Wat as jaloesie jou vergiftig?

396

Die lewe is nie altyd regverdig nie. Wanneer jou vriendin meer aandag kry as jy of sy haar badkamer oordoen, raak jy sommer groen van jaloesie. Hoe keer jy dat afguns jou lewe vernietig?

Wees eerlik en erken dat jy soms afgunstig is

As ’n mens mooi dink, moet jy erken dat daar gereeld afgunstige gedagtes by jou opkom. Dit gebeur gewoonlik wanneer jy jouself met iemand anders vergelyk.

Hierdie ongelukkigheid wat jy ervaar, het meestal net een oorsaak en dit is dat jy jaloers is.

Elke keer wat dit lyk of iemand anders meer eer, erkenning, glimlagte, aanvaarding of wat ook al as jy kry, pla dit jou.

Die hele samelewing wil al hoe meer hê. Advertensies oortuig mense dat hulle gelukkig sal wees as hulle beter kan lyk en meer kan besit. Daarom voel jy maklik dat jy nie genoeg het nie of te min het. Dan sien jy mos altyd iemand raak wat wel meer het of meer bereik het of “voorgetrek” word.

Onthou, God kies jou vir ’n bepaalde rol wat jý moet speel of vir ’n taak wat jy moet verrig.

Dit is dalk nie altyd so glansryk as wat jy gehoop het nie, maar dis iets wat niemand anders presies soos jy kan doen nie. As jy dit vergeet, gryp die groen monster in en jy is op ’n negatiewe pad.

Afguns gaan dieper – dit het met jou selfbeeld te doen. Dit wys dat jy minderwaardig voel en dit nie kan hanteer as iemand anders op ’n bepaalde gebied bevoordeel word nie.

Ironies genoeg is niemand bereid om hulle bevordering of besitting af te staan as húlle weer die slag bo iemand anders bevoordeel word nie!

Bepaal die rede vir dié negatiewe gevoelens

Dink hoekom jy jaloers is. Dit het altyd ’n oorsaak. Moontlik is jou afguns die gevolg van die een of ander mislukking waarvan die seer nog vlak lê. Nou is jy te bang om weer te probeer.

Of jou minderwaardigheidsgevoel laat jou dink dat die lewe jou iets skuld. Om iemand van iets te wil beroof deur afguns, maak jou ongelukkig. Diep binnekant is jy bang dat jy tweede gaan kom en slegter as iemand anders gaan lyk.

Leer om doelbewus na ’n vriendin of kollega wat sukses behaal het te loop en te sê: “Baie geluk”. Jy hoef aanvanklik niks meer te sê nie.

Geniet die vreugde en opgewondenheid as jy saam met iemand in sy of haar oomblik van sukses deel. Die een of ander tyd gaan dit jou beurt wees en dan is dit lekker om dit met iemand te deel.

God se standaarde is anders. Hy vertrou aan jou sekere gawes toe en dan verwag Hy dat jy dit sal benut. Hy wil sien of jy met daardie gawes vir Hom gewoeker het.

Jy is jy – uniek, eiesoortig, spesiaal. Hy het vir jóú ’n doel en ’n plan.

Meet jouself elke dag aan jou eie doel en waardes sodat jy kan kyk of jy op koers is. So sal jy meer proaktief optree in plaas daarvan om reaktief gedryf te word deur gevoelens van onvergenoegdheid.

Kompetisie met ander laat jou drome misloop

Wat gebeur dat ’n mens ophou om avontuurlustige dinge te doen, jou fantasieë uit te leef of opwindende stokperdjies aan te pak?

Soveel mense loop nuwe avonture mis. Hulle het hulleself met iemand anders vergelyk en by voorbaat besluit hulle gaan nie op dieselfde standaard wees nie.

As kind het jy nie omgegee of jy jou knieë nerfaf val om te probeer fietsry nie. Maar ’n mens raak banger vir seerkry soos die jare aanstap. Die ergste seer is om te voel jy is minder werd as iemand anders.

As jy jouself begin vergelyk met iemand anders, is die kanse 100% dat jy jou swak plekke met daardie persoon se beste punte gaan vergelyk. Geen wonder jy voel soos ’n mislukking nie!

Dit kan ook gebeur dat jy besluit jy is beter as daardie persoon. Dan kies jy weer haar slegste punte om jou mee te vergelyk en voel jy goed oor jouself. Die aakligheid is dat jy steeds bly vergelyk.

Elke dag verskuif daardie norme, sodat jy elke dag anders voel. Dit maak ’n mens ondoeltreffend, want jy gaan gedurig onvergenoegd voel.

Iemand het gesê: “Ek vergelyk my nie met iemand anders nie, want dit dwing my om iets sleg oor daardie persoon te sê en ek wil nie.”

Dit kan ook anders gestel word: “Ek vergelyk my met niemand anders nie, want dit dwing my om iets sleg oor myself te sê en ek wil nie!”

Leer jouself en jou waardes ken

Om jou hiermee te help, moet jy beter leer verstaan wie jy is. Dis belangrik om te weet wat jou emosies, jou sterk punte en beperkings, waardes en motiewe is.

Jy moet dus jou identiteit begryp. Wees realisties en dink baie eerlik oor jouself. Die hart van selfwaarneming is om tyd af te staan om oor jouself te dink. Dit help jou om die ware jy te wees.

Moenie altyd so ernstig wees nie, dis nodig om soms vir jou tekortkominge te kan lag ook.

Jou brein se prefrontale areas bestuur jou aandag en bewuswording van jouself. As jy goeie gevoelens oor iets koester of besonder baie van iets hou, ontstaan ’n sekere gevoel. Dan herinner daardie deel van jou brein jou hoe tevrede jy daaroor gevoel het.

Gee aandag aan hierdie gevoelens, want jou brein sal dit versterk en wys waarop jy moet fokus. So kan jy in jou ware identiteit groei.

Doen gou ’n toets en kyk hoe jy hiermee vaar: Beskryf die emosies wat op hierdie oomblik in jou leef. Gebruik ten minste twee byvoeglike naamwoorde daarvoor.

Kies ’n doel en waardes waarop Hy en jy trots sal wees. Skryf dit neer met behulp van die volgende vrae: Waarheen voel ek is God met my op pad? Wat sou ek graag wou bereik of wees?

Watter waardes (byvoorbeeld, om regverdig, gasvry, vriendelik te wees) is belangrik om by hierdie doel uit te kom? Sê dankie dat jy reeds die guns van God se liefde geniet.

Praktiese wenke om meer selfvertroue te kry

Moenie die krag van opbouende woorde onderskat nie. Sit tyd opsy om te dink aan jou suksesse, talente, die mense wat jou komplimenteer en wat alles positief is in jou lewe. Skryf dit neer en lees dit wanneer jy af voel.

Dis nie altyd nodig om groot dinge te doen nie. Kry momentum deur klein aksiestappe te doen. Die leer van selfvertroue word trappie-vir-trappie geklim.

Kyk goed na jou liggaam en gees. Oefening stel goedvoelensieme vry en jy kry die gifstowwe wat depressie vererger uit jou lyf.

Het jy al opgelet dat jy tonne meer selfvertroue het as jy moeite doen met jou voorkoms? Jy hoef nie al die nuutste modes na te volg nie, maar wees bewus van wat “in” en “uit” is. Bestee liewer twee keer meer en koop die helfte minder, sodat jou klere stylvol en tydloos kan wees.

Sit of staan regop en trek jou skouers terug. Hierdie liggaamshouding laat jou brein verstaan jy is reg vir die dag.

Luister na goeie musiek en motiveringpraatjies. Dit sal jou in die regte gemoedstemming plaas om uitdagings te hanteer.

Komplimenteer ander mense. So begin jy om op ander mense te fokus en minder krities oor jouself te dink.

Deur van jou tyd en geld vir iemand anders se nood by te dra, help jou om minder op jouself te fokus. Dit bring die dieper gevoel dat jy iets positiefs omtrent die lewe doen. Buitendien kom die seëning as jy ander help, altyd veelvoudig na jou toe terug.