Moeg om heeltyd besig te wees? JANNIE PUTTER deel sy raad oor hoe om beheer oor jou tyd te neem en jou fokus te verskuif vir ’n gelukkiger, stresvrye lewe!
Hoe jy beheer van jou tyd en besige lewe kan neem
Ons almal hoor dit elke dag: Hoe besig ons almal is en hoe min tyd ons het! Is dit dalk wat jy ook sê?
Tyd het nog nooit verander nie! Tyd bly dieselfde – 24 uur in elke dag. Tog spreek die meerderheid van mense die woorde: “Ek het net nie tyd nie.” In Spreuke 18:21 skryf Salomo: “In die mag van die tong (jou praat) is lewe en dood. En elkeen wat praat, sal die vrugte eet van elke woord wat jou mond verlaat, vir lewe of vir dood.”
Ek wil dit baie eenvoudig stel: As jy sê jy het nie tyd nie, het jy pas gekies om tyd te verloor. As jy sê jy is besig en gejaagd, het jy pas besluit om rus en vrede vaarwel toe te roep. As jy sê jou lewe is chaos, het jy pas besluit om orde en roetine te verloor.
Graag wil ek die volgende stelling maak: ’n Dwaas sê wat hy sien. ’n Wyse man dink wat hy graag wil sien, dan sê hy dit (asof dit reeds so is)! Die definisie van geloof in Hebreërs 11 is immers: “Geloof is dan ’n vaste oortuiging van die dinge wat ons hoop, die bewys van dinge wat ons nog nie kan sien nie.”
My vraag aan jou: Leef jy soos ’n dwaas (sê wat jy sien), of leef jy in geloof (sê wat jy hoop om te sien asof dit reeds so is)? Elke dag en elke oomblik staan ons voor ’n keuse. Ek herinner jou aan die keuse wat die Here vir ons stel in Deuteronomium 30:19: “Die lewe en die dood, die seën en die vloek sit ek voor julle. Kies dan die lewe – dat jy kan lewe – jy en jou nageslag!”
Hoe om jou fokus te skuif na ’n gelukkiger lewe
Dit waarop jy fokus, is waarheen alles in jou lewe gaan neig. As jy kies om gejaagdheid, chaos, kommer, vrees, gebrek aan tyd, ensovoorts te sien, gaan jy die bewyse daarvan in jou lewe vind.
Ek het ’n keuse gemaak. My geloof is my realiteit. Ek het jare gelede, toe my lewe in chaos gedompel was, ’n keuse gemaak. Ek sal nie weer enige woord van dood uit my mond laat kom nie. Ek gaan nie meer ’n realistiese (en dwase) lewe leef nie – ek gaan ’n avontuur (in geloof) begin leef. Vandag leef ek my droom. Dit is baie eenvoudig. Kies wat jy met jou mond spreek met baie wysheid, want dit is jou toekoms!
Wie kies jy om te wees – die dwaas of die wyse man? Maak jou keuse vandag …
Dwaas
- Ek het net nie die tyd nie.
- My lewe is ’n malle gejaag.
- Die pas van die lewe is te vinnig.
- Daar is net te veel om te doen en te min tyd.
- Ek kry nie tyd vir my familie nie.
- Waarheen is alles op pad?
- Ek moet op hoogte bly van tegnologie.
Wyse man
- Ek het meer as genoeg tyd.
- Ek geniet soveel oomblikke van stilte en rus.
- Wat ’n voorreg om elke dag te koester en elke oomblik voluit te leef!
- Ek geniet elke oomblik van elke dag – dis ’n fees!
- Ek en my familie spandeer elke dag tyd met mekaar.
- Dis so lekker om te weet ons leef elke dag ons droom!
- Ek is tegnologie se baas – ek weet genoeg en die beste is die diep asemteue wat ek elke oggend neem wanneer ek oefen!