“Bucket list” en “You only live once” is gewilde gonswoorde. Maar hoekom? Ons kan niks op aarde misloop waarvoor ons nie in die hemel gaan opmaak nie.
Deel jou hemelse vreugde met mense rondom jou
Ons glo dat die hemel ’n wonderlike plek is, maar niemand is haastig om daar uit te kom nie.
Philip Yancey skryf in ’n interessante artikel in Christianity Today dat die oorvloed waarin baie van ons leef, veroorsaak dat die attraksie van die hemel vir ons verlore gaan.
Dit wat vroeër vir mense net deel van die hemel kon wees, het ons nou met behulp van ons geld en middele deel van ons aardse bestaan gemaak. Hy skryf verder dat ons sonder enige opgewondenheid oor die hemel lewe.
Die Bybelse beelde van die hemel het hulle aantrekkingskrag vir ons verloor. Mure wat bedek is met edelgesteentes, poorte van pêrels en strate van goud beïndruk ons nie meer nie.
Dan het ons ook nog ’n klomp skewe beelde van die hemel, soos dat ons siele is wat op wit wolkies gaan rondsweef terwyl ons van die oggend tot die aand op harpies musiek maak.
Dit is belangrik om te onthou dat ons ook nie hoef te wag tot “eendag wanneer ons hemel toe gaan” om die vreugde te ervaar om in God se teenwoordigheid te mag verkeer nie.
Ons kan nou reeds in ons onvolmaakte wêreld ’n stuk vreugde daarvan smaak. Wanneer ons “hemelkinders” word, oftewel kinders van God, moet ons dit ook ons roeping maak om ons hemelse vreugde met ander mense te deel.
Die kosbaarste dinge wat vir ander tot seën kan wees, kos nie eens geld nie. Dit is gewoon woorde. Om opreg in iemand se lewe belang te stel, kan geweldig baie vir die persoon beteken.
Wanneer ons op grondvlak na mense in nood uitreik, wanneer ons ons hande, ore en voete aan hulle gee, kan hulle ook begin om ’n tikkie van God se goedheid en van die hemel te ervaar. Kom ons maak dit “hemel” vir die mense rondom ons.
Ons sal eendag met God en geliefdes herenig word
In sy artikel “Finding God in the Heavens” verduidelik Rob Moll, ’n voormalige assistentredakteur van Christianity Today, die verskil tussen óns siening van die hemel en die antieke mens s’n. Die antieke mens het gedink dat die hemel bo ons vol verskillende wesens is.
Vir die moderne mens is die ruimte “leeg”. Nogtans, sê Moll, vertel die nuutste ontdekkings in die ruimte ons meer van God se pragtige ontwerp vir die kosmos.
Moll sê dat wanneer sommige mense onder die indruk kom van die geweldige groot omvang van die uitspansel, hulle dan die afleiding wil maak dat indien God as Skepper so almagtig is, ons seker nie baie belangrik vir Hom kan wees nie.
Dit, verklaar Moll, is ’n verkeerde afleiding. Wanneer ons ’n stukkie begryp van hoe groot die universum is, raak dit nog wonderliker om te besef dat God besluit het om in ’n noue verhouding met ons te staan.
Sal ons mekaar in die hemel herken? Dit is die vraag wat dikwels in mense se harte brand wanneer hulle ’n geliefde aan die dood afgestaan het. ’n Mens kan hulle begeerte verstaan om met hulle geliefdes herenig te word.
Tog is die hoofrede waarom ons na die hemel uitsien, natuurlik nie dat ons met ons geliefdes herenig gaan word nie, maar wel dat ons met Gód herenig gaan word. Maar dit sal tog wonderlik wees om saam met ons geliefdes God se teenwoordigheid te mag geniet.
Ek dink daar is genoeg getuienis in die Bybel wat daarop dui dat ons mekaar wel in die hemel sal herken.
Maar die beste voorbeeld wat bewys dat ons mekaar ná die dood sal herken, is sekerlik die opgestane Jesus.
Hieruit blyk dit dat ons vreugde in die hemel nie net gaan bestaan uit ons gemeenskap met Christus nie, maar ook uit ons gemeenskap met mekaar.