Ek sit vir die eerste keer heel voor in die vliegtuig. My kort bene geniet die ekstra beenspasie. Dit maak dat ek my na hartelus voor my kan uitstrek. Dit gaan ’n gemaklike vlug wees, dink ek tevrede.

My ingenomenheid is van korte duur. ’n Baba begin aanhoudend skree. Om alles te kroon, begin turbulensie my gewone vlug-angs diep in die rooi druk.

Ek kyk doodbenoud om my rond. Op daardie oomblik word dinge vir my duidelik …

Hoe tevrede jy voel, is jou eie saak

Ons is almal eintlik na dieselfde eindbestemming op pad in die hande van dieselfde vlieënier. Tog bly die belewenis en hantering van die dinge wat tydens ons reis gebeur iets persoonliks.

Ons elkeen leef en reis na dieselfde eindbestemming, die dood. As Christen vertrou jy God as die vlieënier en kan jy met verwagting na die ewige lewe uitsien.

Hoe tevrede jy voel, is egter jou eie saak. Waar een kies om te glimlag, gaan ’n ander dalk kies om te kla. Die Woord moedig ons aan om dankbaar en tevrede te leef.

Jy kan dalk antwoord: Geen mens kan in vandag se omstandighede tevrede wees nie. Wat help dit as moraliteit vergaan en werkloosheid en finansiële bekommernis die land wil-wil oorheers?

Tog skryf ’n beroemde internasionale popster wat Christus volg hoe ongelukkig hy in homself was. Dit was ongeag ’n kommervrye bestaan gevul met rykdom, roem en alles wat sy hart begeer.

Depressie, dwelmverslawing en misbruik van kosbare verhoudings het hom oorweldig. Dit wys weer dat rooskleurige omstandighede steeds nie ’n waarborg is om ware tevredenheid te ken nie.

Die wêreld sal jou nooit ten volle tevrede laat nie

Die Engelse Christenskrywer CS Lewis stel dit sterk: “As ek in my begeertes ontdek wat deur niks in hierdie wêreld bevredig kan word nie, is die enigste logiese verduideliking dat ek vir ’n ander wêreld gemaak is.”

Ons gees sal eers heeltemal tevrede voel wanneer ons lewe ineenskakel met ons Skepper. Ons sal eers regtig leef wanneer God se verhouding met ons herstel en volmaak is, soos Sy wil oorspronklik was.

Ons is in die eerste plek nie geskep vir ’n wêreld wat in sonde gedompel is nie. Daarom sal ’n mens innerlik aanhou na God hunker, totdat jy by Hom rus vind. Jy as gelowige is gemaak vir ’n ander “wêreld”, ’n ewige heerlikheid, altyd saam met God.

Daarom is aardse roem, rykdom, sukses, weelde of selfs menslike liefde nie genoeg nie. Dit sal ons nooit volkome tevrede kan laat nie. Ons siel en gees smag na die Bron van ware lewe, die Skepper van alles.

Beteken dit ons kan maar ontevrede leef? Hoef ons ons nie te bekommer om hier op aarde die gevoel van tevredenheid te soek nie? Darem nie! Dink weer aan ons Skrifgedeelte. As soldate van Christus staan ons in aktiewe diens van ons Koning.

Raak besig met die dinge wat ewigheidswaarde dra

Om tevredenheid op aarde te ken, moet ons juis besig wees met die dinge wat ewigheidswaarde dra.

Ons moet ons hart beskerm teen daardie menslike versoekings wat net tydelik tevrede stel. Daarby fokus ons daarop om God te eerbiedig. Hoofsaak is dat Hy tevrede met ons lewe is.

Gee jou oor dat God jou lewe deur sy Heilige Gees lei. Hoe meer jy jou oorgee, hoe kleiner raak die afstand tussen jou aardse bestaan en die ewige lewe waarvoor jy voorberei word.

Wil jy werklik tevrede wees op jou aardse lewensreis? Om tevrede te reis, moet jy aanvaar dat hierdie wêreld nie die bron van jou vrede gaan wees nie. Lewe op aarde is besoedel met mensgemaakte genot. Dit bemark ’n vals tevredenheid wat jou begeertes tydelik versadig.

As gelowiges soek ons juis die geestelike tevredenheid. Dit gaan oor lewens wat getuig van God se Gees binne ons. Jy sal ware vrede vind wanneer jy aardse tevredenheid prysgee.