Gretha Wiid deel eerlik oor geloof, vergifnis en hoe God haar deur pyn, uitdagings en moeilike oomblikke van herstel gelei het.
Hoe het jou pad na vergifnis gelyk en wat was jou swaarste en mooiste draaipunte?
Vergifnis is ’n groot onderwerp. As ek terugkyk op my reis, was dit lank en uitmergelend. My vergifnispad het begin toe my huwelik verbrokkel het.
Ek was gebroke, stukkend en seer, maar ek het ’n baie definitiewe begrip gehad van wat God vir my oor genade, vryspraak en vergifnis sê.
Wanneer ’n mens die Woord ken en die beginsel daaragter verstaan, dryf dit jou na ’n plek van vryheid en gehoorsaamheid.
Daar was tye wat dit baie swaar was om te sien hoe dinge wat ons beplan het, deur iemand anders beleef word.
Een van my mooiste draaipunte was toe die Here my uitgedaag het: “Gretha, sal jy vir hulle begin bid en sal jy hulle seën?”
Die Here het my in my vlees en gees uitgedaag. Ek moes leer om nie net oor vergifnis te praat nie, maar dit werklik uit te leef.
Hoe help jy vroue om deur verraad, pyn en angs te beweeg na vergifnis en herstel?
Elke vrou stap haar eie pad. Daar is nie ’n definitiewe resep wat vir my werk en noodwendig vir jou sal werk nie. Daar is egter ’n paar beginsels wat belangrik is.
In ’n tyd van verraad of egskeiding dink ek dit is baie belangrik dat jy ’n gemeenskap om jou het wat jou kan ondersteun en ophelp. Al is dit iemand wat help trek, na jou kinders kyk of jou finansieel bystaan.
’n Vrou het mense rondom haar nodig wat saam met haar die pad stap. Dit is eintlik belangrik in enige seer – stap saam met gesonde mense.
Die tweede ding wat vir my belangrik is, is perspektief. Ons kan kies om vas te sit in ’n gedagte of herinnering totdat ons onsself in ’n gat bevind. Of ons kan kies om te sê: “Dankie Here dat U my vrygemaak het en dat U met my is en my nooit gaan los nie.”
Vir my gaan dit oor perspektief, my gedagtes en gemeenskap.
Hoe beskerm jy jou hart teen kritiek terwyl jy getrou bly aan God se roeping?
Ek dink ek is seker een van die vroue in Suid-Afrika wat die meeste kere verkeerd aangehaal word. Mense haal dikwels net ’n klein stukkie aan.
Kritiek is egter nie net iets wat mense op ’n publieke platform beleef nie. Dit gebeur in gemeenskappe, by die werk en oral waar mense jou dalk nie verstaan nie.
’n Publieke platform maak dit net soms meer ongenaakbaar, want mense vorm ’n opinie sonder om jou regtig te ken.
Ek moes vir myself besluit waar my anker is. Ek moes dit wat mense sê, gaan meet teen dit wat die Here sê en wat ek weet die waarheid is. Dit maak seer, maar ek kies om nie elke opinie my waarheid te maak nie.
As mense wat naby aan my is – en wie se wysheid en verhouding met die Here ek vertrou – iets uit liefde sê, luister ek. Ek gaan terug en worstel daarmee.
Die publiek se opinie moet nie die vyand se stem in jou kop word nie. Soms beteken dit jy moet grense stel, mense blok of jou hart beskerm.
Was daar tye wat jy God se rigting bevraagteken het wanneer gehoorsaamheid ’n groot prys gevra het?
Ek het al so baie met die Here geworstel oor dinge wat Hy van my gevra het.
Een van my mooiste getuienisse is toe ek die Here se stem gehoor het ná meer as 10 jaar se meestergraadstudie in opvoedkundige sielkunde aan Tuks: “Staak jou studies.”
Dit was vir my ’n groot worsteling. Dit was my finale graad ná alles wat ek geswot en bymekaargetrek het. Dit het gevoel asof die Here my net voor die wenstreep stop.
Vir 14 of 15 jaar het ek gewonder hoekom ek gehoorsaam moes wees. Ek moes nog net ’n paar modules voltooi. Jare later – te midde van ’n groot publieke hofsaak – het ek besef daardie besluit het my gespaar van baie moeilike gevolge.
Partykeer verstaan ons nie wat God van ons vra nie. Ons worstel, maar vandag weet ek: daar is niks soos gehoorsaamheid nie. As jy twyfel, doen soms die ding wat vir jou vlees die moeilikste is. Dit is dalk juis waarheen God jou lei.
Waaroor is jy spyt en wat het God jou deur dit geleer?
Ek is nie spyt oor die huwelik wat ek gehad het nie. Daar was baie mooi oomblikke, baie gesonde dinge en vier pragtige dogters is daaruit gebore.
Maar ek dink my spyt is dat ek nie vroeër besef het ek hoef nie elke keer net aan te hou vergewe en aanvaar nie. Ek hoef nie elke keer deur die vegwerk te gaan wanneer daar weer verraad, ’n affair of emosionele mishandeling is nie.
Ek dink daar is ’n deel van my wat wens ek het vroeër ’n grens getrek en besef dat ek nie in die huwelik hoef te bly nie.
Een van die moeilikste oomblikke was toe my dogter vir my gesê het: “Almal dink mamma is so sterk, maar jy is swak, want mamma het gebly.”
Dit was van die hardste woorde wat ek moes hoor. Dit het my na ’n plek geneem waar ek moes besef ek kon dalk vroeër ’n gesonder Gretha ontdek het.
Wat beteken dit vir jou wanneer ’n vrou haar innerlike krag ontdek en haar ware self omhels?
Ek dink die fyn balans wanneer ’n vrou haar innerlike krag ontdek, is om windgat én waardig te wees.
Jy moet windgat genoeg wees om te sê: “Weet jy wie is my Pa? My Pa is die Koning van hierdie wêreld en ek is Sy dogter. Ek is niemand se slaaf nie, niemand se byproduk nie en niemand se speelgoed nie. Ek is nie hier om net gebruik te word of om ander mense gelukkig te hou nie, want ek het waarde.”
Maar die balans is om nie jou waarde op trots te bou nie of op wat jy self dink jy is nie. Die Here moet aan ons werk sodat ons verstaan: Ja, jy is ongelooflik waardevol, maar jou waarde lê in wat Hy sê jy is.
Ek dink ons as vroue moet vroeër in ons lewens leer dat ons amazing is. Ons moet dit kan kommunikeer en verstaan dat ons waarde het. Moenie toelaat dat mense rondom jou jou afbreek of jou nie raaksien nie.