Predikant LIESEL KRAUSE–WIID het tydens die Oulike ma–bederfdag gesê jy is nie ’n alleenouer nie. Jou kind is in die eerste plek God se kind.
Aan die begin het ek ’n klomp miskrame gehad en uiteindelik is Carmen gebore. Ek was ’n bietjie paranoïes oor my eersteling.
Niemand mag haar vasgehou het nie, want ek was bang hulle laat haar val. En niemand mag haar te veel soen nie, want netnou raak sy siek.
Vertrou die Here om jou te help besluite neem
Toe Carmen ses maande oud is, is ons Suidkus toe. Ons word die oggend wakker en sy het ’n uitslag oor haar hele lyf. Ek sê vir Siebert ons moet onmiddellik hospitaal toe jaag, ons kind het babamasels.
Ons kom by die hospitaal en hulle ondersoek haar. Die dokter kyk my so en hy sê: “Mevrou, hierdie is die Suidkus, jy trek jou kind te warm aan. Sy het ’n hitteuitslag.” As ek koud gekry het, moes Carmen twee truie aantrek.
Daar het ek besef: Ek moet oorgee aan die Here. Ek kan nie 24 uur ’n dag my kind oppas nie. Sy is in die eerste plek Sy kind.
Toe het ek haar meer begin geniet – toe ek oorgegee het.
Ek doen my beste as mamma, maar gelukkig hoef ek nie my beste te vertrou nie. Ek vertrou God. En ek weet God het my kinders se toekoms in Sy hand.
Dit gee my gemoedsrus.
Ons is gebroke. Ons maak foute.
Ek skree wanneer ek nie moet skree nie. Ek sê die verkeerde goed. Ek is gebroke, maar God kan ons gebruik ongeag ons gebrokenheid.
Jy is nie ’n alleenouer nie. Jou kind is in die eerste plek God se kind en dan is jy ’n instrument.
Jy is nie afhanklik van jou eie insig en wysheid wat jy het of hoe jy grootgemaak is nie.
Die Griekse woord vir Heilige Gees is “Parakletos”. Dit beteken “Helper”. Hy is jou helper.
Hy maak wakker in jou hoe jy moet optree. Hy gee vir jou insig, Hy gee vir jou wysheid. Hy gee vir jou energie wanneer jy nie meer kan nie. Hy gee vir jou kalmte.
Dit is die Heilige Gees se krag wat jy tot jou beskikking het.
Die wysheid om reg te kies kom van God
Ons moet ingeskakel wees by Hom. Sy Woord gee vir ons wonderlike wyshede.
In die Bybel lees ons: “Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is” (Psalm 119:130).
Die eerste paar dae in die hospitaal nadat Carmen gebore is, help die verpleegsters jou. Dan moet jy huis toe gaan met hierdie baba. Dan dink jy: Kan een van hierdie verpleegsters nie dalk saamkom huis toe nie? Ek weet nie hoe om hierdie te doen nie. Jy voel onervare.
Luister wat sê die Woord: “Hy gee insig vir dié wat onervare is.” Vertrou God met jou wese.
Toe Siebert klein was, het ek – as ek in die oggend sy sonblok aansit – vir hom gebid. Party dae vergeet ek, dan kom hy na my toe en hy sê: “Mamma het die sonblok vergeet.” Eintlik wat hy vir my sê, is: “Mamma, bid vir my.”
Bid vir jou kinders, kliphard. Want jou kinders moet jou hoor bid. Hulle moet jou sien bid. Jy moet saam met hulle bid en hulle moet jou op jou knieë uitvang.
Ek hoor die anderdag van ’n man met drie seuns. Hy sê vandat hulle gebore is, bid hy vir hulle vroue. Nou is hulle almal ouer en getroud. Toe die seuns hulle trouvroue huis toe gebring het, het hy vir hulle gesê: “Jy ken my nie, maar ek het jou hele lewe lank al vir jou gebid.”
Wat kies jy? Wil jy self daardie kindertjies probeer groot kry op jou eie, met jou eie insig? Of wil jy intap op die krag van die Heilige Gees van God? Van die “Parakletos”, jou Helper, wat jou help om jou kinders groot te maak. Wat jou insig en wysheid gee.