CHANTEL STRUWIG werk hard om die beste weergawe van haarself te wees en sodoende lewens te verander. Sy gebruik sosiale media om vroue te motiveer.
Niks is belangriker as jou naastes nie
Ek glo jou huis is waar jou hart is. My geliefdes woon almal in Pretoria en daarom verkies ek om ook in die Jakarandastad, waar ek grootgeword het, te bly en my lewe daar te bou.
Niks is vir my belangriker as my naastes nie en ek wys dit graag vir hulle. Van kleins af, kon ek op my ma se ondersteuning staat maak en sy beteken die wêreld vir my.
Op die oomblik studeer ek modeontwerp, terwyl ek my ander passies uitleef en ’n inkomste verdien.
My eerste verbrokkelde verhouding het my lewe verander. Nadat ons opgebreek het, was ek baie verlore. Ek het nie geweet wat om met myself te doen, wie ek is of wat my lewensdoel is nie.
In daai oomblik, wat ek op my hartseerste was, het ek nie ’n ander keuse gehad as om te veg om myself weer te vind nie.
Ek het daarna alles in die Here se hande geplaas!
Ek en my ma is regtig beste vriendinne. Sy weet alles van my en ek weet alles van haar. Ons deel ons drome, emosies, frustrasies en geluk met mekaar. Tussen ons bestaan ’n veilige ruimte waar ons kan afpak oor enigiets wat pla.
Ons verhouding is baie sterk en spesiaal en niks sal dit ook kan laat verbrokkel nie.
My ma is soos ’n vriendin vir my en ek glo dat dit is wat ons verhouding gesond hou.
Om mense te inspireer, is ’n wonderlike ding
Werk help my om uit my gemaksone te tree. As beïnvloeder in sosiale media, is dit my werk om bemarkingsveldtogte vir verskillende handelsmerke te doen.
Vir my is dit ’n groot voorreg om die geleentheid te hê om kreatief te wees wanneer ek inhoud saamstel. Dit lei dikwels tot unieke ervaringe, wat my uit my gemaksone druk.
Die beste van alles is dat ek ’n verskil kan maak in die lewens van mense wat my video’s kyk.
Om mense te inspireer, is vir my baie belangrik. Die wete dat ek deur my werk ander motiveer om hulleself te aanvaar vir presies wie hulle is en dit te omhels, maak my gelukkig.
As iemand vir my sê watter inspirasie ek vir hulle is, weet ek dat ek besig is om iets reg te doen.
In my persoonlike lewe stel ek vir myself baie doelwitte, maar die grootste daarvan is om elke dag ’n beter mens as gister te wees.
Niemand gaan die lewe vir my leef nie. Ek is die enigste persoon wat verantwoordelik is vir my toekoms.
Ek pas hierdie beginsel toe deur hoë standaarde te stel en om slegs op myself staat te maak om my te kry waar ek eendag wil wees.
Moenie op ander staat maak om mooi te voel en gelukkig te wees nie. ’n Vrou moet dit alles vir haarself wees en doen.