ANNA DAVEL staan elke dag op om al die nuwe geleenthede wat na haar kant toe kom, aan te gryp. Elke nuwe ervaring help haar om te groei.
Terugvoering van die regte mense help met ontwikkeling
Wat my in die oggend laat opstaan, is wanneer iemand ’n konsert bespreek het. Dat ’n organiseerder genoeg vertroue in my gehad het en dat iemand kaartjies gekoop het en my musiek ondersteun.
Dis die wete dat ’n mens ’n verskil kan maak of dat die lewe betekenis het. Sommige dae is dit maklik om met ’n gejubel uit die bed te spring. Ander dae kos dit ’n bietjie meer selfdissipline en wilskrag.
Mense se goedkeuring of kritiek raak my tog. Dit loop nie soos water van ’n eend se rug af nie, maar dit is belangrik om te luister, al is kritiek soms moeilik om te hoor. Mense praat van ’n blinde kol, wanneer ons nie bewus is van sekere foute nie.
’n Paar mense het my al waardevolle terugvoering gegee. Wanneer dit duidelik is dat mense wil help, waardeer ek dit, want dit laat my groei.
Kritiek en goedkeuring kan egter gevaarlik wees. Opinies verskil. As dit jou maatstaf vir optrede word, kan dit tot ’n baie wispelturige en frustrerende lewe lei.
Mense se opinies het dikwels meer te doen met hulle eie stories en hoe hulle die wêreld ervaar. Dis nie altyd ’n goeie weerspieëling van die een wat hulle kritiseer nie.
Ek probeer om nie een van die twee té persoonlik op te neem nie, maar om eerder ’n balans te vind.
Dit is vir my belangrik om in beheer te wees en te weet wat aan-gaan. Dit gaan soms ’n bietjie rof, maar om alles self te doen, lei tot ’n rustige nag met die wete dat alles gedoen is soos ek daarvan hou.
Ontwikkel in ’n beter, wyser en interessanter mens
Waardes is dit wat ons persoonlikheid skep, wat bepaal wat vir ons belangrik is en wat nie.
Dit het ’n groot invloed op etiese besluitneming en hoe en hoekom iemand doen wat hulle doen.
Baie daarvan word onbewustelik by ons ingesement as kinders. Die wortels van hoe jy dink oor geld, oor werk en oor die lewe in die algemeen lê in jou kindertyd.
Daarom moet jy gereeld die waardes agter jou besluite en aksies heroorweeg, want daardie waardes is nie noodwendig gesond nie.
Jy het dalk as kind geleer dat dit nie ’n ordentlike meisie betaam om te sê wanneer sy ongelukkig is nie en glo dit nou onbewustelik. Of jou kinderdae in ’n arm huis maak finansiële sekuriteit so ’n groot prioriteit dat dit jou hele lewe oorneem.
Vroeër was daar vir my niks beter as die sorgvrye vreugde om ’n liedjie te kan skryf nie.
Dit was nie nodig om my te bekommer oor of dit opgeneem gaan word of gaan verkoop nie; daar was net my kreatiewe vryheid.
Toe my loopbaan momentum begin kry, was dit wonderlik hoe baie geleenthede en nuwe ervarings opgeduik het. Ek was egter steeds nie baie strategies ingestel of op die langtermyngevolge gefokus nie. Nou is ek baie meer analities en oorweeg ’n besluit en die redes daarvoor beter.
Dit is my doelwit om te groei, as kunstenaar en as mens.
Uiteindelik is dit waaroor alles gaan: om ’n beter, wyser en interessanter mens te word.
Solank dit jou besluite dryf, sal jy die lewe in al sy rykheid ervaar en eendag jou oë met ’n glimlag toemaak.