Geen mens het die reg om ’n amateur te wees as dit by fisieke oefening kom nie. “Wat ’n jammerte is dit nie as ’n man oudword sonder om die volle prag en krag waartoe sy liggaam in staat is, te ervaar.” Wyse woorde uit die Griekse filosoof, Sokrates, se mond, baie jare lede.
Fiksheid is nie ’n eenmalige gebeurtenis nie
Fiksheid is nie net een groot uitdaging wat ’n mens elke nou en dan aandurf nie. Dit vind ’n plek in ’n klomp klein dingetjies wat ’n mens elke dag doen. Dit vorm deel van jou daaglikse volhoubare en gesonde leefstyl.
Dit is byvoorbeeld nie die Comrades-wedloop wat jy een keer ’n jaar hardloop nie. Dit is die tien minute wat jy elke dag om die blok gaan stap. Dit is die 20 minute wat jy bestee om te gaan draf en vars asem in jou longe in te trek.
Fiksheid werk soos boustene, dit groei op mekaar. Sodra jy die eerste stap geneem het, is die tweede stap altyd net nog ’n tree weg. Die belangrikste deel is gewoonlik om daardie eerste stap te neem; die fondasie te lê. En dit is altyd die moeilikste een.
Moenie jou fiksheid aan ander s’n meet nie
Mense vergelyk hulleself tog al te graag met ander mense. Dit is gewoonlik dan ook met mense wat al baie verder in hulle fiksheid gevorder is. Mense wat dalk al vir jare daagliks oefen.
Die kuns is eerder om jou met jouself te vergelyk. Die jy van vandag met die jy van gister. So sal elke dag se verskil, verandering en vordering in jou sigbaar word. Dit sal aan jou waardering gee vir al die harde werk om die fiksheidsvlak te bereik wat jy vandag ervaar.
Fiksheid spoel oor na alle gebiede van ’n mens se lewe. Hoe fikser jy word, hoe gesonder voel en is jy.
Jou selfvertroue begin ontwikkel. Hoe sterker jou selfvertroue, hoe meer verander jou denke. En nuwe denke lei weer tot aksie, en aksie tot uitkoms. Soveel meer rede om daardie eerste moeilike tree te neem!
Fiksheid is een van die beste maniere om dissipline in jou lewe te handhaaf, omdat dit ’n voortdurende proses is. Dit is nie iets waarheen jy net werk, die wenstreep bereik en dan klaar is nie. Dit is iets waarmee jy jou hele lewe lank volhou, op voortbou en instandhou.
Dis nooit te laat om fiks te word nie
Soveel mense het egter die verkeerde idee hieromtrent. Hulle begin aan hulle fiksheid werk met die verkeerde voorneme. Om byvoorbeeld net fiks te word om gewig te verloor. Of om aan ’n groot geleentheid te kan deelneem.
Sodra hulle besef dat dit ’n lewenslange proses is, verander dit hulle hele lewe. Dit raak dan deel van ’n nuwe fikse en gesonde leefstyl. Dit word deel van hulle daaglikse roetine.
Dit is nooit te laat om te begin nie. Dit raak wel al hoe moeiliker hoe later ’n mens begin. En dan mag ’n mens dalk ook meer op die spel hê om te verloor, as wat jy nou het.
Buig daarom die boompie terwyl hy nog jonk is. Neem sommer nou daardie eerste stap. As jy eers weer aan die beweeg kom, gaan jy besef wat jy al die tyd misgeloop het.
Daag jouself uit om die eerste tree op die pad na fiksheid te neem. Dit sal jou lewe verander.
En onthou, die tweede tree is regtig altyd net een tree weg van die eerste.