Geluk is ’n keuse en nie ’n plek nie

Geluk is ’n keuse en nie ’n plek nie

ANJA DU PLESSIS, vrou van die voormalige Springbokrugbyspeler Bismarck du Plessis, het al duur lesse daar ver in Frankryk geleer. Soos dat jy jouself oral saamneem en dat geluk nie ’n plek is nie.

Jy neem jouself saam waar jy gaan

Mense sê kinders kan nie “gom” vir ’n huwelik wees nie, maar vir my en Bismarck is ons pragtige blondekopbulletjies ’n absolute seën wat ons al deur swaar tye gedra het.

Frankryk ... die land van sjampanje, kaviaar, styl en romanse.

Bismarck het ’n ...

ANJA DU PLESSIS, vrou van die voormalige Springbokrugbyspeler Bismarck du Plessis, het al duur lesse daar ver in Frankryk geleer. Soos dat jy jouself oral saamneem en dat geluk nie ’n plek is nie.

Jy neem jouself saam waar jy gaan

Mense sê kinders kan nie “gom” vir ’n huwelik wees nie, maar vir my en Bismarck is ons pragtige blondekopbulletjies ’n absolute seën wat ons al deur swaar tye gedra het.

Frankryk … die land van sjampanje, kaviaar, styl en romanse.

Bismarck het ’n kontrak by die klubrugbyspan Montpellier geteken, en kort ná ons troue het ons soontoe verhuis. Groot opwinding. ’n Splinternuwe avontuur.

Maar ook ’n moeilike en uitdagende aanpassing. ’n Tyd van groei wat my laat besef het dat die fondasie waarop jy jou lewe en huwelik bou, sal bepaal of jy staande gaan bly of gaan vou.

Ons is op baie vlakke getoets, maar ons waardes en fondasie was sterk, en ons seuntjies het dit selfs sterker gemaak.

In moeilike tye leer jy wat regtig belangrik is. Soos dat ongeag waar jy in die wêreld gaan, jy steeds jouself saamvat.

Die gras lyk mos vir ons almal groener aan die ander kant van die draad.

Kyk, Frankryk ís droommooi: die markte, brode, wyne, kase, verruklike ou geboue.

Maar wie jy ook al is – al die dinge wat jou jóú maak – vat jy saam met jou na daardie einste groen gras toe.

Jou hart en drome, jou positiwiteit en negatiwiteit, ideale, sorge, foute, dit gaan alles saam.

Ek het geleer jy kan vlug na ’n plek toe wat jy dink mooier en beter is, maar as jy nie gelukkig is met waar jy nou is nie, gaan jy ook nie in die groener gras gelukkig wees nie.

As jy nie by jou huis in Pretoria, Bloemfontein of Kaapstad gelukkig is nie, verseker ek jou jy gaan ook nie in ’n mooi dorpie in die suide van Frankryk gelukkig wees nie.

Mense wat nou gefrustreerd voel met hulleself en hulle lewens, gaan enige plek ter wêreld gefrustreerd voel.

Ma-wees en vrou-wees is ’n groot voorreg

As mense na my lewe of profiel op sosiale media kyk, sal baie dalk dink: “Waarvan praat hierdie Anja? Sy het dan ’n idilliese lewe.”

Die realiteit is: Dieselfde uitdagings waarmee hulle worstel, is ook my daaglikse stryd.

Ek moet ook hard werk aan my tekortkominge, aanpas in moeilike omstandighede, ’n ma en vrou wees, en probeer om iets van waarde met my lewe te doen.

My grootste persoonlike tekortkoming was nog altyd die bekommernis dat ek nie goed genoeg is nie.

Daardie kommer oor wat van my gaan word. Gaan ek ooit ’n beroep hê? ’n Goeie salaris verdien? Sal ek ooit die een of ander status bereik?

Dit het met tye al krisisafmetings in my kop aangeneem.

Dis hoekom ek sê: Al is jy in die groenste gras ter wêreld, kan jy steeds in ’n gat sit, want wat jy oor jouself en jou lewe dink, vat jy saam met jou.

In die vreemde, ver weg van al die mense en dinge wat bekend is, moes ek opnuut diep gaan grawe in my psige, en tot die besef kom dat status en titels nie van my ’n “iemand” gaan maak nie.

Ek maak van myself wie ek is.

Nou kry ek baie skaam daaroor, maar in ’n stadium het ek selfs gedink: “Ek is maar net ’n ma, so, ek is eintlik niks.”

Wat ’n dwase gedagte. Ek het nie toe besef wat hierdie rol beteken nie. Uiteindelik moes ek my afvra: Waarna streef jy so, Anja? Vir wie wil jy wat bewys?

Want eintlik is ma- en vrou-wees van die grootste voorregte wat daar is. Dit gee my hierdie wonderlike geleentheid om my kinders se karakters te help vorm en hulle vir die Here groot te maak. Daar is geen groter taak as dit nie.

Ek wil bo alles ’n visser van mense wees, en my gesin – die mense naaste aan my – is my eerste prioriteit.

Ons fokus moet bly op God

In die vreemde besef ek ook vir die eerste keer hoe bederf ons in Suid-Afrika is. Ek vermoed ons waardeer nie altyd ons geestelike leiers of goeie kerke nie.

Dis eers wanneer jy nie ’n kerk het om na toe te gaan nie dat jy agterkom watter voorreg dit is om een te hê.

In Europa glo baie mense aan niks. Dis hartseer.

Ons het ’n klein kerkie in ons omgewing ontdek en het verbete daaraan vasgeklou, want ek en Bismarck het besef ’n huis moet geestelike kos kry. Daarsonder ly jy honger op ’n veel dieper vlak. Ek weet dit nou meer as ooit vantevore.

Ek lees nie altyd my Bybel nie en raak dikwels bekommerd en benoud oor simpel, aardse goed.

Maar ek ken Hom in al my keuses en het ’n heilige ontsag vir die Here. Ek besef dat al my dade, mooi praatjies en indrukwekkende woorde eintlik maar nietig is.

Ek dink ons vroue mis so baie in ons daaglikse stryd om die perfekte beeld van onsself en ons lewens te probeer skep. Ons moet ons sokkies begin optrek – en ek praat van myself ook.

Die wêreld is besig om fokus te verloor en dit is ons, die vroue en ma’s, wat ons gesinne help om op koers te bly. Ons is na Sy beeld gemaak, ons man se gelyke, maar ook sy hulp.

Geluk is ’n keuse, nie ’n plek of gevoel nie

Eintlik voel ek soos die mees bedorwe vrou op aarde, want ek het hierdie ongelooflike kans gekry om my kinders self groot te maak.

Ek gee nie meer om oor hoeveel mooi rokke ek nog gaan aanskaf of hoe deftig my huis moet lyk nie.

Die voorreg wat ek het om my kinders groot te maak in die weë van die Here, oortref hierdie dinge verreweg.

Daar is baie op die spel. Ek sien hoe ons ons besittings en ons ydelheid beskerm. Maar ons beskerm nie juis ons geloof nie.

Ons bou kastele. Koop nóg ’n mat en nóg ’n bank. Kasjmier en suiwer linne, want alles moet die regte look en feelhê, jy weet?

“En kinders, moet tog nie op die nuwe meubelstuk gaan sit nie,” maan Ma. “Want dit gaan verniel.”

Ek moes my ook afvra: Wanneer is mooi mooi genoeg? En wat gaan my kinders uit ’n beheptheid met aardse goed leer? Dat “mooi”, “duur” en “perfek” vir jou geluk koop?

Dit gaan nie. Dis net ’n kortpad na goedvoel, maar dis nie blywend nie.

Ek wil my wedloop in die lewe met volharding hardloop. Voluit, enduit, in die regte rigting.

Op ’n pad wat ewigheidswaarde het – vir my en my gesin. Én selfs al verloop my lewe nie soos ek dit beplan het nie, gaan ek steeds koersvas bly en op God se perfekte tydsberekening vertrou.

My ma het my geleer dat as iets goeie vrug dra, dan kom dit van die Here af, want Hy bring groei, vreugde, hoop en ’n toekoms.

Geluk is immers ’n keuse, nie ’n plek of ’n gevoel nie.

Wie weet, iewers tussendeur dit alles en as Sy tyd reg is, tel ek weer die drade op van ’n droom en passie wat steeds in my hart brand.

Deel die artikel

Méér artikels

As jong meisie het sangeres en TV–aanbieder ROUCHELLE LIEDEMANN se swak selfbeeld haar lank gekeer om haar drome uit te leef. Vandag leef sy in ...

SOEKIE KROG van Radikids-faam het al haar kwota swak besluite geneem, maar dit het haar die vermoë gegee om vandag beter keuses te kan maak. ...

Scroll to Top