Partykeer het ma’s vriendinne nodig, partykeer het ons feite nodig. Soms het ons hulp nodig, of ons is die hulpverlener. Wees ma saam met aktrise en motiveringspreker NADIA BEUKES en ander kenners, en leer om jou skuldgevoelens finaal agter te laat.
Ons sê dalk ons is bereid om vir ons kinders te sterf. Is ons bereid om vir hulle te leef? Om sonder minderwaardigheidsgevoelens elke dag aan te gryp, dankbaar te wees en die regte dinge beter te doen?
Geloof hou jou ma-kroon mooi op jou kop
Die Here ontmoet jou waar jy is. Hy veroordeel nie dat jy geskei is nie. Hy kritiseer jou nie omdat jy dink jy’s nie ’n goeie ma nie.
Hy sê: “Ek het hierdie kinders vir jou gegee. Ek weet jy doen jou bes, maar jy moet ook trots wees op jouself!”
Elke seisoen is anders en nodig – al hou jy dalk nie van joune nie, al voel dit soos winter.
Jy is nie in beheer nie. Daar is ’n groter plan. Dit is nie maklik nie, maar jy is toegerus met dít wat jy nodig het. En jy is nie alleen nie. Glo dit en vertrou daarop!
(Nadia Beukes)
Die wete dat jy die ma is wat jy moet wees
Jy gaan nie alles perfek doen nie. Maar alles wat in jou is, is wat nodig is vir die grootwordproses van en die plan vir die gesin wat jy gekry het.
Jy kan weet dat jy gekies is en dan kan jy ontspan. Jy hét die krag en kapasiteit, jy kan met selfvertroue sê: “I got this.” Onthou, jy sê dit vanuit die groter krag van God.
As jy dan foute maak, opstaan en weer probeer, leer julle almal van vergifnis en genade. Dis ’n kosbare lewensles.
(Suné-Charì Sutton, bedieningsleier by Doxa Deo)
’n Plan vir emosionele en geestelike welsyn
Familiewaardes soos dankbaarheid, vreugde en hulpvaardigheid wat deur almal nagestreef word, maak dit makliker.
Om saam te gesels oor julle gesin se waardes is ’n geleentheid om ’n meer hegte band te skep.
Skryf julle waardes iewers waar almal dit kan sien. Herinner mekaar gereeld hieraan en leef dit uit. Maak saam planne en doen saam spesifieke dinge. Só het julle ’n veilige ruimte om in te leef en lief te hê.
(Sonika Kruger, geestelike afrigter en juffrou)
Die belangrikste towerwoorde is “Ek is jammer”
Gebruik berou ná baklei as geleentheid om te gesels oor julle gevoelens. Sê byvoorbeeld: “Mamma het onnodig kwaai gepraat – ek is jammer. Waarom dink julle het ek dit gedoen?” Die antwoord is gewoonlik in die kol: “Want Mamma was haastig.”
Om te sien hoe jou kinders empatie kan toon teenoor ander, en selfs teenoor jou, is so bemoedigend.
(Rhona Erasmus, sakevrou en beïnvloeder)