Die plank is ’n eenvoudige maar doeltreffende oefentegniek om jou abdominale spiere, trouens jou hele lyf, te versterk. Dit is ’n baie goeie manier om jou kern – die spiere in die onderste deel van jou rug, jou bekken en jou buik – te kondisioneer.
Daarbenewens werk dit ook jou boude en dye (hamstrings) en help om krag, postuur, balans en uithouvermoë te verbeter. Geen ekstra toerusting of gewigte is nodig nie, en dit kan bykans op enige plek gedoen word.
Die korrekte tegniek is belangrik. Hou jou rug reguit, nek neutraal, maagspiere ingetrek en boudspiere styf. Jou hele lyf word ingespan om die posisie te behou, terwyl jy reëlmatig asemhaal.
Dié oefening versterk nie net jou maagspiere nie, maar verbeter ook jou vermoë op die sportveld en natuurlik ook om enigiets wat swaar is op te tel, soos ’n sak kruideniersware.
Verder verbeter dit balans en soepelheid en versterk jou rug, wat rugpyn verminder. Op die koop toe kry jy fermer boude.
Begin geleidelik deur net een minuut op ’n dag te plank. Jy kan die minuut in sessies van 20 of 30 sekondes elk opbreek. Vermeerder die tyd elke week, eers tot twee en dan drie minute ’n dag.