Stephanie Baartman – ons ken haar as Bibi in Getroud met Rugby – ken diep seer. Ná baie jare se mishandeling is sy uiteindelik tot op die uiterste gedryf. Daar was geen omdraaikans vir haar nie. Vandag kan sy met dankbaarheid terugkyk met die besef dat God niks sonder ’n rede laat gebeur nie.
Hy was daar en het my noodroep gehoor
Oë rooi gehuil. Gesig geswel. Lip gekneus. ’n Ma met twee klein kindertjies wat voor die polisiestasie staan en wag. Die vernedering oop en bloot vir die hele wêreld om te sien.
Ons klere in swart sakke en lakens toegevou. Nie ’n sent op my naam nie. Mae wat grom van die honger … en die polisiemanne wat verbyloop en lag. Hulle het dié prentjie al baie gesien.
Kon ek hulle kwalik neem? As ’n mens nog nie ’n dag in iemand anders se skoene geloop het nie, is dit maklik om te oordeel. Om te grinnik en te dink: “Wat het dié vrou gedoen dat haar man haar moes slaan en soos ’n sleg hond wegjaag?”
Gisteraand was ’n “laaang” nag. Vir die eerste keer die besef dat dinge nie langer so kan aangaan nie. Dít na jare se ja en amen en weer probeer. By hom mag daar nie teruggepraat word nie, maar ek wou my sê, sê. Al wéér.
Hy het nie op hom laat wag nie. Eers geskree en gevloek, en toe val die houe. “Trap, vroumens! Jy weet mos nie wanneer om stil te bly nie. Gee pad uit die huis uit, vanaand nog!”
Nou is dit vinnig dink. Gryp die motorsleutels, steek die selfoon weg en vlug koes-koes by die voordeur uit. Klim in die kar, kruip onder tussen die sitplekke in en sluit die deure. Want hier is dit veilig. Vir nou.
Hy sal nie skroom om my te verniel met die stokke en klippe in sy hande nie, maar met sy motor word daar baie versigtiger gewerk. Snikkend lê ek en wag dat die donderweer in sy stem en vuiste krag verloor.
En toe is dit stil. “Here, asseblief … as U my vannag hierdeur help, is dit ’n belofte. Ek sal U vir ewig dien. En hierdie man los. Finaal.”
Dis ’n gebed wat al soveel keer vantevore gebid is, maar hierdie keer is die laaste.
Sien swaarkry as deel van God se plan
Dis tyd om pad te gee. Vir sanity en veiligheid. Terwyl daar nog ’n klein bietjie krag en lewe hier binne oor is. Bid, huil en bel. Oor en oor. Die hele nag deur.
Die polisie het eers vroeg die volgende oggend opgedaag. “Waarheen moet ons jou en kinders vat?” vra hulle. “Ek weet nie …” Te skaam om my ma-hulle doer in die Kaap te bel. Wonderlike ouers. Kerkmense. Hoe kan ek hulle met hierdie skande opsaal?
“Here … asseblief … waarheen?”
Ek blaai-blaai weer van voor af deur die adresboekie en sien die naam van ’n ou universiteitsvriendin. Stuur ’n Please Call Me. Dankie tog. Uitkoms! Sy is bereid om ons te kom haal. ’n Tydelike heenkome te bied.
Ons ry verby die area waar ons gebly het. My seuntjie begin histeries huil. Toemaar, Dumatjie. Ons gaan nie weer huis toe nie. Nóóit weer nie.
Hoe beland ’n mens in so ’n situasie? Hoekom in ’n huwelik bly waar jy fisiek en emosioneel mishandel word? Vandag vra ek dieselfde vrae. Maar daar het ook intussen antwoorde en nuwe insigte gekom.
Dit vat lank voor ’n vrou besef sy word mishandel.
Hy was nie ’n drinker nie, maar sy humeur was kort en giftig. Die tekens was daar. Die verstikkende jaloesie, die beledigings en die lelike manier waarop hy sy ma behandel het.
Dinge het so vinnig gebeur. Ons het mekaar maar ’n maand geken toe ek swanger raak. Ons is kort daarna getroud. Pas mondig. Nog nat agter die ore. Ek weet nie van beter nie.
Die eerste keer het my só onkant gevang dat ’n mens jouself later vertel dit het nooit gebeur nie. Maar die houe het altyd weer en weer gekom.
“Want. Ek. Moet. Jou. Leer. Hoe om ’n goeie vrou wees,” het hy tussendeur die klappe gesê. “Jou ma-hulle het jou nie mooi gewys nie. Iemand moet jou reghelp, anders gaan jy nêrens in die lewe kom nie.”
Verandering kom wanneer jy oorgee en Hom vertrou
Later word die beledigings ’n mens se waarheid. “Jy ís sleg. Vuil. Nikswerd.” Die fisieke geweld was soms skokkend. Nogtans het ek sewe jaar gebly.
Die redes was legio. “Wat gaan die mense sê? Hoe gaan my ouers voel? Hy sál verander. Dis beter vir die kinders om in ’n huis groot te word waar Ma en Pa saam onder een dak is.
“Dis my Christelike plig om te bly. Die Here wil my hier hê en ek moet die pad enduit loop.” Soveel redes – nie almal geldig nie.
My grootste innerlike stryd was om nie ’n egskeidingstatistiek te word nie. Ek het bly glo ’n mens kan steeds in ’n verkeerde huwelik blom en groei.
Toe nie!
God moes my ontwortel en dit was séér. Dit was die moeilikste tyd van my lewe, maar uiteindelik elke traan werd.
Partymaal bly ons in slegte situasies omdat vrees en trots ons daar hou. Verandering kom wanneer God toegelaat word om in die omstandighede te werk. Wanneer jy oorgee en Hom vertrou.
’n Prentjie voor op die boks van ’n legkaart. Mooi en heel. Dis die beeld wat eendag by my opgekom het. Die legkaart was volledig op die boks (dis hoe die Here my sien), maar binne-in het alles in stukke gelê. Hoe nou?
“Nou is dit jou werk om die stukke, sáám met My, inmekaar te pas.”
Dit was ’n deurbraak-oomblik … om te snap dat ek Hom meer nodig het as ’n man. Dat Hy in my lewe belangriker is as die stabiliteit van ’n huis, blink karre en geld.
Die besef dat daar van die begin af ’n plan was en dat niks, maar niks, sonder ’n rede gebeur nie. Die wete dat ons hier is, nie vir een of ander wetenskaplike rede nie, maar vir God se glorie.
Baie nuwe dinge moes geleer word. Dat ek waardig is. Mooi, talentvol, sterk. Dat ek op my eie twee voete my plek in hierdie wêreld kan volstaan.
Werk saam aan Sy doel sodat jy kan groei
Dank die Here dat Hy presies geweet het wie om na my toe te stuur.
Steve was die laaste stukkie van die legkaart. Die man met wie ek vandag, jare ná die trauma, getroud is.
Ons het saam grootgeword en was lank vriende. ’n Wonderlike mens. Diep gelowig. Maar ons paaie het geskei toe hy destyds geweier het om na die troue toe te kom. “Moenie met daardie man trou nie,” het hy gewaarsku, sonder om self presies te weet hoekom nie.
Ek kon nie die afkeer verstaan nie en was baie kwaad. “Watter tipe vriend is jy? Vriende help en ondersteun mekaar.” Hy het, maar ek was te blind. Te ver van die Here af om mooi te kon hoor. Maar nou was dit tyd om gesond te word.
Steve het van ’n afstand af gehelp. My aangemoedig om weer in die Woord te delf. Te bid. In die kerk te sing. Te dien, sodat ek kon groei.
Vir my kinders, Symphony en Duma, het hy gereeld gesê hoe kosbaar hulle is. “God se oogappels.” Sy oogmerk was nie om my op hom verlief te maak nie, maar op Jesus. Hy wou dáárdie liefde en passie weer wakker maak. Hoe ongelooflik is dit nie?
Stukkie vir stukkie het my binneste gesond geraak. Toe gebeur dit. Die oomblik toe ek weer heel in myself is – met my oë gefokus na Bo – kon ek dit raaksien. Dat hierdie man as my maat geskep is. God se keuse.
Die besef dat in ’n gelukkige, vervulde huwelik, een en een drie maak. Jy, hy en die Heilige Gees. Verhoudings, sonder daardie diep geestelike fondasie, kraak dikwels.
Op ons troue het my pa twee dinge vir Steve gesê. “Dankie dat jy ons dogter vir ons teruggegee het. En dankie dat sy weer haar lag ontdek het.” Dit het vir lank opgehou. “Jy lag te hard en te uitspattig,” was my eksman se mening.
God het my seer in seën verander
Mishandeling hoef nie fisiek te wees nie. En fisieke wonde word gouer gesond. Dis die innerlike kneusplekke wat langer vat.
Wanneer iemand jou reg om jouself te wees onderdruk, is dit al klaar verkeerd. Die oomblik dat jy nie kan lag soos jy lag, kou soos jy wil kou nie, of praat met wie jy wil praat nie, is dit abuse.
Dit was belangrik om te besef dat ek myself mág wees. Dat my pyn en my foute my nie definieer nie. Ons identiteit lê nie in ander se kwetsende woorde nie, maar in wat God oor ons sê. Dis al wat tel.
Daar is ’n paar dinge wat nooit weer toegelaat sal word nie. Niemand gaan my weer minderwaardig laat voel nie, my keer om te wees wie ek gemaak is om te wees nie.
En nooit weer sal daar ’n skeuring in my verhouding met die Here kom nie, want dáár het die probleme begin.
Wat ’n voorreg om weer bewus te wees van Sy nabyheid. Om te kan gesels, dankie te sê en te bid vir leiding – in groot en klein besluite.
Ek het geleer Hy is ’n God van tweede, derde en vierde kanse. Iemand wat nooit moeg raak vir ons trane nie. Sy geduld is eindeloos. Sy onsigbare hand is altyd daar. Geen probleem is so onmoontlik dat daar nie ’n uitkoms is nie.
My lewe tot hier toe is een groot storie van geloof. ’n Getuienis dat dit wat stukkend is, heelgemaak kan word. Nie omdat ek goed is nie, maar omdat Hy God is.
Niemand van ons is per ongeluk op die aarde nie. Nie een is ’n fout nie. Geen traan of letsel is verniet nie.
Wie jy ook al is, wat jou storie ook al is, hou vas aan hoop en weet dít: Jy is goud werd, en sal weer skitter en skyn. Ek het.