Jy vind dit langs elke vleisbraaivuur of by kinderpartytjies – negatiewe brokkies nuus. Die ekonomie is in sy peetjie en werkloosheid en korrupsie gedy. Kan jy positief in so ’n negatiewe wêreld bly?
Ons vra liefdadigheidswerker TERSIA GOUWS
Dit gaan so sleg met ons land. Ons hoor: Almal is bang, niemand voel veilig nie.
Nêrens praat iemand oor iets positiefs wat hulle die week gedoen het nie. As jy iets goeds vir iemand anders doen, moet jy eerder daaroor stilbly. Om te spog, is mos sonde.
Nêrens vertel iemand oor iets goeds wat ander vir hulle gedoen het nie. Ons mense is te trots. Niemand praat oor daardie iets ongelooflik goeds wat God vir hulle gedoen het nie.
Negatiwiteit maak dit onmoontlik om te groei
Almal roep na God in moeilike tye. Tog kan ek nie verstaan nie. Niemand noem God binne hulle stringe bekommernisse langs die vleisbraaivuur nie.
Wie is ek om te stry? Baie van die mense is tog reg oor die werklikheid, die uitdagings waarvoor ons in die land te staan kom. Die werklikheid is hier persoonlik en persoonlik maak seer.
Negatiwiteit skep probleme. Niks kan daaruit groei nie.
Positief en negatief is teenoorgesteldes. Dis soos ’n vegetariër en ’n boereworsbraaikampioen.
Daar is ander Suid-Afrikaners wat hoop soek, kies en sien! Hoop se saadjie het iewers ’n kolletjie vrugbare grond getref. Dit ontkiem te midde van die dorstige droogte.
Hoop groei. Die Bokke het die Wêreldbekertoernooi in 2019 in Japan gewen. Daarna spring woorde op soos #strongertogether en #championstogether. ’n Hele land juig! Hoekom? Ons beleef eerstehands hoe ’n saadjie ontkiem en groei – hoop.
Jy dink dalk nou die mooi en lekker is iets van die verlede. Die vreugde en saamwees is verby. Dit was aangenaam, maar nou ploeter ons weer voort. Wat nou?
Hoop moet teen vrees en angs beskerm word
Geen plant kan sonder sonlig en water aanhou groei nie. Iemand moet vir die plant verantwoordelikheid neem.
Net so moet iemand verantwoordelikheid neem vir hoop wat wil groei. As daardie iemand jy is, mag jy ’n pragtige blom sien oopgaan.
Ek is ’n positiewe mens. Tog sukkel ek met vrees en angs.
Die leraar se boodskap sny een oggend deur my. Hy verduidelik: Die wêreld kan jou seermaak. Tog is daar een ding waaraan die wêreld nie kan raak nie. Jou siel, jou innerlike.
Wat dan van vrees? Vrees is opsioneel. Máár die Here breek dit vir my oop – vrees (my reus) is wat ek kies!
Ek begin my hoopplant water gee deur die Woord.
Ek kan nie aan jou voorskryf hoe om jou hoopplant te voed nie. Tog weet ek wat lewende water (die Woord) doen.
My plantjie begin groei. Daarom verander my prioriteite. Op geen manier mag my hoop beskadig word nie.
Laat hoop groei, deur die Woord wat lewe bring
Ek beperk die hoeveelheid negatiewe nuus waaraan ek myself blootstel. Ek vermy die swartgallige mense in my lewe.
My siel voel ligter, selfs nader aan die Een wat my gemaak het. Hy is die Een vir wie ek my hoop beskerm. Die Een wat my hoop rig.
Namate my hoopplant aanhou voortbestaan, gaan my oë oop. Ek waardeer die klein dingetjies.
Dis soos my kinders se sêgoed, die bure se hoenderhaan wat soggens kraai al bly ek in die stad. Ek merk die motorwag op wat daagliks vriendelik groet.
Dis reg. Ek begin ook ménse raaksien, hulle siel herontdek. Ek raak nie meer geïrriteerd met ander se negatiwiteit nie. In plaas daarvan sien ek die wortel van hulle vrese raak. Ek begin bid, want gebed is kompos.
Dis kompos wat uiters nodig is vir my eie plant. Dis net so nodig vir die hoopplante van my geliefdes, familie, vriende en kollegas. Dit geld ook vir hulle wat ek nie ken nie.