeerd is.
Oorkom skuldgevoelens en maak meer tyd vir liefde en omgee
Ons kinders neem aan elke liewe moontlike aktiwiteit deel. Ons gaan groot finansiële uitgawes aan sodat dit tog net nie lyk asof hulle afgeskeep word nie.
Ons maak skuld op ons kredietkaarte sodat ons nie skuldig hoef te voel nie. Niemand wil ’n slegte ouer wees nie.
Dis maklik om te sê dis alles die nagevolge van sosiale media, maar tog was dit eintlik nog altyd so.
Vroue voel oor alles skuldig dwarsdeur die geskiedenis en oor alle generasies heen.
Hoe kan ons meer soos die pa’s wees wat lyk of hulle nie so baie worry nie? Hoekom huil boetie en sussie die oomblik as ons by die huis instap? Dit nadat hulle al drie ure doodgelukkig in pappa se geselskap is.
Dis nodig dat ons weet ons liefde en ons omgee is genoeg. Ons as mammas is altyd daar en ons is ons kinders se vangnet. Aktiwiteite, geskenke en prestasies is nie waaraan hulle behoefte het nie.
Jou vertroude en bekende reuk en jou arms om hulle is die hoogtepunt van hulle bestaan. Laat gaan al jou bekommernisse. Dit steel jou vreugde en jou tyd.
Tyd is kosbaar. Tyd is min.
Sit neer jou foon. Die klein kindjie wat voor jou staan is tevrede met alles van jou. Vir hom of haar is jy oorgenoeg. En dis al wat tel.