Reeds in Genesis gee God die opdrag vir die mens om vir ander om te gee. Met die Skrif as eerste verwysing en dié Goddelike ingeboude meganisme in die mens, kan ons weet: Ons is geprogrammeer om om te gee.
God gee ons die vermoë vir omgee…
Van die eerste dinge wat ’n mens kan onthou (as jy die voorreg van ’n geborge huis gehad het), is omgee-oomblikke: ouers se liefdevolle aanraking en ’n gevoel van geborgenheid. Wanneer jy groter is, word vriende ’n belangrike deel van jou lewe.
Later kom daar iemand so spesiaal dat jou omgee aan selfopoffering grens.
Wanneer vlindervoetjies teen jou hart begin skop, kry jy ’n unieke dimensie van omgee vir die baba wat gebore word. Heelwat later, wanneer jy jou kleinkind in jou arms hou, word jy vasgevang in die web wat die klein vingertjies om jou span.
Deur jou lewe neem jy waar hoe mense ander behandel. Só begin jy ook om vir die mense wat op jou pad kom, om te gee.
Omgee vir ander mense begin by jouself
God wil nie hê ons moet te veel van onsself dink nie, maar ons moet God se skepping – wat onsself insluit – met agting behandel: Ons moet elke gawe wat vir ons afgemeet is, geniet en met trots ons lewe lei.
Daar was ’n tyd dat mense met soveel erns hulle siele bewaak het dat hulle niks kon geniet nie. Hulle het veral selfliefde verag en daagliks net met toewyding aan God probeer leef.
Om vir ander om te gee, is egter ook ’n manier van omgee vir jouself. Die vrede en vreugde wat hierdie soort omgee die innerlike bring, verryk my siel! Deur ’n liefdevolle omgewing te skep, verryk jy jou eie lewe. Die wonderlike gawes vir my afgemeet, aanvaar ek met danksegging!
Gee om vir jou gesin en familie
Omgee vir jou lewensmaat gaan saam met die bereidwilligheid om op te offer en dit as ’n kleinigheid te ervaar. Omgee is om in die tweede persoon te dink. En wanneer ek my seëninge tel, sal ek my geliefde weer en weer tel.
Ons omgee vir ons kinders wys in ons beskermingsdrang. Soms verg omgee egter van ouers dat ons ons kinders moet dissiplineer, voorregte van hulle moet weerhou en onaangename gesprekke met hulle moet voer. Bid vir hulle.
Die beskutting wat die troos van ’n broer bring of die bemoedigende woorde van ’n suster wat in die stryd saam met jou staan, is onvervangbaar. Hoekom het Jesus juis gesê dat jy jou broer sewentig maal sewe keer moet vergewe?
Omgee kring uit na mense om jou
Om vriende te hê in wie se volheid jy kan deel, saam met wie jy kan lag en die goeie kan geniet, is genade. Maar om saam te huil en hulle te onderskraag, is wedersydse genade. Vriende hoort op jou gebedslysie.
Jy kan jou bes probeer, maar daar sal altyd mense wees van wie jy nie hou nie. God verwag dalk nie van jou om beste vriende met almal te wees nie, maar wel dat jy met almal vriendelik sal wees.
Die bande wat geweef word oor toonbanke, via telefoonlyne en tussen diensleweraar en kliënt, is kosbare verhoudings. Om hierdie verhoudings in omgeeverhoudings te verander, begin in jou hart, met ’n vriendelike groet en geduld, ’n positiewe ingesteldheid dat elkeen sy bes probeer.
Gee om vir vreemdelinge wat hulp nodig het
Wat verwag God van ons as dit kom by die baie vreemdelinge wat ons hulp benodig (en soms direk kom vra)? Hy verwag omgee, omgee met tyd en geld, wat in elk geval aan Hom behoort. Die man voor my deur met sy broodnood, wil dalk net as mens raakgesien word, of simpatie hoor en ’n kans op nuwe hoop kry.
Die heel belangrikste faset van enige omgee, is om met oorgawe vir mense te bid. Lê die persoon, naby, of ver, vreemd of bekend, bloed van jou bloed of die een wat jou bloeddruk laat styg, voor die voete van Jesus. Dit is dikwels in daardie oomblikke wat iemand die krag van gebed beleef en die warmte van omgee aanvoel.