’n Deurmekaar lewe laat jou oorlaai, besig en gespanne voel! Leer hoe om jou lewe onder beheer te kry, te prioritiseer en tyd te maak vir alles, almal én jouself, sê ROLENE STRAUSS, sakevrou en lewensafrigter.
Skryf jou prioriteite en datums neer en voorkom krisisbestuur
Ons aandag word konstant verdeel op ’n miljoen verskillende maniere weens onderbrekings en sosiale media. Dit veroorsaak dat ons ’n reaktiewe lei wat ook angs kan veroorsaak.
Om die heeltyd te moet reageer, kan oorweldigend wees as ons nie ’n plan het nie.
Wat is vir jou die heel belangrikste? Dit kan Bybelstudie, speeltyd met jou kinders en gereelde afsprake met jou man wees. Skryf hierdie datums en tye dan eerste in jou skedule in.
Selfsorg en jou gesondheid moet ook hoog op jou lys wees. Beplan gesonde maaltye, oefensessies en kuiers met jou hartsvriendin.
Hierná koppel jy datums en tye aan jou meer werksverwante pligte en jou verantwoordelikhede teenoor jou gesin en gemeenskap.
Alles lyk mooi op papier … nou moet jy voorberei. Dink daaraan om drie etes op een slag te maak, in plaas daarvan om drie keer een maaltyd te kook. Pak jou oefensak een week vooruit.
Maak jou voorbereidings pret! Luister na musiek, oudioboeke of geestelike inspirasie en verrig jou sleurtakies met positiewe energie.
Baie verpligtinge beteken nie alles moet gelyktydig gebeur nie!
Voel jy gedruk om meer as een ding op ’n slag te doen? Skud hierdie druk van jou af! Multitasking is minder effektief as jy alles gelyktydig probeer afhandel.
Alle mense is meer effektief en produktief as hulle hulle dae taak vir taak aandurf. Die Engelse woord hiervoor is “chunking”. Dit beteken dat jy vir ’n spesifieke tyd op sekere dinge fokus en dan aanbeweeg na die volgende taak.
Dit help jou om kalmer en meer in beheer te voel.
Leer hierdie les: Ons oorskat wat ons in ’n dag kan doen, maar onderskat wat ons in ’n week en ’n maand en ’n jaar uitgerig kry.
Elke vrou se ondersteuningsnetwerk lyk anders. Dit kan ouma wees wat help met kosmaak of iemand wat jy betaal om die kinders te vervoer. Dit kan ’n vriendin wees wat jou naels doen of ’n kollega wat jou advies gee.
Moenie eers probeer om alles alleen te doen nie
Praktiese hulp haal druk van jou af. Jy moet werk daarvan maak om ondersteuners te hê. Dit hoef nie net op een terrein te wees of net jou familie en vriende te betrek nie.
Word deel van ’n Bybelstudiegroep as jy in jou geloof wil groei. Bou ’n verhouding met elektrisiëns en loodgieters as instandhouding te veel word. Maak gebruik van apps, reminders en elektroniese dagboeke.
Luister na podsendings of lees die blogs van lewensafrigters as jy uitdagings ervaar en bemagtig jouself met oplossings.
Omhels ‘n nie-perfekte lewe en maak tyd vir jouself
Jy kan slegs by jou mense en verantwoordelikhede uitkom as jy gesond en gelukkig is. Regtig! Jy móét selfsorg toepas. Dis nie sommer net ’n modewoord nie.
As jy te moeg, te honger of te besig is, verloor jy perspektief en voel alles net te veel. Skaal jou verwagtings af. Vergeet van 100% by alles uitkom en van alles perfek doen.
Wees tevrede daarmee dat jy doen wat jy kan. As jy leeg voel, gaan slaap vroeër en spandeer tyd in die natuur – al versorg jy net ’n potplant.