Maak tyd om te ontspan en vriendskap te koester! Leer hoe om jou besige lewe te balanseer met oomblikke wat saak maak, vertel ALTA STRAUSS.
Ma’s, jy verdien ook ’n bietjie tyd vir jouself!
Dis hakskoene en platskoene, skooltasse, grimeersakkie, kosblik, boeke en skootrekenaar. Nee, dis nie my huis nie, dis my motor!
Meeste dae voel my motor byna soos ’n uitbreiding van my huis of by tye ’n kantoor op wiele. In hierdie motor word daar gebid, gehuil, geskaterlag, saam gedroom en groot stories gesels. Van skool tot sport tot werk.
Maar wag net tot daardie laaste rit klaar is. Dan is dit tyd om die hakskoene uit te skop, die bolla op die kop los te maak en te ontspan. Ma’s het tyd vir almal, maar ma’s moet ook tyd maak vir hulleself.
Ek trek die truspieëltjie reg, gee my refleksie so een kyk en ’n knipoog. Dan sê ek: “Vir jou vat ek op ’n date, dis nou my tyd!
Maak tyd vir jou hartsvriende en om pret te hê
Anaïs Nin skryf die volgende: “Each friend represents a world in us, a world possibly not born until they arrive, and it is only by this meeting that a new world is born.”
Koester-vriende is kosbaar en tyd saam met vriende wat goed is vir jou siel moet nooit gering geag word nie.
Dis in daardie “ek ook” oomblikke wat ons weet ons is nie alleen nie. Dit gee ons ook kans om net te wees. Weg van al die vereistes wat die wêreld en sosiale media aan ons stel.
Dis ’n veilige plek waar jy jouself weer kan vind, met deernis en opregtheid, sonder enige pretensie, kompleksiteit, veroordeling of verwagting.
’n Ruimte waarin jy met liefde omhels word en vir jouself kan lag. Jy is meer as genoeg. Meer nog, jy is sterker as wat jy dink. Jy is vrou, jy is ’n inspirasie!
Moenie vergeet om pret te hê nie. Stop langs die hoofweg van die lewe en dans in die reën. Tyd is kosbaar en moet uitgekoop word, nie om gewens word nie.
’n Sinvolle lewe is nie om te oorleef nie, maar om voluit te leef in die oomblik, in die nou.
Daar is honderde gisters en daar sal nog baie meer môres wees, maar daar is net hierdie een nou.
Dit kan ’n weggooi oomblik wees of ’n altyd-onthou oomblik. Werk hard en beplan strategies met die ewigheid voor oë. Maar geniet en beleef elke oomblik met ’n ongekende intensiteit.
Vandag is verby, sit dit agter jou. Wat môre wag, weet die Here alleen en Hy is alreeds daar. Nou is jou tyd!