“God het my nog nooit gelos nie”

354
Marno van der Merwe

In die film Bond of Blood draai die hoofkarakter, vertolk deur MARNO VAN DER MERWE, sy rug op sy ouerhuis. Só word die verhaal van ’n verlore seun van vandag vertel. In die werklike lewe moes Marno ook opnuut leer waar sy hulp vandaan kom.

My hele lewe en loopbaan was ’n geloofsreis. Kerk het vir my baie gou meer as net die gebou van bakstene geword waar ek Sondae na ’n preek gaan luister.

My wonderlike ma was ten volle uitverkoop aan Jesus. By haar was daar nooit enige twyfel nie – geloof en gebed was die eerste en enigste uitweg uit enige situasie.

As jong seun het ek meer as een keer die voorreg gehad om te sien en beleef hoe iemand se gebed en geloof wonderwerke verrig. Ek het tóé daaraan geglo, en ek glo steeds onwrikbaar daaraan.

Die eerste keer toe ek gesien het hoe kragtig gebed is, was ek seker net sewe jaar oud. My hondjie het weggeraak. Vandag kan ek nie eens meer sy naam onthou nie, maar ek onthou hoe ons na hom gesoek het. Alles verniet.

Na drie dae het ek moed verloor. Sou ek hom ooit weer sien? My hart het gebreek. En my ma s’n ook. Ek dink haar hartseer het meer gegaan oor haar kind se seerkry as oor die hondjie. Saam het ek en my ma op ons knieë gegaan en gebid.

“Nou gaan ons vertrou dat ons die hondjie gaan kry,” het ons besluit. En toe gebeur dit!

Daardie ervaring het oneindig baie vir my geloof beteken. Wat ’n wonderlike voorreg om te beleef!

Maar ek sou meer lesse by my diere leer. My pa het vir my ’n fantastiese perd gegee. Saam met my broer het hy van my en my perd skoukampioene gemaak.

As jong seun het ek aan skouvertonings vir Arabiese perde deelgeneem en was gelukkig genoeg om klas op klas te wen.

Ek en my geliefde perd was ’n gedugte span. Toe gebeur die ergste – my perd kry koliek.

Perdekenners weet al dat ’n perd wat koliek kry, nie veel kans op oorlewing het nie. Weer is ons as gesin op ons knieë gedwing. Ons het saam gebid. In die sitkamer, in my kamer, oral.

My pa het ’n besondere wysheid wanneer dit by perde kom. Ook dit, glo ek, kom van Bo.

Die perd het net één kans gehad. My pa moes ’n tegniek op hom uitvoer waarvan selfs die veearts nie veel geweet het nie en dit nie wou waag nie.

Maar dit het gewerk! My perd het oorleef. God het ingegryp en ’n wonderwerk gedoen.

Omdat ons geglo het…

Al wat ek wou doen, was om rugby te speel. Van jongs af was dit my droom.

Sommer gou het ek begin uitblink en as negejarige het ons in die Noordwes-liga meegeding. Maar toe kry ek pampoentjies en kon nie in die laaste paar wedstryde speel nie. Vreemd genoeg is dit ’n teleurstelling wat vandag nog by my spook.

Die volgende jaar wou ek weer probeer. Hierdie keer het ek my arm gebreek en moes weer op die pawiljoen sit terwyl my span op die veld uitdraf. Ek het terugbaklei met alles in my en in my hoërskooljare vir die eerste span gespeel.

Totdat ek my enkel gebreek het! Ek dink ek het daar besef rugby sou nie my loopbaan kan wees nie, selfs al het ek na skool weer klubrugby gespeel. Maar so met die rugbybal onder my arm is ’n ander saadjie geplant.

My ouer broer en suster het in die kerk se orkes gespeel. My broer het my sommer nog as klein seuntjie agter ’n tromstel laat sit om saam te speel. Daar was tóé al ’n begeerte in my om meer te doen.

Ek wou kitaar speel en sing ook. Selfs op my fiets op pad rugby toe, het ek luidkeels daaraan geoefen. Niemand het my eens meer vreemd aangekyk nie! Hulle het te gewoond geraak daaraan dat ek altyd en oral aan die sing was.

In baie opsigte het ek my loopbaan te danke aan my broer wat my van jongs af aan musiek en die verhoog blootgestel het. Dit was ook hy wat my later my eerste drie drukke op die kitaar geleer het.

Ná skool het ek ’n diensjaar gaan doen by Acts Ambassadors en met drama kennis gemaak. Omdat ek nie wou toneelspeel nie, het ek nie vir ’n oudisie vir een van die rolle gegaan nie.

Maar toe word ek tog ’n rol aangebied. Om my rug op ’n “vaste” werk te keer en ’n loopbaan van toneelspel te maak was een van die eerste geloofsbesluite wat ek geneem het.

Maar ek wou weet dat dit die regte besluit was en het vir ’n teken gevra. ’n Deurbraak.

Ek wou ’n voet in die deur van die bedryf kry. Toe doen ek die Daniël-vas, en bid en vertrou vir ses weke.

Dit was asof die deure vir my oopgeslaan is. En die eerste produksie waarvan ek deel was, het die mees gepaste titel gedra – Houtkruis!

My geloofspad met God was nie altyd maklik nie.

Dit het ook al moeiliker geraak om die Here se stem te hoor. Daar was te veel aanbiedings en ek was te kieskeurig.

Daarom het ek verkeerde keuses begin maak. Ek het besig geraak, dalk te besig. In plaas van op my knieë, het ek op my voete begin werk.

In dié proses het ek baie dinge verloor waarmee die Here my wou seën.

My passie het al hoe minder en minder geword. Snags as ek slaap, het ek nagmerries gekry en angsaanvalle het my wakker laat skrik.

Wat gaan aan? Dis tog waarvoor ek so hard gewerk het – ek was veronderstel om te skitter. Maar ek kon nie.

Toe gaan klop ek tog om hulp aan. “Jy gaan uitbrand,” is ek gewaarsku, “jy sal moet briek aandraai.”

As jy fisieke en emosionele uitbranding nie goed bestuur nie, kan dit tot depressie lei. Depressie was iets wat ek voorheen nie kon verstaan nie, want ek het geglo jy ruk jou eenvoudig reg wanneer jy daardeur geteister word.

Nou moes ek werklikhede waarvan ek niks geweet het nie in die gesig kyk. Ek was veronderstel om te rus, maar ek kon nie. My program was te vol.

Dit was donker voor my. My energie en motivering was heeltemal weg. Soms het ek skaars geweet hoe om deur die volgende paar minute te kom, wat nog van ’n hele dag? ’n Week? ’n Maand?

Ek het myself begin ondersoek, my fokus verskuif, weer my oë op Jesus gerig, en beter begin voel.

Dit het gehelp om te onthou wie en wat ek is – en wil wees.

Ek weet nou dat ek nooit op my eie krag en insig kan staatmaak nie.

In my donker dae het niemand op stel geweet waardeur ek gaan nie, maar ek kon soms wegglip om te bid. “Here, help my, asseblief,” sou ek vra. “Gee my net die nodige krag, asseblief. Sien my en help my in hierdie oomblik.”

En my God het my nooit begewe of verlaat in daardie tye nie.

Ek weet nie hoe oorleef enigiemand in vandag se wêreld sonder geloof en sonder Jesus nie. Ek weet ek kan nie, en ek is bevoorreg dat ek nie eens hoef te probeer nie.

Stres en emosionele pyn het ’n groter uitwerking as wat ’n mens besef, maar selfs daardeur hoef ek nie alleen te sukkel nie.

En dan besef ek, ek kan net dankie sê.

Dankie, Here, vir U genade en liefde. Vir mense wat ek kan bel. Mense wat vir my bid en vir die wonderlike wete dat ek self ook kan bid en die vertroosting en oorwinning wat daarin lê, kan ervaar.