NADIA BEUKES is ’n aktrise, aanbieder, en ma van twee klein lyfies. Geen negatiewe gedagtes kry vastrapplek in haar hart nie. In plaas daarvan om verskonings te maak, glo sy in deurbrake en nuwe geleenthede.
Hoop is die lig aan die einde van ’n donker tonnel.
Om te weet dat daar iets beter is wat vir my wag … Die wete dat ek om die volgende draai ’n rigtingwyser sal vind – dit gee my krag om die een voet voor die ander te sit.
Hierdie bakens is geliefdes, geleenthede en verantwoordelikhede. Mense wat my motiveer om uit te hou en aan te hou. As ’n mens die regte rigting inslaan, maak jy jou gereed vir oorwinning en groei.
Daar was al verskeie uitdagings wat my wou onderkry en my lewenslus wou steel.
Soms moet ’n mens net opstaan, aantrek en opdaag. Al is dit al wat jy gedoen kry, is dit ’n tree in die regte rigting.
Al lyk ons lewens vir ander piekfyn, werk dinge nie altyd uit soos ons beplan nie. Dis wanneer ’n mens moet onthou dat ons die vermoë het om onverwagse hindernisse te oorkom.
Ek het dit nie dadelik agtergekom nie, maar vandag weet ek dat my beproewings in ’n getuienis verander het.
Met groot dankbaarheid het ek eendag besef wat my naam beteken.
“Nadia” beteken om hoop te hê. Net daar het ek besef dat hoop nie net iets is wat binne my borrel nie, maar elke dag oor my uitgespreek word. Elke keer as iemand my naam sê, herinner dit my om aan te hou hoop.
Wanneer ’n mens elke dag in geloof begin en iets goed verwag, gee God sy engele opdrag om die regte deure vir jou oop te maak.
Sonder my inherente hoop, is my hart in duisende stukkies vertrap.
Hoop hou die stukkies – selfs die gebreekte stukkies – van my menswees bymekaar. Ek weier doodeenvoudig om tou op te gooi.
Dit is vir my soos die gom wat die gebroke stukkies porselein in ’n meesterlike mosaïek kan voortbring.
Die stukkies van jou hart mag dalk gebreek wees, maar hoop herrangskik die gebroke dele en vorm ’n kunswerk wat spreek van karakter – ’n unieke en wonderlike tentoonstelling van jou menswees.
Ons moenie onnodig hoop verloor nie en eerder toegemaakte deure probeer verstaan.
Wanneer sekere deure vir ’n mens toemaak, is dit nie per ongeluk of die noodlot nie.
God maak weer nuwe deure oop … Hy is reeds besig met voorbereidings vir jou nuwe seisoen.
Ek hoor gedurig hoe mense kla. Ons moet eerder die regte perspektief hou. Hou ’n lied in jou hart, want jou uitkyk op die lewe bepaal jou geluk.
Elkeen het iets om oor gelukkig te voel: jou gesin, jou werk, jou gesondheid of ’n nuwe geleentheid.
Bly hoopvol, want hoop is die reënboog ná ’n storm.
Dis ’n belofte, ’n motivering en ’n innerlike kompas wat jou op jou lewenspad vergesel.
Een van die grootste lesse wat ek al in my lewe geleer het, is dat die Here nie iets oor jou pad sal bring waarvoor Hy jou nie reeds toegerus het nie.
Daar is ’n gesegde uit die rolprent The Best Exotic Marigold Hotel wat lui: “In the end it will be okay. If it’s not okay, it’s not the end”.