Ek wil verander, maar hoe?

0
1798
Liesel Krause-Wiid

’n Erkende fout is halfpad oorwin. Om te verander, moet jy besef daar is dinge wat jy anders sal moet begin doen.

Jy sit in ’n vergadering en die partye stem nie saam nie. Jy weet jy moet kalm bly, maar daar doen jy sowaar die teenoorgestelde!

Dalk het iets soortgelyks al met jou gebeur tydens ’n gesprek met jou man of jou tienerdogter. Jy weet jy moet nie nou jou humeur verloor of sê wat jy dink nie, tog doen jy dit in elk geval. Jy weet watter optrede in sekere omstandighede nodig is; jy weet jy moet ’n wag voor jou mond sit, maar jy doen dit nie.

Paulus sê ons gees is gedurig in stryd met God se Gees binne ons. Die enigste manier om te verander is om die eie ek te kruisig en die beheer aan Hom oor te gee.

Hou op probeer en gee liewer oor

Die Engelse gesegde stel dit mooi: “We must go from admiration of Jesus to imitation of Him.” Ons kan nie net goeie optrede bewonder of net bloot weet wat reg is nie. Ons moet dit doen ook.

Soms probeer ons hard om beter mense te wees, maar nou en dan word die krake sigbaar. Dink jy jy kan innerlik verander deur net harder te probeer? Met ander woorde, kan jy liefdevoller raak, meer vergewensgesind en vreugdevoller wees of ’n sagter hart kweek deur harder te probeer?

Met sommige dinge kan jy harder probeer en jy sal slaag, soos om minder te eet of jou werk beter te doen. maar as ons probeer om nie kwaad te word nie, gebeur die lewe en ons verloor ons humeur. Ons probeer liefde bewys al voel ons nie so, en val terug. Ons probeer die ander wang draai, maar sukkel.

Jy verander as jy van jou eie troon afklim

Hoe kan ek verander? vra iemand my die ander dag. Ek het beslis nie al die antwoorde nie, maar een ding weet ek uit ondervinding: Ons kan nie op ons eie verander nie, al probeer ons ook hoe hard!

Jy mag dalk die môre opstaan en besluit: Vandag gaan ek liefdevoller wees, vandag gaan ek vriendeliker, geduldiger en meer vergewensgesind wees. Sodra daar egter ’n bietjie moeilikheid kom, val ons terug!

Jesus gee ’n nuwe manier. Dis nie nog ’n wet of nog harde werk nie. Hy sê: “Kom na My toe. Leef in ’n liefdevolle verhouding met My, en jy sál verander!”

Verandering vind plaas as ons leeg raak van onsself en vol word van die Gees. Jy verander as jy van die troon van jou lewe afklim. Om jou eie ek te kruisig is nie maklik nie, maar wanneer jy dit doen, verander jou manier van dink en leef. As jy leeg word van jouself, word jy gevul met deurdringende liefde en kyk jy anders na mense en die wêreld om jou.

Leef nuut by die werk en by die kerk

Terwyl ons vol is van onsself, nog gepla is met ons eie ek, en wanneer die lewe net om onsself draai, gaan ons sukkel om anders te leef.

Groei vind plaas wanneer ons besef ons staan volkome gestroop voor die Vader. Ons moet beheer oorgee, want op ons eie sal ons nooit kan verander nie. As jy nie meer op die troon van jou lewe sit nie, dan verander jy. Jy kry ’n nuwe hart en verstand.

Ek kan nie leef soos ek wil nie. Ek kan nie by die koffieafspraak of by die haarkapper of op Facebook vergeet ek is ’n volgeling van Jesus is nie. Ek noem dit sommer verkleurmannetjie-geloof.

Toe my seuntjie, klein Siebert, begin praat het, het hy gebry. Hy sou in die oggend vir my vra: “Gaan Mamma kegggrk toe of wegggrk toe?” Ek is ’n predikant, maar ook betrokke by ons familiebesigheid. Sy woorde het my laat besef dat ek nie by die werk anders kan optree as by die kerk nie.

Besluit hoe jy graag as mens wil leef en wees. Sien die prentjie in jou kop. Besluit om die pad van verandering enduit te stap deur Hom op die troon van jou lewe te plaas.

Liesel Krause-Wiid, predikant

Kliek hier vir meer videos en artikels van Liesel.