Voormalige Mej. Heelal DEMI–LEIGH TEBOW is van jongs af seker van haar eie doelwitte en drome. Sy weet stereotipes word afgebreek deur net jouself te wees.
Bereik jou doelwit deur harde werk en deursettingsvermoë
Mense het my nog altyd in die skoonheidskoninginboksie geplaas. Dit het gevoel of die indruk bestaan dat jy slegs ’n mooi gesiggie is wat pragtige rokkies dra en nie eintlik baie slim is nie.
Vooropgestelde idees kan misleidend wees.
Soms kyk jy na bekende mense en stereotipeer hulle as byvoorbeeld ’n tipiese rugbyspeler of aktrise. As jy self in die kollig kom en beleef hoe ander jóú ook so sien, word jy heelwat versigtiger om sommer net ’n opinie oor iemand te vorm. Jy moet hulle eers self van naderby leer ken.
As mense my ontmoet en sê hulle beeld dat ek snobisties en onvriendelik gaan wees, heeltemal verkeerd was, laat dit my hart warm klop.
Dit is belangrik dat jong meisies uit my optrede en houding iets sal kry waarmee hulle wil identifiseer. Dalk omdat hulle iets van hulleself raaksien.
Om te kom waar ek vandag is, het harde werk en deursettingsvermoë gekos. Reeds van ’n jong ouderdom af was my fokus op die posisie van hoofmeisie by my skool. Dit het beteken dat daar ’n groter fokus moes wees om akademies te presteer.
Sportdeelname en betrokkenheid by verskeie komitees moes ook ’n prioriteit word. Met tye moes pret en plesier selfs op die agtergrond geskuif word vir fokus op die regte doelwitte. Dit was nie altyd maklik nie omdat nie almal dit verstaan het nie.
Dit was dus van jongs af vir my belangrik om seker te maak dat daar ’n verstaan is van my eie doelwitte en die rigting waarin my drome sou gaan. As hierdie dinge reg is, kan niemand se negatiewe persepsie of kommentaar jou ontstel of seermaak nie.
Jóú droom kan ook ’n inspirasie wees vir ander
Een van die hoogtepunte van my kinderjare was om saam met my ma na die jaarlikse kroning van Suid- Afrika se mooistes te kyk.
Met glinsterende oë het ek op die TV gesien hoe Cindy Nell gekroon is. Sy was perfek, ’n rolmodel, iemand soos wie ek graag wou wees.
Universiteit was ’n duidelike kontras met my besige skoolloopbaan. Behalwe die akademie was daar geen “jy moet dit doen”-verantwoordelikhede nie.
Om te gaan oefen of na ’n koffiewinkel toe te gaan, was nou vir die lekkerte. Dit was ’n tyd om myself te ontdek.
’n Vriend het my vir die Mej. Intervarsity-kompetisie ingeskryf. Groot was ons almal se verbasing toe dié titel na my kant toe kom – asook die nasionale Mej. Intervarsity-titel. Eers hier het die kompetisie vir Suid- Afrika se mooistes weer begin wink.
Ter voorbereiding vir hierdie doelwit moes daar ’n paar veranderings kom. Redevoering en debat het nou ’n fokusarea geword. Die vermoë om ’n sterk opinie te vorm en te kommunikeer was broodnodig as ek wou goed vaar in die kompetisie. Cindy Nell het my destyds geïnspireer en ek wou vir ander jongmense wys dat jy nie perfek hoef te wees nie.
Deur net jouself te wees, is jy spesiaal en uniek.
Onnodige kritiek sal daar altyd wees. Dit maak seer, maar ek het besef dat ’n mens in sulke situasies na jou eie hart moet gaan kyk. As jou bedoelings opreg was en jy ’n skoon gewete het, is daar niks om oor sleg te voel nie. Uiteindelik is wat Hy dink die belangrikste. Dis wat tel.
Gee jou planne en bekommernisse oor aan God
My verhouding met die Skepper speel ’n belangrike rol in my lewe. ’n Mens kan nooit verwag om groot dinge te bereik sonder harde werk nie. Tog, as jy jou ure insit, kom Hy en sit wind in jou seile om die onmoontlike moontlik te maak.
Om as finalis in ons land se grootste skoonheidskompetisie gekies te word, was groot. Om te wen, was ’n wonderwerk!
Ná my kroning as Mej. Suid-Afrika het daar eendag iets gebeur wat ’n groot effek gehad het.
Ek was op pad na ’n funksie toe, nie ver van die huis af nie. By ’n verkeerslig het vier mans na my motor toe aangestap gekom. Twee van hulle was aan die bestuurder se kant en twee aan die passasierskant. Hulle het aan die motorruite geklop en ’n vuurwapen op my gerig. Ek was vasgevang in die verkeer, daar was nêrens om heen te vlug nie.
In daardie oomblik waar jy met ’n kloppende hart jou motor se deur oopmaak en uitklim en terselfdertyd voel hoe die kaper jou probeer terugdruk, besef jy hoe weerloos jy is. Gelukkig het die adrenalien en my ingeoefende kennis van hoe om sulke situasies te hanteer, oorgeneem.
In Women Empowered is ons geleer om ’n aanvaller op die keel te slaan en dan te vlug. Dis presies wat gebeur het.
Wat skokkend was, is dat niemand my wou help nie. Na tevergeefse kloppe aan ’n klomp motorruite, was dit uiteindelik ’n meisie wat my opgelaai en na veiligheid geneem het.
Daardie dag het ons Vader my beskerm. Te midde van die chaos het ’n kalmte oor my neergedaal. Drie veiligheidswagte wat op pad huis toe was en alles gesien het, het uit hulle taxi gespring en op die kapers toegeslaan. Die aanvallers het gevlug en my motor is teruggevind.
Pak uitdagings aan sonder om verskonings te maak
Baie mense probeer om geluk in ’n verhouding te vind, maar dit werk nie so nie. Jy moet eers met jouself gelukkig wees voor jy kan verwag om geluk by iemand anders te kry. Elke dag is tog ’n geskenk waarvoor ’n mens baie dankbaar moet wees.
As mense my vra om myself te beskryf, sal dit heel moontlik so klink: “The girl that went for it.” Iemand wat uitdagings met albei hande aanpak en nie verskonings gebruik vir hoekom dit nie gedoen kan word nie.
Ek het stadigaan besef ware geluk lê nie in iets wat jy bereik nie, dit gaan oor of jy gelukkig met jouself is of nie. Daar gaan natuurlik altyd mense wees wat jou stereotipeer of slegsê of nie van jou hou nie, maar dit kom gewoonlik van mense wat eintlik self sleg voel oor hulleself.
My raad aan jong meisies is om eerder te probeer om daardie punt te bereik waar jy nie meer toelaat dat ander se opinies jou seermaak nie.
Vind uit wie jy is, want jy is meer spesiaal as wat jy dink. As ek terugkyk, weet ek ’n mens moenie so streng met jouself wees nie. Leef in die oomblik. Wees teenwoordig hier en nou. Die tyd gaan baie vinnig verby en as dit eers verlore is, is dit vir ewig verlore.
Beplan dus vir die toekoms, maar leef ook in die hede en leer om te ontspan. Ek het al baie doelwitte bereik, maar dit het baie geverg – en soms het ek selfs onnodig baie pret verlore laat gaan omdat ek te gefokus was.
As ’n mens te gedrewe raak, trap jy maklik in die strik waar niks ooit vir jou genoeg is nie. Moenie die klein dinge miskyk nie.
Verhoudings en vriendskappe bly ’n prioriteit. Kom ons hou aan bou aan die klein dinge. Uiteindelik is dit die belangrikste.
“Onnodige kritiek sal daar altyd wees. Dit maak seer, maar ek het besef dat ’n mens in sulke situasies na jou eie hart moet gaan kyk. As jou bedoelings opreg was, is daar niks om oor sleg te voel nie.”