Die dag as jy trou, glo jy dat julle nooit dieselfde foute as ander paartjies sal maak nie, maar julle sal waarskynlik – en julle moet daaruit leer.
Paartjies moet hulleverhoudingsfoute kan herken enregstel
Dr. David Hawkins, skrywer van die boek 9 critical mistakes most couples make, glo dat baie huweliksprobleme opgelos en uitgeskakel kan word. Paartjies moet net die ernstige verhoudingsfoute wat hulle begaan, kan herken en regstel.
Albei partye moet natuurlik bereid wees om dit te doen. Probeer jou man oorreed om saam met jou te kyk of julle dalk julle huwelik in een van hierdie slaggate kan raaksien. Dis alreeds ’n goeie begin vir ’n gelukkiger huwelik!
Julle kan nie kalm bly nie en val aan. Is julle passievolle geliefdes in die aand maar die volgende oggend soos twee opponente in die bokskryt?
Dit gaan gewoonlik goed totdat een van julle daardie “warm” onderwerp aanroer. Dadelik is een op die aanval en die ander een op die verdediging. En dit raak persoonlik, met verwyte en beskuldigings wat heen en weer vlieg.
Voel dit asof jy en jou man dikwels in sirkels praat? In plaas van dat jy reguit en duidelik sê wat jy wil hê, is jy ontwykend. Jy sê dalk een ding, maar bedoel ’n ander. Of dalk luister julle bloot nie na mekaar nie, wat tot verwarring en die verkeerde afleidings lei.
Ontdek sielvolle luister as ’n vaardigheid. Dit beteken om nie net te luister na wat gesê word nie, maar ook na wat nié gesê word nie.
Dit is belangrik om die konflik op te los vóór julle in daardie verwoestende spiraal van beskuldigings beland. Probeer om die probleem, eerder as die persoon, aan te vat. Maak net eers seker dat julle weet wat die werklike probleem is!
Julle maak mekaar seer met woorde. Het skerp, venynige taal die algemene manier geword waarop julle met mekaar praat? Die rede is dalk dat jy vroeër in jou huwelik seergekry en (onwetend) besluit het dat hy daarvoor moet boet.
Jy het miskien vergewe, maar jy gaan nie vergeet nie – daarom herinner jy jou maat gereeld aan sy misstappe en foute.
Ontdek die slaggate wat jou huwelik kan sink
Probeer om Efesiërs 4:29 jou doelwit te maak en net te praat wat goed en opbouend is in elke situasie. Wees so ingestel op jou man se behoeftes dat jy sal weet wanneer hy bemoediging, aansporing of simpatie nodig het.
Los maar die ou koeie waar hulle hoort – in die sloot! Niemand kan namens jou besluit om te vergewe nie. Dit gebeur ook nie oornag nie. Soms kan dit jare neem, maar uiteindelik kan net vergifnis jou waarlik vrymaak.
Julle het nie grense in julle verhouding nie. Sukkel jy nog om vas te stel wat jou verantwoordelikheid is en wat jou man s’n is? Dalk voel jy misbruik omdat jy altyd die een is wat gee.
Jy het waarskynlik nog nie geleer om duidelike grense in die verhouding te stel nie. Sonder grense gaan jy net meer veronreg voel.
Jy is dalk gedurig besig om aan hom voor te skryf wat om te doen, hoe om dit te doen en wanneer. Daar is gewoonlik spesifieke omstandighede waar dit kan gebeur.
Jy glo miskien jy is al een wat weet hoe om julle baba te bad. Manlief bied aan om te help sodat jy kan rus, maar na een of twee probeerslae voel hy soos ’n mislukking omdat hy dit nie (volgens jou) presies reg kan doen nie.
Ons leer mense hoe om ons te behandel. As jy mense leer om jou grense te respekteer, sal hulle waarskynlik so maak.
Jy moet hom laat verstaan wat en hoeveel jy in staat is om te gee sodat jy ’n gelukkige, gebalanseerde mens kan wees. Maar dan moet jy ook bereid wees om hom dieselfde vryheid te gun.
Onthou, om foute te maak is nie ’n fout nie. Dis wel ’n fout om nie daaruit te leer nie!