Alles begin met jou ingesteldheid. Só sê die internasionale motiveringspreker en skrywer GUSTAV GOUS tydens die #EkwilEkkanEksal–konferensie. Jy kan vir jouself sê dat jy eenvoudig nie goed genoeg is nie óf jy kan vir jouself sê dat jy beter kan word in enigiets waaraan jy jou energie toewy.
Ons probleem is nie die probleem nie. Ons probleem is ons houding oor die probleem. Dit is die kern van alles. Dit is hoekom jou houding alles kan verander.
Indien jy jou houding oor die probleem verander en as jy glo jy kan dit doen, is jy reg. As jy glo jy kan dit nie doen nie, is jy ook reg. Ons moet dít vir mekaar sê sodat ons ons houding kan verander.
Meet hoe goed dit gaan aan die regte dinge
Jy word nie met houdings gebore nie. Jy kry houdings al met die pad langs.
Mense het houdings oor ander mense; mense het houdings oor die wêreld en krisisse, goed of sleg; mense het houdings oor gevaar; oor alles het jy die een of ander houding. Jy het oor jouself ’n houding.
Hierdie is dus die soorte ingesteldhede wat jy kan kry en wat met ’n sekere inhoud – positief of negatief – gevul kan word.
Jy vorm ’n ingesteldheid op drie maniere: kognitiewe blootstelling – jy neem sekere goed waar; emosionele lading; en jy kyk na die mense rondom jou en hoe hulle sekere situasies hanteer.
Wat is die doel van houdings? Dit maak die wêreld voorspelbaar. Jy berei eintlik voor op iets wat kom.
Die tweede doel van houdings is dit beskerm jou gevoel oor jouself en gee jou die gevoel dat jy in beheer is. Dit word alles aangeleer en kan daarom aangepas word vir ’n gelukkiger jy.
Toets gereeld jou ingesteldheid en verander jou fokus
Eers moet jy jou houding bekyk. Toets dit. Ek noem dit die houdingstoets. Met hierdie toets moet jy jou houding vat en sê: Die hele wêreld gaan nou my houding inneem.
Gaan die wêreld in ’n beter toestand wees, ja of nee? Wil ek hê die res van die wêreld moet ook my houding hê?
As jy nee antwoord, moet jy dit verander.
Hoe verander jy ’n houding? Op dieselfde manier as wat hy gevorm is. Jy kry nuwe blootstelling.
Ek kan nie die gevaar en die geleentheid verander nie, maar ek kan my fokus verander.
Wanneer jy net op die negatiewe fokus, stel jy jou bloot aan daardie werklikheid. Met die regte houding, vaardigheid en aksie, kan jy op die geleentheid fokus en dit aangryp.
Die eerste stap is om jou met meer mense wat ’n positiewe houding het te omring. Gaan uit en gaan stel jou bloot waar jy aangesteek kan word.
’n Wyer ingesteldheid teenoor die lewe word aangeleer
My helde is mense wat van die moeilikste goed in die lewe moet kan hanteer. Die dood van ’n geliefde, ’n besigheid wat vou, mense wat jou geld steel of jou in die rug steek.
Die mense wat dít oorleef, en nie net oorleef nie, maar herleef en beter leef ná die tyd, is mense wat die basiese vermoë van fokus het.
Fokus kan ook wees dat jy die gaping sien, maar dit nog nie vat nie. Hoe verander jy hierdie houding?
Dit is ’n proses. Eers wil jy dit nie doen nie. Jy sê jy kan dit nie doen nie. Later sê jy jy kan dit doen, maar doen dit steeds nie. En dan doen jy dit. Jy kry nuwe emosionele lading as jy besef met klein stappies is alles moontlik.
Dit is hoe jy houdings verander. Tree vir tree. Jy vervang ’n slegte houding met ’n nuwe een waarop jy kan fokus.
Deel jou positiewe houding en ingesteldheid met die wêreld
Gaan nou uit in die wêreld en begin ook ander beïnvloed. Jy sal die wêreld as ’n ander plek begin ervaar.
Jou houding kan alles verander, en jou ingesteldheid kan die hele domino-effek in werking stel.
Daar gaan dae wees wat nie so goed soos die ander is nie, maar hierdie dae kan jy darem met ’n goeie houding aanpak. Glo my, wanneer die slegte dae aanbreek, gaan jy gereed wees om dit te hanteer.
Die sterkste houding voer gewoonlik die botoon. Wanneer jy jou positiewe houding vat en dit sterker maak, dit laat groei, kan niemand jou keer nie.
Die suurste suur gaan nie jou soet wegneem nie. Die negatiefste negatief gaan nie jou positiwiteit kan wegneem nie. Jy kan dit elke keer met nuwe dinge laai.
Vat hierdie geskenk, hierdie geleentheid van die lewe en gaan met die grootste houding van dankbaarheid oor die diepste motivering die lewe in.