Sterk, passievol, avontuurlustig – daar is ’n klomp gepaste woorde om die aktrise CHRISTIA VISSER te beskryf, maar vir haar is eerlikheid die belangrikste. Om opreg te wees oor wie sy is.
Die trane rol oor haar wange. Sy kan dit nie glo nie! Sy weet dis alles net skinderstories, maar dit sny diep. Woorde wat bedoel is om af te kraak en te breek, en dít van mense wat soveel ouer is as sy. Mense wat van beter behoort te weet …
Sy het nooit gedink haar graad 7-jaar gaan so moeilik wees nie. Om uit hierdie diep gat van depressie te kruip waarin sy geval het, is skielik haar grootste uitdaging.
In die middae ná skool trek die jong Christia die kamerdeur agter haar toe, gaan lê op haar bed en begin net sing. Melodieë wat haar siel lawe. Wat soos vingers sagkens oor haar seerkry streel.
Wanneer raak dinge beter? Hoe lank vat skinderstories om te verdwyn?
Arme Ma en Pa. Hulle is rasend van bekommernis. Sy weet hulle ken haar nie só nie. Die woorde lê soos groot vraagtekens in hulle oë: “Waar is ons vrolike, energieke kind? Wat het van haar geword?”
Sy wonder self. Weke word later maande, en die seer bly klou.
’n Geskinder sterf nie ’n vinnige dood nie, besef sy.
Ek het in daardie tyd my krag en deursettingsvermoë ontdek. Voor dit was daar baie fases; elkeen ’n poging om in te pas by ander, maar nie noodwendig mý waarheid nie.
Dit het een moeilike jaar geverg om my te laat besef: Eintlik wil ek net myself wees. Sterk, onafhanklik en bereid om op te staan vir wat reg is. Ek wou mense se misplaaste opinies oor my verkeerd bewys. Vir dié wat so baie te sê gehad het, wys dat sukses ook vir my moontlik is. Wag maar en kyk.
Dit was ’n slegte tyd in my lewe. Ek het baie gehuil, maar dit het ook my karakter help vorm.
Daar is ’n paar kernwaardes wat vir my as kind op Swellendam deel van my menswees geword het. Dinge soos lojaliteit, deursettingsvermoë, integriteit en individualiteit. Dinge wat ek al vroeg-vroeg moes aanleer.
Vandag weet ek: Daar is geen beter weergawe van jouself as die ware jy nie. Om vreesloos te wees oor wie en wat jy is, is jou grootste geskenk aan jouself.
Omdat ek emosioneel en sensitief is, raak dinge my intens aan. Die grootste een van almal was die dag toe ek besluit het om gedoop te word. Dit het my lewe totaal en al verander, op ’n goeie manier. Soveel nuwe deure het oopgegaan. En wanneer dit moeilik gaan, het ek iets rotsvas om op terug te val.
As kunstenaar gaan my kreatiewe brein soms ’n bietjie mal. Benewens my passie vir geloof, die natuur en my gesin, het ek onlangs teruggekeer na my eerste passie as kind: musiek. Dis ongelooflik lekker om te reis deur woorde, stories en melodieë. Om liedjies te skryf wat iemand iets laat vóél.
My strewe is om die beste weergawe van myself te wees. Jy kan net dáár uitkom as jy geloof, hoop en liefde het, omring deur mense wat jou daarin steun.
My strewe is om ’n gee-mens te wees. Iemand wat ’n positiewe verskil maak. Liefdevol, passievol, maar bowenal oop, eerlik en opreg.