Ervaring het MICHAEL MOL, hoof van die Christelike TV–kanaal TruthTV, man, pa en dokter geleer dit help nie om net die regte dinge te sê nie, jy moet dit ook uitleef.
Elke nuwe jaar word begin met die gedagte: “Wie wil ek wees?” En dan word ’n praktiese plan uitgewerk om dit uit te voer.
’n Tipiese jaarplan sal soos volg lyk …
Om ’n beter eggenoot te wees beteken: alleentyd saam met Jacqs; om elke dag een liefdevolle ding te doen; om diensbaar te wees; om elke dag iets diep en betekenisvol met mekaar te deel; en om altyd die beste van haar te dink.
Om ’n beter pa te wees: maak een-tot-een tyd vir elke kind.
Saam met Josh: branderplankry, bergfietsry en musiek luister. Ek en Rachi: branderplankry, fotografie en oefen.
En saam met Naethan: Lego’s bou, videospeletjies speel en van die omgewing ’n hindernisbaan maak en dit blitsvinnig kafdraf (parkour).
As gesin probeer ons om een keer per maand vir ’n naweek weg te breek …
Of selfs om net ’n aand te gaan uiteet, ’n vertoning te kyk, of om saam iets te doen om die gemeenskap te dien.
Daar is ook waardes wat ons probeer uitleef. Liefde, respek, geloof en hoop.
Daar’s ’n gebed wat ons bid.
Iets in die lyn van: “Help ons om die wêreld te sien soos U dit sien.” As ’n mens lank genoeg só bid, besef jy niks maak meer saak as om mekaar en ander lief te hê nie.
Vir ons oudste, Josh, se 18de verjaardag, is ’n paar vriende gevra om die wyshede neer te skryf wat hulle met hulle jonger self sou deel …
Ek het ook so ’n lysie gemaak, en dit oor ’n konjak en sigaar met my seun gedeel.
Moenie dat die vrees vir mislukking jou terughou nie. Dis ’n eienskap wat ek hoop die kinders in my raaksien en eendag sal navolg.
Ek was nog altyd mal oor uitdagings … die idee om iets te doen wat niemand ander sal doen nie. Op skool byvoorbeeld, het ek en ’n vriend besluit om met fietsde van Pretoria af Durban toe te ry.
Ná die eerste dag, doodmoeg en heeltemal gedehidreer, moes ons al die geld bymekaarsit en vir my maat ’n busrit huis toe reël.
Maar ek het besluit om klaar te maak, kom wat wou.
Hang uit saam met die regte mense …
Vriende wat jou opbou en verantwoordbaar hou. Werk hard. Jy kán. Maar ook … onthou, jy weet nie alles nie.
Kies vándag wie jy wil dien: God of geld – want dit kan nie albei wees nie.
As man en pa weet ’n mens dit help nie om net die regte dinge te sê nie, jy moet dit ook uitleef.