Om te wag vir die omstandighede om reg te wees, kan dalk net veroorsaak dat jy nooit eers die geleentheid kry nie, sê MANDI DU PLOOY-BAARD.
Wees opnuut dankbaar en hou op uitstel
Van uitstel kom afstel so sê hulle mos of dalk kry jy net nooit die geleentheid nie.
Ons gesin het bosveld toe gery en toe dit net donker word, hardloop daar ’n vlakvark voor ons kar in. Schalk het gelukkig kopgehou en rustig gebly en nie die stuurwiel geruk of uitgeswaai nie. Ek het so groot geskrik en my oë toegemaak. In daardie oomblik besef ek, dat indien ek agter die stuur was, het ons vier Baarde se storie heel moontlik baie anders gelyk en geëindig!
Ek is opnuut dankbaar vir die klein dinge en besef dat ons moet ophou uitstel.
Ek sê hoegenaamd nie dat ’n mens altyd hals oor kop iets aanpak sonder om ’n ingeligte besluit te neem nie. Inteendeel, dit is uiters belangrik om daardie lysies te maak, gesprekke te voer en om te bid, bid, bid.
Is dit nie waar dat ons geneig is om vas te sit in die gemak van die hier en nou nie? Te bang om daardie stap te neem. Ná ons reeds gedink en gebid het, en ons hart reeds wéét is die verskoning so maklik “ek wag eers vir die regte omstandighede”.
In my relatiewe kort lewe het ek geleer dat wanneer jy wag vir die omstandighede om reg te wees, gaan jy nooit by die doen uitkom nie.
Ons kan nie trou nie, want …
Ons kan nie kinders kry nie, want …
Ek kan nie met ’n nuwe werk begin nie, want …
Verandering is vir die meeste van ons ’n reuse-uitdaging en soos iemand nou die dag vir my sê: Verandering is byna soos om afskeid van iets te neem. Soms teen ons wil en dit maak alles soveel moeiliker.
Jou omstandighede is nooit groter as God nie
Hoekom sal jy jou gemaksone prys gee om ’n nuwe uitdaging of situasie aan te pak? Wanneer jy die bevestiging kry en wanneer jou hart weet dat jy weet dat jy weet dat jy gehoorsaam moet wees. Selfs ten spyte van die feit dat die omstandighede nie is soos jy dit verwag of beplan het nie.
Dit is dan wat jy moet durf, moet spring, moet glo en vertrou dat Sy omstandighede in elk geval baie beter is as dit wat jy in gedagte gehad het.
Vir baie jare het ek gedroom om ’n dramaskool te begin. My pa het saam met my beplan, maar ek het dit gelos. Eendag kom kuier ’n vriendin by my om vir ons dogtertjie te bid. Haar selgroepvriendin wat ek van geen kant af ken nie het ook besluit om saam te kom bid.
Skielik sê sy dat die Here dit op haar hart druk dat daar iets is wat ek wil doen maar nie doen nie. Die volgende oomblik kom die woorde soos yswater: “Jy wil ’n dramaskool begin en jy moet.” Hoe kon sy weet?
Kon ek vir ’n harder stem en groter teken vra? Nee, maar steeds is ek bang en die gerief van die veilige nou veroorsaak dat ek nié gehoorsaam is nie. Daar is soveel dinge wat moet gebeur en in plek val voor ek ’n dramaskool sal kan begin. Die omstandighede is nie reg nie. Dit het geverg dat ek na die drinkbak gesleep word en geforseer word om te drink!
Raai wat, hierdie afgelope jaar wat my dramaskool van die grond af is, was een van my grootste leerskole ooit. Ek wonder wel steeds of ek ooit vanself by die doen sou uitkom.
Mag jy vandag die moed bymekaarskraap om te durf en te doen. Mag die verwagting van jou omstandighede nooit groter as God se ja wees nie. Mag jy nooit vergeet dat Hy jou sal oppas in hierdie fase van verandering nie.