Spelterapeut en ouerskapkenner SERAHNI SYMINGTON leer jou hoe jy in die hitte van die oomblik kan reageer om beter verhoudings te verseker met jou kinders.
Jou ouerskapstyl word deur jou kinderjare gevorm
Elke ouer wil graag ’n goeie verhouding met hulle kind hê. Hoe kry ons dit reg om ouers te wees wat nie skel en skree nie? Voordat ons verstaan hoe om op te hou skree, moet ons verstaan waarom ons skree.
Hoe jou ouers jou in die eerste drie jaar van jou lewe hanteer, word jou outo-pilot. Dis merkwaardig om te dink dat so ’n jong breintjie, so ’n gevorderde breinpaadjie kan vorm.
Daardie narratiewe is so sterk in ons as grootmense, dat wanneer jou kind iets doen waaroor jy jou vererg, jou ma by jou mond uitkom. Jy het dit nog nooit gesê nie. Jy het dit gehoor toe jy klein was, en hier vlieg dit by jou mond uit.
Hoe ons grootgemaak word, speel ’n rol in hoe ons ons kinders grootmaak. Hetsy of ons presies doen wat ons ouers gedoen het, of omdat ons rebelleer daarteen en iets anders doen.
Wees bewus van jou snellers as ouer. Daar is sneller oomblikke wat hoë emosie veroorsaak. As ek praat van frustrasie, praat ek van daardie oomblikke. Ek praat van die gil-en skree-oomblikke wat jou laat sleg voel.
Hoe raak ons bewus van dit wat ons sneller is? Die eerste woord is “bewuswording”. Voor ons kan weet wat ons sneller oomblikke is, moet ons tyd neem om daaroor te dink.
Dis in daardie oomblikke wat ’n mens vir jou afvra: Wat het my hierdie week so ontstel? Waarom het ek so vinnig gereageer? Wat gaan aan met my? Só ontdek jy wat jou snellers is.
Ouerskapstegnieke waarin ons liefde vir ons kinders leer
Om ’n ouer te wees, is veeleisend. Dit is besig. Ons kan nie altyd al die boeke lees en al die beginsels toepas nie. I-love-you-rituals is juis daardie oomblikke wat natuurlik in die dag opkom.
Oomblikke waar jy in elk geval verbinding sou hê: In die kar op pad huis toe, wat is die liedjie wat julle speel? In die kar op pad skool toe, wat is die speletjie wat julle speel?
Watter natuurlike oomblikke kan julle in julle dag inweef om hierdie spesiale bande te bou en te hou?
Dink ’n bietjie aan oomblikke wat julle as ouer en kind of as gesin saam kan doen. Waar ons kan praat oor die krapperige oomblikke en oplossings vind.
Hoe bou ons positiewe langtermyn impak vir ons kinders? Ons moet ons kinders raaksien. Dit is belangrik om te sien wat ons kinders doen.
Baie keer as ons in die kombuis tussen die kospotte staan en jy hoor: Mamma, kyk my prentjie… Wat is jou antwoord? Dis mooi, my kind.
Het jy gekyk? Is dit mooi? Dalk is dit nie so mooi nie. Wat maak ons dan? Om raak te sien, beteken om na jou kind te kyk en te sê: Jy het ’n prentjie gemaak. Jy het dit gedoen.
Ek beoordeel haar nie of dit goed of sleg is nie. Ek koppel nie haar identiteit aan dit wat sy gedoen het nie. Ek sien raak dat sy dit gedoen het.