Funksionele oefening kan jou help om daaglikse bewegings makliker en sonder pyn te verrig. MARIJKE CILLIERS verduidelik hoe.
Om jou daaglikse aktiwiteite sonder ongemak of skete te verrig is ’n luukse wat nie almal beskore is nie. Funksionele oefening help om die liggaam te leer om daaglikse aktiwiteite makliker en sonder beserings te verrig.
Hierdie tipe fiksheidsprogram sluit tegnieke in wat verseker dat al jou spiere in harmonie funksioneer.
Dink daaraan as afrigting vir die hele beweging – nie net ’n spesifieke spier nie. As jy byvoorbeeld spring, gebruik jy nie net jou beenspiere nie.
Dit is ’n gekoördineerde poging tussen jou senuwee-, kardiovaskulêre, respiratoriese en muskuloskeletale stelsels wat ’n vloeiende beweging moontlik maak.
Die oefening kan vir die vereistes van elke lewensfase aangepas word.
Funksionele fiksheid oefen jou spiere om saam te werk en berei hulle voor vir daaglikse take deur die algemene bewegings na te boots wat jy by die huis, by die werk of in jou sportaktiwiteite doen.
Jy kan dit by die huis of by die gimnasium doen.
Verskillende oefenapparaat of selfs net jou liggaamsgewig kan gebruik word.
Die sleutel tot sukses is die nabootsing van die werklike aktiwiteit waarmee jy daagliks sukkel. Daar moet gefokus word op soortgelyke tipes spiersametrekkings.
Hoe beter dit jou werklike aktiwiteit naboots, hoe meer effektief is die oefening.