MINKI VAN DER WESTHUIZEN word geken aan haar lag, sprankel en positiwiteit, maar dit kom nie vanself nie. Sy kiés om só te leef, ongeag…
Dis nog douvoordag. Lank voor die skool begin. ’n Elfjarige met kort blonde hare en kieriebeentjies stoot die BMX-fiets tot in die straat, reg vir die vroegoggendtaak om ekstra sakgeld te verdien. Dis tyd om koerante af te lewer.
Kaizer, ons schnauzer-hondjie, staan stertswaaiend gereed om die roete in die fiets se spore kaf te draf.
Die probleem is net, vanoggend is daar nie ’n greintjie lus in my vir hierdie besigheid nie. Pappa, wat die worsteling op my gesig sien, kom sit sy arm om my skouers. ’n Sagte kyk in sy oë.
“Sussie … as iets nie vir jou lekker is nie, dan máák jy dit lekker.”
So eenvoudig soos dit. ’n Stukkie wysheid wat my hart tóé reeds diep getref het. Woorde wat my die res van my lewe sou bybly. ’n Kopskuif.
As ’n taak soos ’n groot berg van opoffering voor jou lê, maar dit kan vorentoe iets beteken, is dit die moeite werd om deur te druk en dit so goed moontlik te doen – selfs al is dit nie nou vreeslik lekker nie.
Pappa was toe al die tyd reg. Lewensvreugde is ’n keuse; dit word nie deur omstandighede bepaal nie.
Dit beteken nie die lewe gooi nie ook draaiballe in my rigting nie. Alles verloop nie altyd reg of vlot nie.
Tyd is ’n ongelooflike kosbare kommoditeit in vandag se gejaagde lewe. Vir my is dit die grootste geskenk wat ek aan enigiemand kan gee.
Party dinge in die lewe is buite ons beheer. Daar sal altyd sulke tye wees. Aanvaar dit, kry vrede en maak dit lekker.
Daarom raak dit ook makliker om te berus by die daaglikse uitdagings waaraan ’n mens niks kan doen nie. Dit kry my nie meer so maklik onder nie, want ek besef alles vorm deel van hierdie spesifieke seisoen in my lewe; legkaartstukkies in die groter geheel.
Dit beteken nie dat ek nooit meer met tye totaal oorweldig voel nie. Dit gebeur steeds, sommer oor alledaagse, eenvoudige goed.
Afhangende van die tyd van die dag of maand, sukkel ek soms met kwaad word, geïrriteerd voel en ongeduldig wees.
Enige ma met klein kindertjies kan seker daarmee identifiseer. Die tye van min slaap, moegheid en frustrasie.
Al beleef ek ook soms terugslae en negatiewe dinge – soos snydende kommentaar in sosiale media – maak ek die keuse om op die positiewe te fokus.
Balans is ook belangrik; om tyd te maak vir my gesin en werk, maar ook om gesond te leef en te oefen.
Alles ’n keuse, verweef met genade.
Soms ervaar ek geliefdheid en begrip onder die publiek.
Maar die realiteit is dat daar ook ’n ander, slegte kant is – soos alles in die lewe. Smaak en behoeftes verskil, en dit raak veral duidelik as jy in die openbare oog leef. Nie almal gaan van my hou nie, ongeag die beste pogings en mooiste bedoelings.
Daarom het ek teen hierdie tyd besef om nie my selfwaarde op die uiterlike, die hoeveelheid likes of ander se opinies te bou nie.
Ons is elkeen die outeur van ons eie geluk. Maak die keuse. Leef dit uit.
Opsoek na soortgelyke inhoud?
Lag Maak Die Lewe Lekker – Jannie Putter