Dis maklik om in swak gewoontes vas te val. Deur meer bewustelik te leef, ontdek jy wat jou motiveer én terughou sodat jy beter keuses maak en gesonder leef.
Jou gedagtes, gevoelens en sensasies beïnvloed jou gesondheid
Van tyd tot tyd moet ons bestekopname doen. Selfs al het jy die beste jaar nog, is daar altyd iets wat beter kan wees. Wat het gewerk? En wat het nie so goed gewerk nie?
Sê nou daar was iets wat jou brein skerper kon maak, stres kon verlaag en jou bui kon verbeter? En dit sonder enige newe-effekte.
Hierdie juweel is nou in jou hande, sonder om daarvoor tou te staan of internettoegang te hê.
Mindfulness is om elke oomblik bewus te wees van jou gedagtes, gevoelens en sensasies. Om te weet watter dinge jou dryf, motiveer, of groei blokkeer.
Met oefening sal jy besef hoe jou gedagtes, gevoelens en sensasies mekaar en die manier waarop jy die wêreld ervaar, beïnvloed.
Aanvanklik is dit vreemd. Ons gedagtes is gewoond daaraan om te dwaal. Jy sal geneig wees om by een gedagte of gevoel vas te steek, en dit soos voorheen te analiseer.
Natuurlik is dit soms nodig. Maar jy moet ook bloot net in die oomblik kan wees. Sonder om meegesleur te word deur gedagtes of gevoelens wat skade kan aanrig as jy te lank daaraan vasklou.
Die enigste plek waar jy kan wees, is die hier en die nou. Natuurlik moet jy beplan vir die toekoms en lesse leer uit die verlede, maar daar moet ’n balans wees.
Hoe meer jy oefen, hoe makliker sal dit wees om jou aandag te fokus daar waar jy dit wil hê, eerder as waarheen dit outomaties gaan.
Meditasie laat jou liggaamlik en geestelik gesonder voel
Jou gedagtes kan so maklik ’n rigting inskiet wat nie altyd positief is nie en kan lei tot onvergenoegdheid of negatiwiteit. Fokus eerder op alles wat mooi is en waarvoor jy alles dankbaar moet wees.
Hierdie bewustheid moet doelbewus wees. Dit is die vermoë om met ’n absolute deernis bewus te word van alles wat om ons aangaan.
Die kraan wat drup. Die hond wat blaf. Die ketel wat kook. Die luier van die motor se enjin. Die gevoel van die sagte mat onder jou kaal voete.
Meditasie kan die beste geskenk wees wat jy vir jouself kan gee! Wanneer jou liggaam in harmonie is met jou kop, het jy dalk binnekort nie meer pynpille vir skete en kwale nodig nie.
God verwag van ons om doelbewus stil te raak en op Hom te fokus. Om te mediteer oor Sy goedheid.
Hy verwag ook dat ons asemhaal, so wees ’n bobaas-asemhaler! ’n Mens sou dink dat asemhaling tog natuurlik kom, ons doen dit dan sonder om te probeer. Soos jy hierdie lees, is dit nie ’n bewustelike poging van jou kant af nie.
Maar wat as jy nou net hier stop om te lees. Haal. Asem. Haal diep asem en hou dit vir 2 lang sekondes in, en blaas doelbewus en stadig vir 4 sekondes uit.
Die voordele van diep asemhaling is legio! Ons senuweestelsel is so geskape om ons te help om ons angsvlak in stresvolle situasies te beheer deur diep en stadig asem te haal. Die longe raak sommer ontslae van afvalstowwe, fisiek én emosioneel!
Net 10 minute se meditasie daagliks help jou om meer gefokus te wees en minder stres te ervaar. As dit vir jou ’n nuutjie is, begin met net vyf minute op ’n slag.
Meditasie gee jou klein rusperiodes wat voordelig is vir die genesing van jou emosies en liggaam. Jy sal sommer veiliger en sterker voel.
Maak dit deel van jou oggend- en aandroetine. Terwyl jy jou vogroom aanwend, haal diep asem en sê mooi goed vir jou plooie! Dink hoe ferm, glad en plomp jou vel voel. Hoe jeugdig jou vel gloei.
Jy sal voel hoe hierdie mooi woorde binnetoe vloei en deur elke sel van jou wese spoel. Jou selle sal reageer op dit wat jy vir hulle fluister en jy sal die mooi uitstraal. Dis beter as Botox!
Motiveer jouself met nuwe, gesonde gewoontes
Motivering is ’n mite. ’n Muse ook. Talle skrywers sê as hulle vir die muse moes wag om hulle te inspireer om te skryf, sou hulle vir ewig gewag het.
Motivering werk dieselfde. Iemand wat lyk asof hulle altyd gemotiveerd is, het maar net van goeie gewoontes ’n roetine gemaak.
Roetine raak later ’n leefstyl. Dit is tog ’n gesonde leefstyl waarna ons streef wat op lang termyn volhoubaar is.
Die “hoekom” is altyd belangriker as die “hoe”. Want met ’n goeie “hoekom” is die “hoe” slegs in die detail.
’n Goeie idee is om jou “hoekom” sigbaar te maak. Dit kan ’n visuele bord wees met foto’s van jou familie. Dit kan ’n brief aan jouself wees waarin jy jou doelwitte vaspen en kort-kort weer kan gaan lees.
Dit moet egter tasbaar wees. Dit moet jou terugneem na die oomblik toe jy besluit het om die arena te betree. En dit moet jou ’n visie en hoop vir die volgende stap gee.
Is jy vasgevang in ’n ou roetine van slegte gewoontes? Begin deur eerlik te wees en te vergeet hoe jy gedink het dinge moet wees.
Begin jou gesonde roetine deur elke oggend op te staan en een ding anders te doen om jouself te motiveer.
Luister na jou gunstelingmusiek, dit is soos kos vir die siel. Sing sommer kliphard saam. Of lees ’n bladsy uit ’n motiverende boek. Enigiets wat vir jou werk en die stemming vir die dag bepaal. Dit laat jou bewus raak van die nuwe rigting wat jy wil inslaan.
Moenie wag vir Maandag nie, begin dit net doen. Dis die sleutel tot enige leefstyl-verandering – om net te begin en jou verskonings by die deur te los.
Daar sal goeie en slegte dae kom. Druk net deur en onthou hoekom jy die besluit geneem het. Stel jou doelwitte en doen die aksie met intensie.
Eet die olifant stuk vir stuk, want jy kan nie ’n olifant heel insluk nie. Klein treetjies is die geheim. Sodra jou oggendroetine gevestig is, kan jy met die volgende deeltjie van jou dag begin.
Onthou jy verdien ook geluk. Hou op verskonings maak en wag vir die regte tyd of geleentheid. Jou geluk is jou verantwoordelikheid. Begin klein, maar begin vandag nog.
Maak jou drome van welstand konkreet en prakties
Ons ken almal daardie gevoel wanneer die wekker in die oggend afgaan en jy weet dis tyd om op te staan. Daar is so baie dinge om vandag te doen. Maar dit is veel lekkerder om net die snooze-knoppie te druk, die kombers oor jou kop te trek en nog ’n bietjie langer te lê.
Die vraag is, hoe kom jy uit hierdie bose kringloop om ’n beter jy – meer produktief en positief – te wees?
Dit help om iets tasbaars te hê waar jy met een oogopslag kan sien wat die groter prentjie van jou lewe is. As jy weet hoe vandag daarby kan inpas, sal jy ook meer gemotiveerd wees om aan die gang te kom.
’n Lekker praktiese oefening om jou te help om te fokus op wat regtig belangrik is, is ’n visiebord. In plaas van vae stellings en gedagtes, kry iets konkreet om jou drome te anker.
Kry ’n paar tydskrifte en knip prente en woorde uit wat met jou hart praat. Of druk mooi foto’s uit wat jy met jou selfoon geneem het. Plak dit op ’n stuk karton of papier wat jy selfs kan raam as jy wil.
Hierdie aktiwiteit dwing jou om bewustelik te dink aan wat vir jou belangrik is en waarnatoe jy met jou lewe mik.
Hang dit iewers waar jy elke dag daarteen kan vaskyk en kan sien waarnatoe jy op pad is.
Dit sal jou help om te fokus op wat nou belangrik is en om makliker “nee” te sê vir dié dinge wat onnodige tyd steel.
Skryf kort en kragtige “Ek is”-stellings neer. Onthou, woorde dra krag. Dit kan sinne wees soos: “Ek is vriendelik”, “Ek is produktief”, “Ek is fiks”, “Ek is gesond”, “Ek is uniek”.
Hou dit lekker kort sodat jy dit maklik kan onthou. Skryf of tik dit op mooi papier en steek dit ook teen jou visiebord vas.
Elke keer as daardie negatiewe selfpraatjies weer wil opduik, vervang dit dadelik met hierdie stellings. Hoe meer jy dit doen, hoe beter sal jy daarmee word.
Regdeur die dag, terwyl jy bene rek of ’n koppie tee geniet, kan jy voor die bord gaan staan. So kan jy net weer fokus en kyk of jy nog op koers is na die eindpunt.
Hou dit lewendig en vars. Elke jaar of ses maande kan jy jou bord weer opkikker met nuwe drome soos jy vorder en groei.