JUANITA DE VILLIERS moet elke dag hard werk, maar met God se genade is sy dankbaar vir die kans om ’n werk te doen waarvoor sy baie lief geraak het.
Die soektog na jou roeping in die lewe
Jare lank het ek soos Moses van die Bybel gevoel … en soms voel ek steeds só. Moses moes Farao gaan oortuig dat hy die Israeliete moes laat trek, maar hy het nie opgewasse vir die taak gevoel nie. Sy spraakgebrek het hom gepootjie, en toe smeek hy die Here om eerder iemand anders in sy plek te gebruik.
Dié stuk in die Bybel het ek opnuut in my universiteitsjare raakgelees en besef: Maar dis ék daai.
Dis hoe ek al jare lank voel! Al het ek nie ’n fisiese gebrek soos Moses wat gehakkel het nie, sukkel ek ook soms om te praat – veral as ek in ’n stresvolle situasie is. Dan sê ek my sinne verkeerd of ruil my woorde om.
Dit kom van kleins af. Al is dit nooit formeel by my gediagnoseer nie, is ek effens disleksies.
Toe ek in graad 2 was, het ek spraakterapie gekry omdat ek “ban” gesê het in plaas van “bang”. Ek kon nie my tong om die ng-klank kry nie.
Op skool het ek gou die grap van die klas geword, die een wat met klaslees of mondelinge die sinne agterstevoor lees of die woorde heeltemal verkeerd uitspreek. Later het ek daaraan gewoond geraak en maar saamgelag. Wat anders kan jy doen?
Maar iewers, hier diep binne, het dit tog seergemaak. Ek was selfbewus en het begin glo ek gaan dié “gebrek” nooit te bowe kom nie. Dit het gevoel of ek eenvoudig nie goed genoeg was nie.
My pa het altyd gesê ek kan enigiets word. Die probleem was egter dat ek lank geen idee gehad het wat ek met my lewe wou doen nie.
Ek kon nog altyd goed dans, en het reeds op skool die onderwyserseksamens in ballet, klopdanse en modelwerk voltooi.
Vat ’n kans op ’n onbekende toekoms
Om my lyf op die maat van musiek te beweeg, was soveel anders – vryer en lekkerder – as om voor ’n klomp mense hardop te lees of te praat. Dit het heeltemal natuurlik gekom, soos asemhaal.
Toe ek ouer word, het ’n kniebesering egter enige moontlikheid van ’n dansloopbaan vernietig.
My eerste skuif in die rigting van die dramawêreld het toevallig in my matriekjaar gebeur. Ek het aan die dans- en modelwerkkategorieë deelgeneem van die Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunste in Los Angeles en gevolglik my Biologie-eindeksamen misgeloop!
Ek het my doodgestres en gewonder of ek die eerste hoofmeisie van ons skool gaan wees wat druip. Gelukkig het ek deurgekom, maar ek kon die gevolge nog lank daarna voel.
Met net vyf vakke kon ek nie universiteitstoelating kry nie. Toe skryf ek my by die technikon in om ’n tandheelkunde assistent te word. ’n Jaar later wou ek universiteit toe gaan (vir mondhigiëne), maar is steeds afgekeur. Twee jaar agtermekaar!
Ek onthou hoe ek op die dag van my tweede aansoek saam met my ma in die ry by die universiteit gestaan het. Sy het nog gesê: “Vul ’n tweede keuse in, net ingeval.” Ingeval wat? het ek gewonder, want ek was so seker dat hulle my hierdie keer sou aanvaar.
Wat moet ek in elk geval as tweede opsie neerskryf? Ek kon aan niks dink nie. Snaaks genoeg onthou ek toe dat my nefie opera gestudeer het, en hoe ek en hy eenkeer oor die dramastudente gesels het.
Hy het nog gesê hy weet nie hoekom enigiemand drama wil gaan studeer nie; almal weet tog daar is nie werk nie. En ek dink so ewe: “Ja, dis lekker dom. Hoekom wil jy vir iets gaan studeer as jy niks daarmee kan doen nie?”
Maar wat vul ek die volgende oomblik as tweede keuse op my vorm in? Drama.
Leer om aan te pas wanneer jou toekomsplanne verander
’n Paar weke later lê daar ’n brief van die universiteit in ons posbus. Ek was baie gretig om dit oop te maak. Mondhigiëne, hier kom ons!
Groot was my ontnugtering toe ek lees: “It is with a sense of pity that we have to inform you …” Ek is vir ’n tweede keer nie vir die kursus aanvaar nie! “… but your application for Drama has been accepted.”
Wat? Ek het nie geweet of ek moes lag of huil nie. Maar met die aanvang van die nuwe akademiese jaar het ek, op die rype ouderdom van 23, by Tukkies se dramadepartement opgedaag.
In daardie eerste week het al die studente een middag buite op die gras gesit en gesels. Ek het om my gekyk en ’n lekker gevoel in my hart gekry. Hierdie is mý mense. Ons aanvaar en verstaan mekaar. Dís waar ek hoort.
Die tyd op universiteit was van die waardevolste jare in my lewe. In die dramadepartement leer hulle jou hoe om jou stem en spraak reg te gebruik.
Ek het nie net geleer om my psige, lyf en stem as ’n instrument saam te laat werk nie, maar ook hoe om my groot vyand, stres, op sy plek te sit.
In die eerste twee jaar was dit omtrent al waarop ons gefokus het. Later begin dit voel of jy jou tyd mors. Dis asemhalingsoefeninge, stemoefeninge, ontspanningsoefeninge … Wat is die nut, het ek baiemaal gewonder.
Ons het ure lank op die vloer gelê en geleer om ons liggame in ’n neutrale toestand te kry. Ons het ook eindelose ure geoefen om reg asem te haal.
Wat jy eintlik leer, is om jou hele liggaam as ’n mikrofoon vir jou stem te gebruik. Vir iemand met my soort “spraakgebrek”, was hierdie opleiding goud werd.
God sal jou by die regte werk laat uitkom
Ek staan vandag nog steeds verstom oor hoe die Here my op presies die regte plek gekry het, sodat ek by die beroep kon uitkom wat Hy vir my in gedagte gehad het.
Maar ek sê nie dit was maklik nie. Vir hierdie meisie van die Noord-Kaapse platteland af was die stads-en universiteitslewe ’n groot aanpassing. Ek kon vir die eerste jaar omtrent glad nie Engels praat nie.
Daar was so baie woorde wat ek nie verstaan het nie. Vandag lag ek daaroor, maar dit was nogal ’n probleem om in Afrikaans te dink, praat en skryf, terwyl al die klaswerk en boeke in Engels was.
Weer was ek die grap van die klas, maar hierdie keer was dit anders as op skool. Hulle het nie vír my gelag nie, hulle het sáám met my gelag, en teen my tweede jaar het ek Engels al mooi onder die knie gehad.
Drama-opleiding het my probleem egter nie volkome genees nie. Soms raak my woorde steeds deurmekaar, maar ek weet nou ten minste hoe om dit te hanteer.
Ek het geleer dat akteurwees nie oor jóú gaan nie. As ek ’n karakter vertolk, is dit nie ek, Juanita, wat in die kollig is nie. Die fokus is op my karakter – dit het niks met my as mens te doen nie.
Partymaal maak ek steeds foute, en dan voel ek weer hoe die rooiheid tot in my gesig opstoot. Gelukkig werk ek dikwels saam met gesoute akteurs wat heeltemal bereid is om hulle kennis te deel.
Soos Moses kan ek sê dat ek deur God se genade iets wat vir my onmoontlik gelyk het, kon regkry. Deesdae kan ek my prate praat, sonder om te voel ek is nie goed genoeg nie. Ek weet ek is, want die Here het self hierdie beroep vir my gekies.
“Ek staan vandag nog steeds verstom oor hoe die Here my op presies die regte plek gekry het, sodat ek by die beroep kon uitkom wat Hy vir my in gedagte gehad het.”