Tipe 2-diabetes is soms deel van ’n komplekse metaboliese sindroom – ’n leefstyltipe siektetoestand wat meestal vroue affekteer.
Tipe 2-diabetes word dikwels eers later in ons lewe gediagnoseer en word meestal aan swak leefstylkeuses toegeskryf.
Alhoewel tipe 2-diabete aanvanklik nie medikasie nodig het nie, wys statistiek dat 50% van tipe 2-diabete op die ou end insulien sal gebruik.
Tipe 2-diabtes word meestal veroorsaak deur vet in die organe omdat suiker nie meer in die liggaam gebruik kan word vir energie nie.
Oefening, gewigsverlies en die regte dieet kan gewoonlik die bloedsuikervlak sonder medikasie reguleer en insulienweerstandigheid omkeer.
Dit beteken nie dat dit volkome genees nie, maar dat die toestand in remissie is. Indien jy egter terugkeer na ongesonde eetgewoontes, sal die simptome terugkeer.
Is ’n laekoolhidraatdieet die antwoord? In ’n mate, maar die hele prentjie moet in ag geneem word. As jy koolhidrate uitskakel, sal proteïene of vet dit moet vervang. Beide hou risiko’s in.
Hoëproteïendiëte kan verskeie ongewenste simptome soos hardlywigheid, hoofpyn, slegte asem en ook ’n verhoogde risiko vir hartsiektes en kanker meebring.
Hoëvetdiëte werk ook nie vir almal nie. Alhoewel dit nie jou glukosevlak affekteer nie, kan te veel van die verkeerde soort – versadigde vette – insulienweerstandigheid en jou LDL-cholesterolvlak verhoog.
Verhoogde vetinname word ook geassosieer met ’n hoër risiko vir kanker en hartsiektes.
Alhoewel tipe 2-diabetes nie genees kan word nie, kan dieet en leefstylaanpassings in die vorm van gesonde koskeuses en gereelde oefening die toestand beheer.