Baie jare se mishandeling … uiteindelik tot op die uiterste gedryf. STEPHANIE BAARTMAN ken diep seer. Op ’n dag is daar geen omdraaikans meer nie. ’n Nuwe, onseker pad lê voor. Is sy sterk genoeg daarvoor?
Dit was die vernederendste, grootste oomblik van skaamte.
Oë rooi gehuil. Gesig geswel. Lip gekneus.
’n Ma met twee klein kindertjies wat voor die polisiekantoor staan en wag. Vir beter dae.
Ons klere in swart sakke en lakens toegevou. Nie ’n sent op my naam nie. Mae wat grom van die honger … en die polisiemanne wat verbyloop en lag. Hulle het dié prentjie al baie gesien.
Kon ek hulle kwalik neem? As ’n mens nog nie ’n dag in iemand anders se skoene geloop het nie, is dit maklik om te oordeel.
Die kinders het bly neul. Ek het deur my beursie gekrap en sowaar ’n vyfrandstuk ontdek. Koponderstebo oor die pad winkel toe gestap en ’n pakkie skyfies gekoop. Die vernedering oop en bloot vir die hele wêreld om te sien.
Hoe beland ’n mens in so ’n situasie?
Dit vat lank voor ’n vrou besef sy word mishandel.
God moes my ontwortel en dit was séér. Dit was die moeilikste tyd van my lewe, maar uiteindelik ook elke traan werd.
Verandering kom wanneer God toegelaat word om in die omstandighede te werk. Wanneer jy oorgee en vertrou in Sý beste.
Dit was ’n deurbraak-oomblik … om te snap dat ek Hom nodiger het as ’n man. Dat Hy in my lewe belangriker is as stabiliteit.
Die besef dat daar van die begin af ’n plan was en dat niks, maar niks, sonder ’n rede gebeur nie. Die wete dat ons hier is vir God se glorie.
“He has called you as a prophet for the nations – to give sight to the blind.” Dit was ’n Woordbelofte wat ek jare terug gekry het.
Dit het lank gevat om weer die drade van my lewe op te tel.
Om te sien hoe seer in seën kan verander.
Baie nuwe dinge moes geleer word. Dat ek waardig is. Mooi, talentvol, sterk. Dat ek op my eie twee voete my plek in hierdie wêreld kan volstaan.
Dank die Here dat Hy presies geweet het wie om na my toe te stuur.
Vandag is ek bly oor alles wat ek deurgemaak het. Dit het die waarde van geloof, hoop en ware liefde uitgelig.
Dit het lank gevat om te vergewe, maar vergifnis het my uiteindelik vrygemaak.
My ervarings het my ook groot empatie gegee met mense. Veral vroue. Nooit weer sal ek oordeel nie. Eerder bid en help waar ek kan. Agter elke seer lê ’n storie.
My lewe tot hier toe is een groot storie van geloof. ’n Getuienis dat dit wat stukkend is, heelgemaak kan word. Nie omdat ek goed is nie, maar omdat Hy God is.
Niemand van ons is per ongeluk op die aarde nie. Nie een is ’n fout nie. Geen traan of letsel is verniet nie.
Wie jy ook al is, wat jou storie ook al is, hou vas aan hoop en weet dít: Jy is goud werd, en sal weer skitter en skyn.
Ek het.