So baie hoor ons stories oor mense wat groot verliese ly en as gevolg van hierdie verliese, lewensveranderende keuses maak. Met ons gesondheid het ons een, en moontlik nét een geleentheid.
Die bose kringloop van alewige verskonings
Een van die fokuspunte is nie net die einddoel nie, om by ’n sekere gewig of fiksheidsvlak uit te kom nie. Dit is ook hoe om toegewyd te bly lewe om daardie vlak van fisieke en psigiese gesondheid te behou. Kry hulp met hierdie doelwitte en hoe om toegewyd te bly.
Vroue is geneig tot emosionele eetgewoontes. Dit kan ongelukkig tot dieselfde, en selfs meer skade lei as jy in die web verval van weer en weer …
Wanneer ek na myself, my vriende, familie en kliënte kyk, is daar een algemene ooreenstemming. Alles in ons lewe word altyd eerste gesit, behalwe die fisieke en emosionele welstand van ons as mens.
Dit ontaard in ’n bose kringloop van alewige verskonings, bejammering en dan, die verskriklike vergryping aan trooskos. Daarmee saam raak die lus, krag en selfdissipline al hoe minder om aktief te raak en te begin oefen. Om ’n holistiese, gesonde leefstyl te beoefen.
Fiksheid gebeur nie oornag nie
Om fiks en gesond te lewe is nie iets wat oornag kan gebeur nie. Dit is nie ’n vinnige tiendag- of seswekeplan nie. Baie mense soek ’n kitsoplossing. Hulle wil, sodra hulle voel hulle pas weer in daardie geliefde nommer-10-broek, weer “teruggaan” en “normaal” lewe.
Die besluit om ’n gesonde, volhoubare fiksheidsleefstyl aan te neem, is iets wat ons eerstens vir onsself moet besluit. Niemand kan dit vir jou doen nie. Jy moet dit ook nie vir iemand anders probeer doen nie. Dit is ’n besluit wat jy moet neem en elke dag aan moet werk!
Die belangrikste is om te onthou dat daar nie ’n einde aan hierdie pad moet wees nie. Dit is iets waarop jy trots moet wees. Mense moet aan jou leefstyl kan sien met wie hulle hier te doen het.
Haal die tekkies uit die kas
As jy beheer van jou persoonlike wil neem, fisiek, emosioneel en psigies, is ’n goeie detoks nodig. Dit beteken jy moet ontslae raak van alle negatiewe denke, negatiewe mense en negatiewe gedrag in jou lewe.
Gooi alle kos uit wat nie jou liggaam skoon en gesond kan maak nie, en ook alles wat geprosesseer is. As iets eers deur prosessering gegaan het, is dit nie goed vir jou nie. Eet suiwer en wees verlief op jou leefstyl.
Dan is dit ook nou tyd om daardie tekkies uit die kas te gaan haal en die stof af te skud. Natuurlik is dit belangrik om die olifant happie vir happie te eet. ’n Mens kan immers nie ’n marathon ná net ’n week se oefen aandurf nie.
Dit is natuurlik baie belangrik om te doen wat vir jóú lekker is! Ek wens ek kan mense laat verstaan hoe ongelooflik goed oefening jou laat voel. Daar is niks soos die vrystelling van daardie endorfiene in jou brein nie!
God se kos is ons medisyne op aarde. Oefening moet ons versterking wees. Die moeilikste stap is verseker die eerste. Wat ons egter nou doen, is om versekering uit te neem vir ’n gesonde oudag.
Jy bestee nie aan jou gesondheid nie, jy belê daarin. Moet dus nie wag vir môre om goeie keuses oor jou gesondheid uit te oefen nie. Maak skoon en neem daardie eerste stap. Fiksheid is elke dag ’n nuwe keuse. Begin vandag! Môre kan dalk net te laat wees.