“Wanneer ’n mens deur trauma en uitdagings gaan, moet jy aan iets vashou,” sê verhoudingskenner en motiveringspreker LYNETTE BEER.
Glo in God se beloftes wanneer jy gebroke voel
Dikwels ly ons op soveel verskillende maniere. God neem nie die pyn en swaarkry weg nie, al het ons Hom lief en vertrou ons Hom.
Vir jare lank het ek geworstel om dit te verstaan, totdat ek ontdek het dat ons in ’n wêreld leef wat stukkend is. Gebroke, weens die mens se sonde. Sonde was nooit deel van God se plan nie. Dit het verreikende en aaklige gevolge wat ons elke dag moet hanteer.
As jy nie iets het om aan vas te hou nie, gaan dit vir jou voel asof jy nie God se stem hoor nie.
Op hoërskool het my ma vir my ’n dun Bybelsakboekie gekoop wat ek aan die binnekant van my baadjie gedra het. Elke keer wanneer ek hartseer was of onreg beleef het, het ek gevra om die kamer te verlaat. Dan het ek my boekie uitgehaal en God se beloftes gelees wat my weer nuwe hoop vir die res van die dag gegee het.
My ma het van al die verse in daardie boekie vir my net twee onderstreep: Romeine 8:28 en 1 Korintiërs 10:13 wat sê: “Vir die wat God liefhet werk alles ten goede mee”, en “God sal ons nie bo ons kragte versoek nie”.
Ek hou steeds vas aan daardie twee beloftes, al maak niks vir my sin nie, want vir die wat God liefhet werk alles ten goede mee. God het dit belowe. Alles is alles, en alles sluit ook die dood in.
As gevolg van ’n gebroke en sondige wêreld sal ek deur uitdagende tye moet gaan. Saam met dit verheug ek my daarin dat God ons nie bo ons kragte sal versoek nie.
Prys God te midde van swaarkry en uitdagings
Uit ’n rasionele oogpunt maak geloof glad nie sin nie. Hoekom? Want God is groter as ons verstand. Ek het aan my lyf ervaar dat die lewe niemand spaar nie.
Wanneer ’n mens deur trauma en deur uitdagings gaan, moet jy aan iets vashou. Sy Heilige Gees is jou Trooster, wat dit vir jou moontlik maak om aan die onbekende oor te gee.
Jakob het sy eie ontmoeting met God gehad. Hy was stukkend en hy was beangs. Elke verhouding was vernietig. Sy drome was in skerwe. Maar in Jabbok, ’n plek van gebrokenheid waar God hom fisiek op die heup geslaan het, raak dit vir hom die plek van oorwinning.
Soms laat God toe dat jy eindig by die Jabbokrivier – gebroke, alleen en verlate. Dit is ’n patroon in God se pad met mense wat Hy in sy groter plan gebruik.
Ná Jakob se ontmoeting met God het hy nooit weer dieselfde geloop nie. Mense wat hom geken het, het besef sy ontmoeting met God het sy stap, sy manier van dink en sy lewe verander.
Dit is wat gebeur ná ’n ontmoeting met die Here: Dit verander jou stap, jou manier van leef en jou fokus. Totdat jy op die punt kom waar jy God kan prys te midde van swaarkry, want jy weet waar jou krag en jou koers vandaan kom.
Dink watter emosie tans jou lewe oorheers. Vra jouself waarheen hierdie gevoel of oortuiging jou gaan lei. Gaan dit eindig in vrede en lewensvreugde? Of in woede, donkerte en depressie?
Vertrou God vir jou toekoms sonder bekommernis
Bekommernis is by baie mense die oorheersende emosie. Jy bekommer jou oor die land en jou en jou kinders se toekoms. Oor geld wat te min is. Oudword en gesondheid. Ouers wat op die afdraande pad is. Ons is so goed geoefen in bekommernis.
Psalm 37:5 leer ons: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom.” Kry ons dit reg om in oorgawe aan God te leef?
Jesus sê self in Matteus 6:31-32: “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ’Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek nie.’” Hy sê dit is alles dinge waaroor ongelowiges begaan is. “Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.”
Ons weet dit en sê dit, maar glo ons dit? Nee, ons worry voort. Eintlik glo ons meer getrou aan die leuse wat ons self aanmekaar getimmer het: God sorg vir mense wat vir hulleself sorg.
Nee, God wil hê jy moet soos Abraham uitgaan en in geloof wegtrek sonder om te weet waar jy gaan uitkom. Met jou hand in Syne moet jy ten volle op Hom vertrou.
Jy moet wegtrek van jou eie oortuigings, jou behoefte aan beheer, jou selfversekerde beplanning en jou alles-weet-houding. Jy kan daarmee niks doen nie. Die Here wil hê dat jy soos Abraham uitsien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die stadsbeplanner is (Hebreërs 11:10).
Wat is daar wat God uit my lewe snoei sodat ek by vrede en oorgawe kan uitkom? Wat is daar wat moet doodgaan binne my? Wat moet radikaal verander sodat ek my ware lewe kan vind.